As daar een sin in die Afrikaanse taal is wat my die horries gee, is dit die volgende: 

“Kan ek jou maar ’n persoonlike vraag vra?”

Urrgh! My bloed raak koud en ek weet sommer daar is moeilikheid op pad.

Wie raak so iets kwyt? Net iemand wat moles wil maak. 

Wat volg onvermydelik as iemand (gewoonlik in ’n stroopsoet stemmetjie) jou gevra het of hulle jou “maar ek ’n persoonlike vraag mag vra”?

Twee dinge:

1. Eerste gaan hulle jou iets vra wat regtig niks met hulle te doen het nie. “Hoekom kies jy om sulke lelike meubels in jou sitkamer te hê?” “Het jy al ooit ’n dokter gevra om te kyk hoekom jou poep so stink?” “Is jy spyt oor jou tattoe?”

2. En die tweede deel is erger. As jy hulle sou vertel dat hul vraag jou geaffronteer het, gaan hulle hul oë verbaas rek, hul wip en uitwys jy het dan vir hulle toestemming gegee om die vraag te vra. 

Die frase “kan ek jou maar ’n persoonlike vraag vra” is iets wat mense net vra as hulle nie verantwoordelikheid vir hul eie swak maniere wil neem nie. Hulle wil jou beledig én jou die vark in die verhaal maak.

Nee, dankie.

Dit was nog altyd vir my die grillerigste sin.

Maar vanjaar is 2020, ’n jaar wat allerlei nuwe goggas en gruwels op die toneel verskyn het. En meteens is daar ’n nuwe frase wat dreig om my selfs meer van ’n piep te gee as “kan ek jou maar ’n persoonlike vraag vra?”

My nuwe grillerigste sin is ’n frase wat al meer algemeen word in die post-lockdown wêreld waar mense van die huis af werk en e-kommunikasie alles oorheers.

En nes “kan ek jou ’n persoonlike vraag vra” weet jy iets onheiligs broei as iemand dit kwytraak.

Dis ook ’n frase wat mense gebruik as hulle iets onvanpas wil doen, maar nie verantwoordelikheid daarvoor wil aanvaar nie. 

Dié frase is …

“Verskoon die laat boodskap, maar …”

Urrgh x 2!

Kyk of jy met een van die volgende scenarios kan identifiseer:

Scenario 1: Dis laataand. Jy gee om vir jou geestesgesondheid, so jy is teen 11h knus in die bed. Jy wil jou agt ure slaap kry sodat jy gelukkig en produktief kan wees. Jy lê lepel met jou hond. Die lewe kan nie lekkerder nie. En dan …

PIENG.

Jy rol haastig uit jou bed om te kyk wie het gesterf dat mense jou dié tyd van die nag ’n boodskap stuur. En dan sien jy die Whatsapp van ’n kliënt.

“Verskoon die laat boodskap, maar kan jy gou julle pryslys aanstuur?”

Scenario 2: Jy is ’n onderwyser. Jy is optimisties oor die toets. NIe een van die leerders het vooraf oor die werk vrae gehad nie.

En dan, 11:15, die aand voor die toets … 

PIENG. 

“Verskoon die laat boodskap, meneer, maar moet ons hoofstuk 4 ook vir die toets voorberei?”

***

Is ek oorsensitief?

Die klassieke werksdag van 9 tot 5, en die klassieke werksweek van Maandag tot Vrydag, word al sedert die ontdekking van e-pos in die 1990’s stadig weggekalwe. Maar meteens voel dit asof dit heeltemal beswyk het.

Tydens lockdown is baie mense se sin vir tyd ontwrig. Elke dag het nes die vorige dag gevoel. ’n Engelse TV-kanaal het selfs bulletins, byna soos die weerberig, uitgesaai om mense te herinner watter dag van die week dit was. As jy nooit kantoor toe moes gaan nie, dan was kantoorure seker ook irrelevant.

Maar lockdown het verby gegaan; en tog het baie mense nie na hul ou werksroetines teruggekeer nie.

In sakepublikasies word al meer geskryf oor die fenomeen “Work from home burnout”, ’n kwaal onder mense wie se werkspasie en woonspasie ineengevloei het en wat dus nooit kan afskakel nie. 

Die simptome van WFH burnout sluit in toenemende angs, depressie, ’n skerp daling in werksywer en – kontra-intuïtief – ’n afname in produktiwiteit. Soos slim mense ons al die jare lank al waarsku, is mense wat 24/7 aan werk dink en ongebalanseerd lewe, nie juis die mees doeltreffende werkers nie.

En seker die duidelikste simptoom van hierdie nuwe bestel, waar werk die laaste uitposte van jou vrye tyd gekoloniseer het, is die frase “verskoon die laat boodskap, maar …”

Ons is jare lank geleer as jou baas of ’n kliënt iets van jou vra, dan reageer jy dadelik. Dis immers professioneel. Maar jy kon vroeër jare by jou huis gaan wegkruip sodat die baas of die kliënte jou nie kon opspoor nie. En selfs mense wat jou selnommer gehad het, het uit blote ordentlikheid jou persoonlike tyd gerespekteer.

Maar nou? Wat doen jy as jou baas iets vra terwyl jy in die bad lê? Of as jou kliënt se versoeke in jou sak pieng terwyl jy Saterdagmiddag bergklim? 

