Wie is ek?

Hallo, 

My naam is Johannes de Villiers. Ek dra ’n paar hoede:

Meditasie-instrukteur: Ek leer mense om die geraas in hul kop so bietjie tot bedaring te bring en beter op die wêreld rondom hulle te fokus. Ek leer en beoefen al sedert 2000 meditasie en bewuste teenwoordigheid (mindfulness) en is deur ’n Zen-meester, Heila Downey, opgelei om die tegniek vir ander mense ook te leer. Ek het ook al in die VSA, Nederland en Mianmar opleiding in meditasie ondergaan. In Bloemfontein, waar ek woon, bedryf ek ’n paar stilwordprogramme, terwyl ek gereeld oor die land heen (en in enkele gevalle in die buiteland) meditasiewerkwinkels aanbied.

Blydskapnavorser: Voorts is ek die aanbieder van ’n radioprogram op RSG oor die positiewe sielkunde. In dié program, Vol Vreugde (voorheen Die Blydskapnavorser), kyk ons wat die wetenskap ons oor blydskap leer. Ek het al drie boeke oor die onderwerp geskryf, waarin ek die verhale van blymoedige mense vertel en verduidelik wat ons by hulle kan leer. Burgerlike organisasies en sakefirmas nooi my gereeld om by hulle praatjies oor blydskap te kom lewer, en ek geniet dit altyd baie om mense te vertel watter wonderlike impak dinge soos dankbaarheid, geduld en verwondering op ons lewe kan hê.

Skrywer: Daar het reeds vyf nie-fiksie boeke uit my pen verskyn, meestal oor bewuste teenwoordigheid en positiewe sielkunde. Onlangs het ek egter ook ’n roman gepubliseer: Op pad na ’n klooster in die sneeu het by Human & Rousseau verskyn en gaan oor die ou wêreld van Katolieke monnikeordes en die kloosterlewe. Gevolglik gesels ek deesdae baie graag met mense (dié wat belangstel) oor Middeleeuse teologie en die Rynse mistiek.