Daar is ’n vreeslike ding in omloop, ’n nuwe sielkundige toestand, ’n psigopatologie. Mens noem dit … post-lockdown skuldgevoel.
En wat is post-lockdown skuldgevoel?
Dis die deel van jou wat skuldig voel omdat jy meteens besef jy gaan na lockdown verlang.
Dis daai gevoel as jy met die aankoms van level 2 agterkom jy is nie heeltemal lus om terug te keer na normaal nie. Jy besef jy het so half gewoond daaraan geraak om heeldag by die huis rond te skuifel, om jouself met Netflix en boeke geselskap te hou, om jou hond heeldag te sien, om op snaakse tye te kan oefen, om snags in die tuin te piepie. Jou alleenheid en afsondering was ‘n winterkombersie waarin jy van die harde wêreld kon wegkruip en jouself versorg.
En nou moet jy weer normaal wees. Nou is daar weer kantore, kliëntedramas, pendelverkeer.
Jy voel bietjie skuldig daaroor. Lockdown was so ’n ramp, dit het soveel mense se lewens verwoes en dit het die land soveel langtermynskade berokken – hoe kan jy na lockdown verlang? Hoe kan jy sê jy gaan iets mis wat so vreeslik was?
Post-lockdown skuldgevoelens is natuurlik nie algemeen onder mense wat in plakkershutte of hoëdigtheidsbehuising woon nie. Hulle is seker maar te bly om uit die huis weg te kom.
Maar ek is gelukkig om ’n ruim huis te hê, met ’n stoep waarop ek sedert Maart elke dag rustig kon sit en lees, en twee honde om snags met my lepel te lê.
Dis goed lockdown is oor – dalk kan ek nog probeer om my besigheid te red.
Maar ek gaan lockdown desondanks mis.
Dalk dink jy ek praat twak. Of dalk kan jy met post-lockdown skuldgevoel identifiseer. En as laasgenoemde die geval is, het ek ’n voorstel: Vra jouself wat spesifiek is dit van lockdown wat so lekker was?
Ek onthou die eerste weke van lockdown (laat-Maart en vroeg-April) was aaklig. As tipe A-persoonlikheid ek het meteens nie geweet wat om heeldag by die huis te doen nie. Maar hier teen week drie het ek ’n roetine gevind. Ek het goed begin doen wat ek seker 20 jaar laas gedoen het en wat my baie vreugde gee. Ek het klippies geverf. Ek het Franse stories vertaal. Ek het gemorsprogramme op TV gekyk. Ek het lank en innig my hond se magie gekrap. Ek het my ma elke aand gebel.
Lockdown het my en jou op die skouer kom tik en kom sê: “Hei, onthou wie jy is! Onthou al die goed wat jou gelukkig gemaak het voordat jy so besig geraak het! Onthou hoe dit voel om aan jou siel aandag te gee.”
So my plan is om na lockdown se boodskap te probeer luister.
Ek gaan seker maak lockdown was nie verniet nie.
Ek gaan die klein goedjies waarmee ek my siel tydens lockdown gevoed het aan die gang hou. Die stokperdjies. Die vriende wat belangrik genoeg was vir ’n video call. Die daaglikse oproepe na my ma. Ek gaan voortaan dié goed prioritiseer soos wat ek my werk en my geldsake voor lockdown geprioritiseer het.
Hoekom doen jy nie dieselfde nie? Skryf nou vir jou ’n lys van die dinge wat jou die afgelope weke gelukkig gemaak het toe daar nie drank of sigarette of vakansies of danspartytjies was nie. Bêre dit iewers. Loer soms na daardie lys. Maak dit deel van jou lewe.
Dit het ’n lockdown gevat om jou te herinner wie jy is. Moenie dat dit alles verniet gebeur het nie.
Op Donderdagaande gesels ons op Facebook Live oor blydskap. Oorweeg dit om jou by ons aan te sluit:
As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my (johannes@blydskap.com) bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in.
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.