Hoekom is dit belangrik om die regte nuus te lees? –

As die eienaar of bestuurder van ’n sakeonderneming moet jy jou besluite op nugtere en realistiese nuus baseer. As jy egter die verkeerde nuus lees, stories wat byvoorbeeld ’n onnodig droewe prentjie van die toekoms skets, kan jy maklik die verkeerde besluite neem.

Jy is voorts ook ’n mens wat vir jou eie emosionele en sielkundige welsyn verantwoordelik is. So jy moet uitvind watter nuus ontwerp is om jou stres, angs en depressie te vererger, en dan daardie nuus uitsny.

So hoe gemaak?

Voorheen het ek al geskryf oor die “geraas in jou kop”. Dis die negatiewe stories wat jy oor-en-oor vir jouself herhaal en wat jou teen die mure uitdryf sonder dat dit iets positief tot jou lewe byvoeg. Daar is ’n paar maniere hoe ons die geraas in ons kop vererger, en dis belangrik om ook te kan raaksien wanneer nuusstories dieselfde ding doen:

1. Katastrofering

Ons het die neiging om dikwels vir onsself te wil afvra “wat is die ergste ding wat kan gebeur” en dan eindeloos daaroor te tob. As jy snags in jou bed lê en dink oor hongersnood, egskeiding, moord en doodslag, dan katastrofeer jy. Party nuusbronne katastrofeer ook – hulle vertel jou net altyd die ergste nuus. Dit bemagtig jou nie, dit lê jou lam en skep boonop ’n onrealistiese swartgallige prentjie van die werklikheid.

In nuuskantore word daar elke oggend ’n nuusvergadering van joernaliste gehou waarop hulle besluit watter stories daardie dag nagevors en geskryf gaan word. As ek ’n nuusstorie sien, probeer ek myself altyd afvra wat die joernaliste op die nuusvergadering gesê het toe dié storie bespreek is.

a. “Dis ’n belangrike storie met praktiese inligting wat ons lesers/kykers kan gebruik.” In so geval kan jy gerus die berig lees.

b. “Hierdie storie gaan die mense lekker aan die praat kry.” In so geval wil die skrywers net stir en jou kwaad maak. Vermy die berig.

Kortom, lees nuusbronne wie se doel dit is om jou in te lig eerder as om jou bang te maak deur altyd die worst case scenario te beklemtoon. Nee, Bheki Cele gaan nie regtig drank permanent verban nie en nee Amerika is nie regtig op die rand van ’n burgeroorlog tussen die Demokrate en Republikeine nie. Bedaar.

As die opskrif jou vertel daar “kan tot” x aantal sterftes wees of “so veel as” x mense is werkloos dan weet jy jy lees ’n worst case scenario.

2. Toekomsvoorspellers

Die gemiddelde joernalis of politieke ontleder weet net so min as ek en jy wanneer ‘n entstof teen Covid-19 gevind gaan word, wie die Amerikaanse verkiesing gaan wen en of die komende hongersnood tot ’n burgeroorlog gaan lei. So loop lig vir nuusstories en kommentare wat die toekoms wil voorspel.

BELANGRIK: Vermy “kenners voorspel”-berigte veral as die “kenner” ’n koerantjoernalis of ’n politieke wetenskap-professor is, hulle het geen binne-inligting waaroor jy nie self ook beskik nie.

As 2020 ons een ding geleer het, is dit dat niemand die toekoms kan voorspel nie, so vat dit dag vir dag en lees berigte wat jou bemagtig om nugtere en realistiese besluite te neem.

3. Gedagtes lees

Niemand kan ander se gedagtes lees nie. Jy weet nie hoekom jou buurvrou vir jou gefrons het of hoekom jou kind so stil is of hoekom die hond nie wil kom speel nie. Dalk het hulle ’n hoofpyn of ’n eksistensiële angsaanval, so hou op om te wil raai wat hulle dink. “Hy is seker kwaad vir my”, “Sy haat my oor my velkleur”, “Hy is nog suur oor wat ek verlede week gesê het” is als pogings om mense se gedagtes te lees. Dit is 90% van die tyd verkeerd.

Net so het verslaggewers geen manier om te weet wat Cyril Ramaphosa en minister Zuma in die privaatheid vir mekaar sê nie. Niemand weet wat Donald Trump se geheime planne is nie. Niemand weet regtig wat in Peggy Sparrow se lewe aangegaan het toe sy gesê het wat sy gesê het nie. Niemand weet regtig of daar ’n verskuilde rassehaat agter die regering se BEE-vereistes lê nie. So hou op om motiewe en binnegedagtes aan ander toe te skryf.

Berigte wat jou van presidente of ministers se “ware motiewe” of slinkste planne vertel, is gewoonlik uit iemand se duim gesuig en nie die moeite werd om te lees nie.

Laastens moet mens ook natuurlik noem enige berig wat die frases “storm op Twitter” of “herrie op sosiale media” bevat moet geïgnoreer word en die publiseerder daarvan moet as straf vyf dae ná die tyd geboikot word.

Nuus is baie belangrik en ek hoop julle lees goeie nuusbronne. Moet seblief nie hier comments lewer oor watter spesifieke nuusbronne jou pla nie, almal kan vir hulself besluit wat hulle graag lees of nie.

Laat ek egter op ’n positiewe noot afsluit:

Elke keer as Cyril Ramaphosa praat, dan volg ek die gesprek en die daaropvolgende verduidelikings op Netwerk24. Dis nie net omdat ek vir hulle potgooi nie, ek vind die dekking van die president en ministers se aankondigings daar saaklik, nugter en bemagtigend.

Ek het ook geen probleem met ’n bietjie skindernuus in Huisgenoot nie. Ek haal my hoed af vir hoe daardie tydskrif (’n oudwerkgewer van my) altyd probeer om by stories ’n paar wenke en realistiese raad in te sluit oor hoe mens jou lewe beter kan lewe.

Almal maak foute, geen publikasie kry dit altyd reg nie. Boonop sal daar altyd lesers wees wat eerder kwaad as ingelig wil wees, en solank sulke lesers bestaan, sal daar publikasies wees wat hulle dien. Maar dis jou taak om te besluit watter nuus die beste in jou behoeftes voldoen.

***

Op Donderdagaande gesels ons op Facebook Live oor blydskap. Oorweeg dit om jou by ons aan te sluit:

Deel met vriende: