Het jy al een van dié bordjies langs die pad gesien wat waarsku dat jy jouself in ’n “hi-jacking hotspot” bevind?
Toe ek die eerste keer een sien, het ek kop gekrap. As die polisie weet waar die kapers laaglê, hoekom sit hulle nie eerder ’n paar beamptes daar om die skurke te vang nie?
Maar mettertyd het ek agtergekom dié bordjies dien ’n belangrike doel. Baie mense is droomverlore as hulle bestuur. Hul oë is op die pad, maar hul gedagtes is by hul eerste hoërskoolkys of by volgende week se bestuursvergadering. Sommige mense lees selfs hul Whatsapps by verkeersligte of grawe in hul handsakke op die snelweg.
Vir sulke mense wil die bordjie sê: “Wees wakker, kyk om jou rond.” As jy weet waar die kapers skuil, sal jy vooraf jou foon wegsit, jou handsak toezip en jou sintuie spits om hulle te ontduik. Jy sal beheer van jou eie motor neem voordat hulle jou onkant betrap.
Ek kyk deesdae nogal om my rond na bordjies wat mense teen “hi-jacking hotspots” waarsku.
My een vriendin weet haar yskas is ’n hotspot. Sy weet as sy daar verbyloop, gaan die peuselrigheid haar kaap en sy gaan onnadenkend die yskas ooppluk en iets ongesond in haar keel prop.
So sy het letterlik ’n kennisgewing op haar yskasdeur geplak. Dit lui: “Nee. Jy. Is. Nie. Honger. Nie.”
Wat doen daardie kennisgewing? Dit stop haar net daar, waarsku haar om paraat te wees omdat die peuselrigheid en kriewelrigheid op die punt is om haar kop te laat uithak. Deur haarself te herinner daardie kapers skuil rondom die yskas, is sy meer paraat en weet sy om nie voor hulle te swig nie.
Ek het ’n kaper. Sy naam is YouTube. Elke aand om nege-uur maak ek my werk klaar sodat ek my agt ure slaap kan kry. Maar o wee, ek dan moeg is en my wilskrag swak, fluister die duiwel in my oor dat ek eers gou ’n paar YouTube-videos moet kyk. Ek klik op een, dan klik ek op nog een, dan klik en op nog een – en voor ek my kan kry, is dit elfuur, my agt ure slaap het ses geword, en my kop is vol opruiende, nuttelose inligting.
So ek het ’n “hi-jack hotspot”-kennisgewing opgerig. Ek het ’n reminder op my foon gesig wat letterlik elke aand 9nm afgaan met die woorde “Pasop vir die YouTube-kaper”.
As ek daardie waarskuwing sien, dan weet ek, ek is nou kwesbaar, ek moet versigtig wees. So nou, deesdae, as dit nege-uur is en ek raak lus vir ’n laaste YouTube (of twintig) dan val ek nie vir die kaper nie. Ek is vooraf gewaarsku, ek het tyd gehad om my te staal en ek weet van beter.
Waar in jou lewe word jy soms gekaap? Dalk is dit die lus vir suikerrige kos laataand. Of pornografie op jou foon as jy bedruk voel. Of die versoeking om met jou eggenoot sarkasties te wees as jy moeg is.
Almal het een of ander gewoonte wat hulle wil afskud, maar nie kan nie; dit is asof dit jou kaap en beheer van jou vat en jy kan net magteloos toekyk.
So hier is ’n plan van aksie: Vind uit wanneer daai ding jou beetpak. Waar is die hotspot?
Dikwels is dit by ’n plek: Voor die yskasdeur of in die spitsverkeer of elders.
Dikwels is dit ’n tyd: As jy soggens terugkom van die gym, as jy moeg is en moet gaan slaap.
Soms is dit ’n bui: As jy moeg is of jou selfbeeld het ’n knou weg.
Dis die plek waar jy jou hotspot-kennisgewing moet plant. Niks prekerig nie. Net ’n herinnering dat jy versigtig moet wees as jy by dié plek kom.
Dis belangrik dat ’n kennisgewing konkreet en sigbaar moet wees. Dis nie net ’n intensie of ’n wilsbesluit nie. Plant ’n fisieke waarskuwing op jou lessenaar, langs jou bed, op die yskas of op jou foon.
Dan is dit tyd vir ’n bewustelikheidsoefening: Wanneer daardie kaper opduik (die lus vir suiker of blouflieks of sarkasme) is jy gereed om hom rustig op en af te kyk. Vra jouself: Waar sit hierdie kaper in my lyf? Dikwels is dit ’n fisieke gevoel in jou maag of ’n kriewelrigheid in jou arms of ’n warm gevoel in jou gesig.
Dis net ’n fisieke sensasie. Beskou dit as ’n objektiewe fenomeen soos ’n baksteen of ’n potplant of ’n gloeilamp. Kyk daarna as iets wat in jou teenwoordigheid aan die gebeur is, maar wat jou nie hoef te beheer nie.
Sê dan vir jouself: Net omdat ek ’n stem hoor, hoef ek nie te doen wat dit sê nie. Net omdat ek lus voel om hierdie ding te doen, beteken dit nie ek hoef nie. Kyk of jy ’n impuls kan voel sonder om daaraan toe te gee. Dis eintlik nie so moeilik nie, solank jy net bewustelik daarmee omgaan.
Mens wil nie ligsinnig wees oor kaping nie, maar dit kan een van die mees bemagtigende gevoelens in die lewe wees om jou stuurwiel uit die kaper se hande terug te neem en te sê: “Nee dankie, ék bestuur nou. Dis my lewe, ek gaan besluit hoe ek my tyd deurbring, wat ek in my lyf sit, en hoe ek teenoor ander optree.”
Probeer dit en laat weet my oor ’n paar dae hoe werk dit vir jou.
***
Dis die eerste blydskap-artikel in ‘n ruk – ek het na Bloemfontein verhuis en was bietjie besig om my voete te vind. Maar jy kan in die toekoms altyd op hoogte bly van nuwe artikels en gebeure deur hier te klik en op die Blydskap-nuusbrief in te teken. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.
***
kykNET begin op Dinsdag 6 April ’n nuwe reeks genaamd Spreekkamer waarin Suzanne Steyn met kenners gesels oor hoe jy jou lyf en kop gesond kan hou.
In die eerste episode gaan yours truly – Johannes de Villliers – ’n verskyning maak en gesels oor wat mens kan doen om ’n sin van verwondering in jou lewe terug te kry as jy afgeplat en lusteloos voel. Ons gesels oor dankbaarheidstegenieke en maniere hoe jy weer bewus kan word van die talle seëninge wat mens so maklik aldag miskyk.
Die eerste episode is 6 April om 10nm – stel jou recorder as jy vroeg gaan slaap – op kykNET. Spreekkamer met Suzanne Steyn
***
As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.