***

So ruk terug het ek vertel ek wil anders lewe nou dat lockdown oor is. Ek wil die lesse van 2020 integreer en meer tyd gee aan die dinge wat my kreatief en dankbaar laat voel. Ek wil altyd, soos in die grendeltydperk, daarvoor tyd maak om soms net op my rug op die gras te lê en na die wolke te kyk.

Maar ek moet ook bieg, dis nog nie twee maande later nie en ek sukkel weer. Ek is viervoet terug in die ou normaal. Ek het meer as ’n week laas met my hond gaan stap. Ek het ophou lees. Ek bel nie meer my ma elke aand nie. Te besig om op e-posse en Whatsapps te reageer. 

“Verskoon die laat boodskap, maar …”

“Geen probleem, ek help graag …”

So ek het weer besluit om wal te gooi. Wanneer ek van die huis af werk (wat nog dikwels die geval is), gaan ek helderder grense stel. 

Hier is ’n paar van die reëls wat ek wil toepas om die “verskoon die laat boodskap”-gogga in die kiem te smoor.

1. Besin eerlik wie van jou kliënte en kollegas jy altyd tevrede moet hou en wie jy maar kwaad kan maak

Soms gaan jy waarde moet opweeg. Jy gaan moet begin dink hoeveel geld is jou vryetyd en jou geestesgesondheid werd.

Ja, jy kan elke enkele kliënt tevrede probeer hou deur dadelik te antwoord. Maar is die bykomende inkomste wat jy so kan verdien die prys werd wat jy gaan betaal in die gesondheid, verhoudings en lewensgenot wat jy gaan opoffer?

Dis nie realisties om te dink jy kan ’n SMS van jou maatskappy se uitvoerende hoof ignoreer nie. Maar daai kliënt wat jou selfoonnommer op die webwerf gekry het terwyl sy Saterdagaand die internet gesurf het en toe sommer ’n navraag gestuur het – verdien sy regtig nóú ’n antwoord.

Maak jou lysie van mense op wie jy altyd dadelik gaan reageer, hou dit kort, en gee jouself dan toestemming om die res van almal ná-ure te ignoreer totdat jou volgende werksdag begin.

Erken ook aan jouself dat jy ’n paar kliënte gaan verloor, ’n paar kollegas kwaad gaan maak en dat dit heeltemal oukei is.

2. Moenie jou werk se e-pos op jou selfoon hê nie 

Trouens, jy moes dit al vyf jaar gelede daar verwyder het. Daar is geen maar geen verskoning om dit uit te stel nie.

3. Vra jouself of enigiemand se lewe van jou werk afhang.

As jy die hoof is van die spioenasiediens en jy bestuur ’n paar agente in die veld, moet jy dalk dadelik jou foon antwoord. As jy die hoof is van ’n hospitaal se waakeenheid en jy kry ’n boodskap dat die krag daar afgeslaan het, moet jy dadelik op SMS’e reageer.

Maar as jy ’n tandarts, binneshuisversierder, zoemba-instrukteur, skeinatonderwyser of versekeringsagent is, gaan niemand dood gaan as jy hul boodskap ’n paar ure laat wag nie. 

Herinner jouself gereeld hieraan.

4. Skep rituele om jou werksdag te begin en eindig

As jy nie meer werk toe pendel nie omdat jy nou van die huis af werk, moet jy steeds ’n manier kry om jou brein duidelik te laat verstaan dat die werk-deel van jou dag begin het en later weer afgehandel is. Dan sal jy weet waar die grens tussen werktyd en die res lê.

Vir my is dit eenvoudig: Wanneer ek naskeermiddel in die oggend aansit, begin my werkdag. Dan kan ek e-posse antwoord, op professionele navrae reageer, sake doen. Maar sodra ek aandete begin maak het, is werk verby. 

Watter rituele merk die begin en einde van jou werkdag?

5. Gebruik jou e-pos se “out-of-office”-funksie beter

In die ou dae was die out-of-office-funksie iets wat jy net aangesit het as jy op vakansie gaan. 

Nou moet dit iets wees wat daagliks inskop. Sit iets op jou e-posprogram wat ná vyfuur smiddae uitgestuur wrod en mense laat weet jy antwoord net in kantoorure e-pos. 

Dis ook goeie verhoudingsbestuur. Dit sal hulle ook help verstaan hoekom die boodskap wat hulle die aand 21h gestuur het nie dadelik ’n respons ontvang het nie.

6. Sit jou persoonlike aktiwiteite in jou dagboek

Jou dagboek is ’n wonderlike ding. Dit raak baie moeilik om dinge te ignoreer as dit daar swart op wit staan.

So sit jou meditasie, die hond se stappie, die kind se badtyd, jou stokperdjie, hel selfs vryery met jou eggenoot in jou dagboek. 

Dit sal jou herinner dat dit net so belangrik as die res van nou verpligtinge is.

7. En laastens: Maak seker jy is nie self die drol in die drinkwater nie

As jy jouself ooit betrap dat jy vir iemand ’n boodskap stuur wat begin met die woorde “verskoon die laat boodskap, maar …” stop net daar. 

As jy weet dis te laat vir die boodskap, hoekom stuur jy dit hoegenaamd?

Ek wed jou dit kan tot môre wag.

Wil jy regtig die tipe mens wat ander mense geïrriteerd laat sug as hulle ’n boodskap van jou ontvang?

***

Ek is nogal happy om te kan deel ‘n hele klomp mense het die afgelope week op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blokkie-1-copy.png

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: