Toe ek ’n tienerjarige was, het ek met die gedagte geflankeer om by die Katolieke Kerk aan te sluit. Ek het nie veel van die Katolieke geloof geweet nie, buiten dat daar ’n fraai klipkerkie in Van der Lingen-straat was waar die Katolieke Sondagaande diens gehad het en dat hulle kerse gebrand en lang rokke aangetrek het, wat als veel interessanter gelyk het as die NG Kerk se onopwindende byeenkomste. Die Katolieke het ook monnike gehad, was half Middeleeus en het soms Latyn gepraat, wat als my belangstelling verder geprikkel het.
Later jare, toe ek uitvind wat die Katolieke presies nou eintlik als glo, het my belangstelling vinnig opgedroog. Maar een ding wat ek uit daardie dae oorhou, is my voosgeblaaide, byna vergeelde ou eksemplaar van die Heilige Thomas à Kempis se Imitatio Christi.
Ek was so 18 en nogal morbied – die soort outjie wat ook Franse eksistensialisme gelees het, saans Chopin se dodemars geluister het en glad nie so tjirpie was soos wat ek vandag is nie. Iewers het ek ’n eksemplaar van Thomas à Kempis se boek in die hande gekry en begin om dit snags te lees voordat ek gaan slaap het.
Thomas à Kempis was ’n sielige ou monnik wat in die 14de eeu in Nederland gewoon het en ’n handleiding vir ander monnike geskryf het oor hoe hulle moet leef. Dit was alles baie bedrukkend en morbied, en juis daarom het dit my nogal aangegryp. Ek onthou ek het my boek soms vir ander mense geleen, maar dan het hulle dit altyd oorbluf vir my teruggegee en nie geweet wat my daarvan laat hou het nie. Soms het ek alleen by kerslig in my koshuiskamer gesit, Chateau Libertas gedrink, Gregoriaanse dreunsang geluister en Thomas à Kempis gelees terwyl ek dronkverdriet gekry oor wat ’n vreeslike plek die wêreld is.
Goeie tye!
Iets het my verlede week die boek hier uit ’n ou boks uit laat grawe. Ek het dit seker 20 jaar laas gelees. My eksemplaar is die Penguin-vertaling in Engels: Imitation of Christ. Op bladsy 31 het ek ’n stuk onderstreep wat destyds so bietjie van my motto was en wat ek amper woordeliks kan onthou. Laat ek dit vertaal:
“Van tyd tot tyd is dit baie goed dat ons swaarkry en dat ons hoop verydel word, want swaarkry noop ons om ons hart te deursoek. Dit herinner ons dat ons in hierdie lewe vreemdelinge is en dat ons op niks in hierdie wêreld kan hoop nie.”
Soos ek gesê het, was ek nogal ’n morbiede jong knaap.
Thomas à Kempis was ’n Augustynse monnik en was baie oortuig van die sondigheid van die mens. Bladsy na bladsy het hy mens aangemoedig om te onthou dat jy sondig en waardeloos is en dat swaarkry jou ware lot in die lewe is. Trek ou klere aan, eet vaal kos, vermy die teenoorgestelde geslag.
Hy het mense aangemoedig om hulself elke oggend soos hulle wakker word te herinner dat vandag die dag kan wees dat hulle sterf. Die twee beste deugde, soos ’n engel se twee vlerke, is eenvoud en reinheid.
Ek wonder nogal hoe sou Thomas à Kempis gevoel het as hy die wêreld van 2020 moes sien. ’n Wêreld van sosiale media, verbruikersmaterialisme en selfies. Die arme man sou seker dink dis die hel.
En tog … ek was destyds baie lief vir Thomas à Kempis. En om eerlik te wees het ek nou nog ‘n sagte plek vir hom. Sy woorde voel soos ’n hartseer kombersie wat mens op melankoliese dae om jouself kan wikkel. As ek Thomas à Kempis nou herlees, veral op dae dat ek bietjie treurig voel, soos ek verlede Donderdag nogal erg gevoel het weens al die swaar nuus van die laaste maande, is dit vreemd genoeg nogal bemoedigend.
Dalk is dit net ’n geval van misery loves company. Maar dalk is dit iets meer.
Thomas à Kempis het vir sy monnike gesê swaarkry is normaal. Ons word skreeuend gebore en ons kry dikwels swaar in ons laaste oomblikke. Dis net normaal. Ons maak onsself mal as ons begin glo iets het in ons lewe verkeerd geloop net omdat ons swaarkry.
In vandag se lewe dink baie mense jy is op een of ander manier te blameer as jy swaarkry. Ons dink ons word deur God of karma gestraf, of ons die toets van die lewe gedruip. Thomas à Kempis sou sê nee, swaarkry is maar net hoe die wêreld werk. Dis maar net die lewe.
“Ons is pelgrims op aarde.”
“Ons is Eva se bannelingskinders.”
Swaarkry het ook die waarde dat dit ons meer deernisvol maak. Om van jou eie swaarkry en foute bewus te wees, hou jou nederig, en kweek ook by jou baie empatie vir ander, het hy geskryf. E
ienaardig genoeg, hoe vreemd Thomas à Kempis ook aan ons eeu is, het hy heelwat raad vir die era van sosiale media gehad. Mens sou heelwat van sy aanhalings in memes kon omskep en op Facebook versprei. Kyk byvoorbeeld na die volgende twee:
“Probeer geduldig wees en om ander se foute en swakhede te verdra. Want jy het ook baie foute en swakhede wat ander op hul beurt moet verdra. As jy nie altyd die mens kan wees wat jy wil wees nie, hoe kan jy ander mense kwalik neem dat hulle nie altyd die mense is wat jy wil hê nie? Ons verwag van ander om volmaak te wees, maar ons kan nie eens ons eie foute regstel nie.”
“Wie het vrede in hul harte? Die mense wat moeite doen om die beste van ander mense te dink. En wie is rusteloos? Die mense wat gepynig word deur wantroue en gedurig in ander fout wil vind.”
Dit gaan ek onthou voordat ek weer iemand op Facebook wil kritiseer.
Nog een:
“Moet jou nie kwel as ander mense nare dinge van jou sê nie. Moenie dat jou vrede afhang van wat ander mense van jou dink nie. Of hulle nou goeie of slegte dinge van jou sê, maak geen verskil aan wie jy regtig is nie. Die mens wat nie angstig is om ander se guns te wen, en ook nie omgee om ander se guns te verloor nie, is die mens wat ware vrede ken.”
Hy waarsku ook teen echo chambers:
“Dis baie maklik om jou tyd deur te bring in die geselskap van vriendelike en saggeaarde mense wat met jou saamstem. Almal van ons wil in vrede lewe en verkies die geselskap van enersdenkendes. Maar om jou vrede te behou terwyl jy tussen rowwe, ongeskikte en ongedissiplineerde mense is wat met jou verskil, dit verg heelwat genade en is een van die beste deugde wat ’n mens kan aanleer.”
Ek kan heeldag so aangaan. Daar is baie wysheid in Thomas à Kempis se boek. Ja, hy gaan ook baie aan oor die Bybel en Nagmaal en so-aan, en dit is nie vir almal nie, maar baie van sy insigte is universeel.
Die wêreld is moeilik en ons hoef nie te dink daar is iets met ons verkeerd net omdat ons sukkel nie. Almal sukkel. Ek sukkel. Jy sukkel. Kom ons werk sag met mekaar.
***
Op Donderdagaande gesels ons op Facebook Live oor blydskap. Oorweeg dit om jou by ons aan te sluit: