Gewoonlik kondig mens op Oujaarsaand jou nuwejaarsvoornemens vir die hele wêreld aan, en dan sit jy twee weke later met ’n rooi gesig wanneer jy van die wa af val en die mense jou vra hoekom jy dan nou weer rook of brood eet of wat ook al.
Vanjaar het ek besluit om my voorneme eers twee weke lank vir ’n toetsrit te vat en dan te rapporteer of dit werk.
Die goeie nuus is dit werk. So laat ek vertel.
Baie mense ween die laaste ruk oor hoe 2021 ’n jaar van swak geldsake en beperkte werkgeleenthede gaan wees. Dus het ek besluit om vanjaar die produktiefste jaar ooit te maak.
Daarvoor span ek Cal Newport se stelsel van “diep werk” in.
Dalk het jy al van die verskynsel diep werk gehoor. Ek het in Kalmte in die Malle Gejaag ’n hoofstuk daaraan gewy, en Newport het ’n hele boek, Deep Work, daaroor geskryf.
Die beginsel is om multitasking en afleidings tot ’n absolute minimum te beperk.
Jy het dalk al die navorsing gesien wat vertel dat mense in ’n dag van agt ure se werk meestal net so twee ure werklik produktief is. Hoekom so? Want hulle is pal besig om na hul foon te loer, gou kafeteria toe te draf, oor en oor e-pos te lees, met iemand in die kantoor langsaan te gesels, of stukkies admin af te handel wat hulle van die regte produktiewe werk weghou. Die Engelse noem dit “busywork”.
Ek is seker jy ken die gevoel om ná ’n dag van agt ure op kantoor huis toe te ry en nie mooi te weet wat jy vandag uitgerig het nie, selfs al was jy heeldag besig.
Diep werk is om genadelose grense te stel wat “busywork” uitskakel.
Hier is hoe dit werk.
- Besluit watter taak is daar wat die kern van jou werk is, die een wat jou volle aandag verg en die meeste van jou inkomste genereer.
- Kies dan ’n stuk ononderbroke tyd wat jy uitsluitlik daaraan wil afstaan. Dit kan drie ure wees, vyf ure, of agt ure, afhangend van die aard van jou werk.
- Merk in jou dagboek hoe laat daardie tyd begin en hoe laat dit klaar gaan maak sodat jy presies wees wanneer jy tydperk van “diep werk” geld.
- Berei vir daardie tyd voor deur alle afleidings uit die weg te ruim. Sit jou foon op Do Not Disturb. Log uit jou e-pos en jou sosiale media-rekeninge. Maak nuuswebwerwe op jou rekenaar toe en hou hulle toe. As jy van die huis werk, kan dit selfs oorweeg om jou wifi tydelik af te skakel. As jy in ’n kantoor werk, kan jy ’n kennisgewing op plak wat sê hoe laat jy weer beskikbaar sal wees. Maak ’n fles vol koffie en sit dit op jou lessenaar sodat jy nie kombuis toe hoef te gaan nie.
- Besluit vooraf presies watter geldige redes daar sou wees om van jou lessenaar of werkstasie op te staan. Eintlik hoef jy net op te staan om toilet toe te gaan. En as jou sessie lank genoeg is, dalk ’n vinnige ete halfpad deur, waartydens jy nie na jou foon gaan kyk of e-pos gaan antwoord nie. (Ek sweer die volgende is die waarheid: ek het al ’n man ontmoet wat ’n kateder aan sy blaas laat koppel het sodat hy nie van sy lessenaar hoef op te staan om te gaan piepie nie, maar ek dink dit is bietjie te drasties.)
- En dan werk jy. Sonder om op te kyk. Sonder om te bel. Sonder om tussendeur stukkies “busy work” te doen.
Dit klink dalk voor die hand liggend. Maar oor die algemeen werk ons glad nie so nie. Ons is so tien minute in ’n taak in, dan onthou ons skielik die swembad moet gebackwash word. Of ’n kliënt moet terug gebel word. Of jy skuld iemand ’n bedankingsbrief. En meteens is jou fokus in sy moer.
Diep werk word vir geen rede op aarde onderbreek nie.
’n Baie belangrike deel van hierdie metode is om ’n stuk papier en pen byderhand te hou. As jy skielik onthou van ’n belangrike e-pos wat jy moet skryf of iets wat jy aan ’n kollega moet kommunikeer of klere wat uit die wasmasjien gehaal moet word, dan maak jou op die papier ’n aantekening en vergeet daarvan. So word die vloei van jou werk nie verder onderbreek nie. Wanneer jou gestipuleerde sessie diep werk afgehandel is, kan jy die take op jou papier almal afhandel.
(Jy gaan soms vind wanneer die tyd vir dié lysie aanbreek, voel al daai takies meteens nie meer vreeslik belangrik nie – eintlik was hulle net die duiwel se manier om jou aandag van jou diep werk weg te lei.)
Dissiplineer jouself ook om nie tydens jou diep werk gou vinnig op CNN na die hoofopskrifte te gaan loer of op jou selfoonskerm te kyk of daar Whatsapps wag nie. Daai vinnige kykie word baie vinnig ’n honderd kykies wat jou in die digitale wêreld insuig, en kort voor lank is jy weer terug by jou ou werkwyse.
As jy gelukkig is om ’n skrywer of navorser of statistikus of so iets te wees, kan jy waarskynlik jou volle werkdag se agt ure aan diep werk wy. Vermoedelik gaan jy vind jy is soveel meer produktief dat jy jou gewone werkdag se lading binne vyf ure afhandel.
Maar wat as jy ’n bestuurder of so iets is, of jy werk in kliëntediens? Dan is diep werk dalk nie sodanig die ideale werkwyse vir jou nie. Ek sou jou egter wel aanmoedig om jouself af te vra of daar take in jou dag is wat wel jou ononderbroke aandag verg. Dalk moet jy verslae skryf. Of lone bereken. Of fakture tik. Daardie tipe goed is meestal onaangenaam, so ons onderbreek die taak die hele tyd deur pal op sosiale media of in ons inboks te loer, met die gevolg dat die onaangename taak baie lank uitgerek word. Probeer ’n bietjie “diep werk” – sit ’n uur opsy vir daardie verslag of daardie fakture, kry dit ononderbroke afgehandel en dis tjoef-tjaf klaar.
Een van my gunsteling stories oor diep werk gaan oor ’n kennis van Newport wat dringend die manuskrip van ’n boek moes afhandel. Hy kon egter nêrens vind waar hy ononderbroke kon werk nie. Gevolglik koop hy toe ’n tweerigting-vliegkaartjie na Tokio, sit die ses ure op die vliegtuig na Japan en werk ononderbroke, drink ’n espresso op Tokio se lughawe, en vlieg weer terug vir nog ses ure se ononderbroke werk.
Jy hoef nie sulke drastiese stappe te neem nie. Deesdae werk baie mense van die huis af – dis die ideale omgewing vir diep werk. Mits jy die versoeking kan weerstaan om in die yskas te gaan loer of met die hond te gaan speel.
Ek is nou twee weke hiermee besig en kan bevestig ek rig in ’n week soveel uit soos ek vroeër in ’n maand sou doen.
Volgende gaan ek probeer om die konsep na ander areas van die lewe uit te brei:
“Diep kuier” sal behels dat jy met vriende kuier sonder enigiemand se fone in die vertrek. Julle sit ’n tyd opsy, geen onderbrekings word toegelaat nie, en julle is volledig vir mekaar teenwoordig.
“Diep lees” sal behels ek sit ook my foon en sosiale media af as ek ’n boek lees. As mens net die onnodige gevroetel met jou selfoon uitskakel of ophou om elke twintig minute jou e-pos te wil gaan lees, kan jy maklik ’n boek per week deurlees.
So ja. Het jy al diep werk probeer? Indien wel, laat weet. Tot dusver geniet ek dit terdeë. Dalk maak ek dit ’n leefstyl.