Ek is nie bygelowig nie. Ek meen entstowwe werk. 5G is waarskynlik nie gevaarlik nie. Adam en Eva was nie regte mense nie.
Net oor so een of twee dinge is my idees aweregs.
Ek sukkel om te glo daar was regtig mense op die maan. In 1969 kon hulle skaars ’n motor bou wat van Johannesburg tot Kaapstad kon ry sonder om met ’n pap band of iets te gaan staan. Ek sluk swaar daaraan dat mense 384 000km ver gevlieg, netjies geland, rondgeloop, weer liggies opgestyg en veilig op aarde geland het. Ek is oop vir oortuiging, maar dit gaan nie maklik gebeur nie.
Reïnkarnasie is waarskynlik nie waar in die sin dat ek of enige van my lesers Jan van Riebeeck of Sara Baartman was nie, maar ek meen wel lewe word waarskynlik gerecycle en as jy daai recycle-proses van tyd en ruimte losmaak, is dit heel moontlik dat almal wat ooit gelewe het, dieselfde persoon is. Ek het dit een keer op Litnet beter verduidelik.
EN DAN: Ek doen elke jaar my syfertjies.
Syferwiggelary of numerologie is ewe wetenskaplik as die sterrerubriek of die tannie wat teeblare lees, maar toe ek ’n jong student was, het ’n hippievriendin my geleer om dit te doen en sedertdien is dit ’n stokperdjie wat ek vir die lekkerte doen.
Jy neem elke jaar die jaartal en jou geboortedatum en doen dan ’n berekening (ek is nou die lui om die hele proses te verduidelik) en dan kom jy af op ‘n syfer tussen 1 en 9. Daai syfer bepaal dan wat jou tema vir die jaar gaan wees. ’n 3-jaar is byvoorbeeld een met goeie sosiale energie, ’n 8-jaar is goed vir geld en status, ensovoorts. Ek begryp ek moet van beter weet, maar ek doen dit net vir die lekkerte, so skei uit.
’n 7-jaar is ’n geestelik jaar. Die eerste 7-jaar wat ek wetende binnegegaan het, was 2002 toe ek in die klooster in Mianmar gaan bly en my mentor-non Daw Poenjanandi ontmoet het. Als was ooglopend geestelik en het volgens plan verloop. Maar my ander twee geestelike jare was 2011 en 2020 en nie een van hulle het so lekker afgeloop nie.
Mens dink ’n geestelike jaar moet op die deuntjie van harpmusiek verloop; dat ’n groot kalmte oor jou moet kom en jy elke aand veilig in die troos van jou Saligmaker se beskerming moet gaan slaap. Maar in my ervaring is dit nie so nie.
Om na 2011 te kyk – my koerantloopbaan het op einde geloop, ’n projek waaraan ek jare gewerk het, het gefaal, en persoonlik was daar vele terugslae. Nou is 2020 my volgende geestelike jaar, en wel … ek is seker jy sal kan identifiseer .. it’s not looking so good.
In 2011 het ek eers toe die jaar verby was terugskouend besef dat die geestelikheid van daardie jaar nie harpmusiek was nie, maar eerder die proses waardeur ek deur die lewe aan flarde geruk is en van voor af moes leer ken wie ek was. Ek moes leer dat geestelikheid nie ’n besoek aan ’n spa is nie, maar ’n pynlike proses waarin jy met jou monsters gesels. Ek wonder vir hoeveel mense is 2020 in dié sin ’n geestelike jaar.
Ons Afrikaanse mense is baie lief vir die woord “troos” en vir baie mense is troos die hele punt van spiritualiteit. Op begrafnisse moet die dominee ’n bietjie “troos” bring. Een van die gereformeerde belydenisskrifte (moenie my vra watter een nie) begin deur ons van ons “troos” in die lewe te vertel. Maar wat as spiritualiteit (in die breedste sin bedoel) eintlik nie vertroostend moet wees nie? Wat as die Skepping God se oomblik van waansin was waarin ’n ordelike en vreedsame kosmos deur ’n oerknal aan flarde geruk is? Wat as geestelikheid is om aan ’n kruis gespyker te word of om op dorings te dans of in ’n Indiese oerwoud soos ‘n boemelaar te mediteer? Wat as spiritualiteit nie is om vertroos te voel nie, maar eerder om bang en kwaad en onseker en eensaam te voel en nogtans deur te druk. Dis laataand dat ek hierdie tik, dalk maak ek nie sin nie.
Maar daar was onlangs so video van ’n gelowige akteur wat sy volgelinge op sosiale media uitskel omdat hulle nie gelowig genoeg in die aangesig van die coronavirus en die komende depressie is nie. “Hoe kan julle bang wees in hierdie tye, waar is julle geloof?” het hy geskel.
Ek ken nie die man nie en hy het seker ook sy rede vir wat hy sê, maar ek is so benoud ons gaan mekaar probeer shame om in hierdie tyd nie bang en skuldig en kwaad en al daai natuurlike dinge te voel nie, en mekaar probeer troos, probeer maak of als oukei is. Ek is so bang in ‘n tyd as als uitmekaar val, gaan ons nie eens vir mekaar en vir onsself toestemming gee om ordentlike mislukkings te wees nie.
Dit voel vir my asof ons die afgelope dekades, veral hier sedert die 1980’s in die tydperk van massamedia, massakonsumpsie, massa-inkopiesentrums, massa-dit en massa-dat, en sosiale media, ’n samelewing geraak het wat die lewe se waarde aan sukses koppel. Jy moet die mooiste en die vinnigste en die rykste wees om waarde te hê.
Selfs kerke (sowel van die Christelike of die New Age-soort) meen hul waarde is gekoppel aan hoe groot hul geboue is of hoe groot hul lidmaatgetalle. Mediteerders dink hul waarde is gekoppel aan hoe lank hulle kan stilsit. Joga-mense dink dit gaan oor hoe ver hulle hul voete agter hul kop kan kry. Mindfulness word verkoop as iets wat jou by die werk meer produktief gaan maak en jou huweliksprobleme gaan oplos.
Om soms (dikwels?) te misluk, is ’n normale en selfs kosbare deel van die lewe, maar ons huidige kultuur van Instagram, motiveringsprekers en charismatiese spritualiteit maak weinig ruimte daarvoor – als word weggewens met frases soos “this too shall pass” of “als gebeur om ’n rede”, so asof ons vir ons swak plekke skaam moet wees of dit ongeduldig verby moet wens. Baie slegte dinge gaan nie verby nie en baie nare dinge gebeur sonder ‘n rede en sonder dat daar enige les uit te leer is. Om dit te erken is een van die mees bevrydende ervarings wat mens kan belewe.
Vir my is die waarde van meditasie dat ek ’n halfuur in my dag kan inruim, stil kan sit, my hart oop kan maak en vir myself kan sê dis nou, vir hierdie tien minute, oukei om nie oukei te wees nie. Dat ek nie oukei hoef te wees om waarde te hê nie. Ek kan maar onsuksesvol en lelik en dom en aandagafleibaar (en binnekort arm) wees en my lewe het steeds waarde, daar is steeds skoonheid selfs in die meer ellendige dele van my bestaan.
Elkgeval, as jy tot hier gelees het, ek dink coronavirus gaan ons nou dwing om op ’n ander manier aan spiritualiteit te dink. Want baie van ons gaan nou moet voel hoe dit voel om onsuksesvol en bang te wees, en jy gaan dit net so lank kan wegwens, iewers gaan jy hierdie goed in die oë moet kyk. Moet dit nie met troos probeer toesmeer nie. What a waste of a pandemic!
***
Op Donderdagaande gesels ons op Facebook Live oor blydskap. Oorweeg dit om jou by ons aan te sluit: