In die roman “Locos” deur die Spaanse skrywer Felipe Alfau vertel hy die storie van ’n vrou wat op die dood verlief was. 

Doña Micaela Valverde, oor wie die storie gaan, het altyd so swart soos ’n kraai aangetrek en haar gesig was so wit soos ’n spook. Sy was nie noodwendig iemand wat die lewe gehaat het nie, sy was net baie lief vir die dood. In die oggende het sy na die koerant se sterfberigte geblaai om te sien watter begrafnisse die dag in haar stad plaasvind en dan het sy dit bygewoon. Soms het sy gemaak of sy die oorledene geken het, veral as dit ’n oopkisbegrafnis was, want dan kon sy langs die lyk gaan staan en met haar vingers aan sy koue wange voel of haar vingers deur sy lewelose hare stryk.

Wanneer sy aan ’n dooie mens geraak het, het sy haar oë van lekkerkry toegeknyp.

Doña Micaela Valverde was so lief vir die dood dat sy elke jaar drie maande lank dood gegaan het. Sy het haarself in die slaapkamer van haar groot herehuis toegemaak, die bediendes verbied om die vertrek binne te kom, geen water of kos oor haar lippe geneem nie, en leweloos, sonder hartklop of asemhaling, bly lê. Ná die drie maande het sy dan weer uit die kamer te voorskyn gekom, met ’n stralende uitdrukking op haar gesig asof die dood haar verfris het. Sy het nie tydens die drie maande hemel toe gegaan of visioene van tonnels en ligte gesien nie, sy was dood, dood, salig dood.

Op dié punt sal baie mense dink nee siesa, ek is maar net te bly ek ken nie enige sulke morbiede mense nie. 

Maar wag!

Die storie neem ’n wending. Op ’n stadium kom ondersoek ’n beroemde Spaanse dokter vir Doña Micaela Valverde terwyl sy in haar drie maande lange koma is.

Mense wil weet hoekom sy dan nie ontbind nie. As sy dood is, moet haar tande mos uitval, haar vel moet kwyn en sy moet begin ruik na ou vleis wat iemand in die yskas vergeet het. 

Maar niks hiervan gebeur met Doña Micaela Valverde nie. Wanneer sy uit haar drie maande lange afsterwe ontwaak, lyk sy so goed soos nuut.

Die geëerde dokter José de los Ros kom met ’n fassinerende verklaring vorendag: Sy kan nie ontbind nie, want ontbinding is eintlik die begin eerder as die einde van die lewe. Iets wat ontbind, gaan nie dood nie, dit begin juis weer lewe. En Doña Micaela Valverde is gans te lief vir die dood.

Let me explain.

Ons neig om aan die dood te dink as iets wat aan die einde van ’n lewe staan. Maar ons vergeet dat daar ook altyd dood aan die begin van die lewe is. Maar daardie tweede soort dood – die dood waaruit ’n lewe ontstaan – moet volledig wees: jy kan nie net halfpad doodgaan en poer-poer nie, jy moet afsterwe en vergaan.

Vir ’n plant om te kan groei, moet iets anders eers in die grond doodgaan, ontbind en in kompos omskep word.

Vir ’n dier om te groei, moet een of ander plant eers doodgemaak word, deur die dier opgekou, insgesluk, verteer en in energie omgesit word. 

Al ons kos is eintlik iets wat eens geleef het, maar toe uitmekaar moes val sodat ons daaruit lewe kan kry.

As niks doodgaan en ontbind nie, kan die volgende generasie lewe van nêrens die energie kry om aan die gang te kom nie.

Maar vir daai nuwe lewe om te begin, moet iets nie net doodgaan en leweloos begin lê soos Doña Micaela Valverde nie, dit moet ook ontbind en verval. Dit moet morsig raak. Dit moet ophou bestaan. Dit moet disintigreer.

Arme Doña Micaela Valverde was net lief vir die eerste deel van die dood. Omdat sy nie haar lyf en haar ingewande en als heeltemal toegelaat het om te ontbind nie, kon geen nuwe lewe ná die dood begin nie. Haar dood was ’n doodloopstraat, ’n ewige afsterwe sonder hoop.

***

Ek voel soos een van daai charismatiese predikers wat sy oë halfpad deur ’n preek toeknyp en sê “Daar is vandag iemand hier wat sukkel met nierstene” of “Daar is ’n man in die derde ry wie se vrou hom gelos het.” 

Hier is wat ek vandag vermoed: Daar is iemand wat hierdie stukkie lees wat in die laaste dae, weke of maande deels doodgegaan het. Jy het miskien nie heeltemal ophou lewe nie, maar ’n stuk van jou lewe het afgesterf. Dalk jou werk, dalk jou loopbaan, dalk die huis wat jy nie meer kan bekostig nie, dalk jou verhouding, dalk net jou ou gewoontes of die ou beeld wat jy van jouself gehad het. 

Jy voel leeg, soos ’n slang wie se vel afgeval het of ’n slak sonder sy dop. Jy is broos, kaal en bang. Jy rou oor dinge wat verby is voordat jy wou hê dat dit verby moes wees.

Maar nou gaan ek iets baie belangrik sê: As jy in die eerste deel van die dood vashak, gaan jy soos arme Doña Micaela Valverde nooit weer lewe nie. Nee, jy moet volledig in daai dood inleun eerder as om dit net halfhartig te doen.

Jy moet daai stuk van jou lewe laat ontbind.

Jy moet daar stuk van jou lewe laat wegkwyn.

Jy moet dalk selfs ’n vuur in jou agterplaas maak en jou verbeel dat jy jou ou lewe weg  laat brand.

En dan kan daar ruimte wees vir iets nuut om te ontstaan. 

Dié raad sal nie vir almal werk nie. Maar ek het ervaar toe ek die laaste weke ’n baie groot deel van my werkslewe moes laat vaar. Ek kon nie gelyk vasklou aan wat verby is én ’n nuwe lewe begin nie. Ek het opgehou om my ou lewe futiel aan die gang te probeer hou en die gevolg was dat daar in my gemoed nuwe ruimte ontstaan vir kreatiwiteit en energie vir ’n nuwe lewensfase.

So doen ’n oudit: Wat het jy die laaste maande verloor? Kan jy dit weer terug kry? Indien nie, is dit dalk nou die tyd om dit volledig te laat gaan. Hou op om aan iets vas te klou wat nie meer lewe het nie. Laat dit verval. Laat dit disintigreer. Skep ruimte vir iets nuut om jou lewe binne te kom. Maak jouself vry sodat jy nuwe geleenthede kan raaksien en jou energie kan bestee aan dinge wat die potensiaal het om te groei.

Mens kan nie verseker weet wat die toekoms inhou nie. Dalk is die toekoms baie rof. Of dalk is die toekoms baie lekker. Enigiets kan gebeur.

Maardaar is minstens ’n kans – selfs al is dit nie 100% nie – dat die nuwe lewe wat wag ’n baie goeie een kan wees.

Maak dit sin wat ek probeer sê?


Teken in vir die gereelde Blydskap-nuusbrief deur hier te klik.

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad “Blydskap” (www.facebook.com/blydskap), waar ons elke Donderdagaand vanaf 27 Augustus 2020 om 6nm oor een van die hoofstukke uit Blydskap, deur Johannes de Villiers, gesels.

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: