Ek sit so bietjie opgeskeep met my lockdown-vetjies. 

Onlangs het ek weer ’n mislukte dieet vroegtydig opgeskort. Dié een het meestal uit rou broccoli, komkommer en klapperwater bestaan, en het my so gasserig gemaak dat ek snags soos die karkas van ’n week-dooie sebra in my bed opgeswel het. So toe staak ek dit maar.

Dit het my laat wonder wat vang ek nou weer aan en is dit die moeite werd? 

Aan die een kant is daar iets miserabel daaraan om te veel aandag aan jou gewig te gee. Die supermodel Kate Moss, ’n baie tenger persoon wie se dieet by tye grotendeels uit wit poeier en vodka bestaan het, het een keer opgemerk “niks proe so lekker soos wat maerwees voel nie”. Maar ek kry Kate eintlik bietjie jammer en vermoed sy het nooit in haar lewe ‘n lekker braaibroodjie geproe nie.

Aan die ander kant is die gedagte aan maerword nogal verleidelik. Ek vang myself soms dat ek dink as ek net weer kan weeg wat ek 10 jaar terug geweeg het, sal ek gelukkiger wees. Een keer, net een enkele keer in my lewe wil ek soos ‘n onderbroekmodel lyk, soos David Beckham in die fleur van sy lewe. Dan sal ek baie foto’s van myself sonder klere neem, en die volgende dag kan ek maar weer vet word, ek sal gelukkig wees.

Tydskrifte soos Shape en produkte soos Slim Slab sou nie bestaan het as baie mense nie dieselfde ding geglo het nie. 

As jy vir mense sê jy doen navorsing oor die verband tussen maerwees en blydskap, vind jy uit almal het ’n mening daaroor. Die meeste gee voor hulle glo nie maerword het iets met blydskap te make nie. Hulle sê: “Maerwees kan jou nie gelukkig maak as jy nie reeds goed voel binne jou vel nie.” Of hulle sê: “Maer mense lyk vir my altyd suur, kyk net na die gesigte van ’n klomp models op ’n runway.” Of hulle sê: “Ek is vet en ek is gelukkig, so dé.”

Dalk is hulle reg, maar ek weet ook nie aldag of die mense dalk net dié goed sê omdat hulle wens dit was waar nie. Wie sal weet?

So ek het besluit om die wetenskap oor die onderwerp op te soek. Vir ’n saak waaroor almal ’n mening het, is dit verstommend moeilik om goeie navorsing oor die impak van maerword op mense se blydskapvlakke te vind. 

Die tydskrif Shape (ironies genoeg) het ’n jaar of twee terug ’n moerse bohaai opgeskop oor ’n vrou genaamd Jacqueline Adan wat 160kg afgeskud het. Dis die gewig van ’n pasgebore olifant (letterlik, ek het dit gegoogle ). Jacqueline het vertel al dié gewigsverlies het haar niks gelukkiger gemaak nie en sy moes op ’n geestelike reis gegaan het om innerlike geluk te vind. 

Maar anekdotes is nie wetenskap nie en wat met Jacqueline gebeur het, hoef nie noodwendig met jou of my te gebeur nie.

’n Meer kommerwekkende studie is in 2014 deur Sarah Jackson van University College London in PLOS ONE, ’n akademiese vaktydskrif (dus ’n beter bron as Shape) gepubliseer. Sy het data uit die English Longitudinal Study of Ageing , ’n databasis van Engelse se fisieke en geestesgesondheid, oor ’n tydperk van vyf jaar ontleed. Toe maak sy ’n bevinding wat mens kriewelrig laat voel. Dié mense wat in dié tyd meer as 5% van hul liggaamsgewig verloor het (gemiddeld sowat 7kg), het ’n 78% groter kans gehad om depressief te raak. Sy het afgelei daar is ’n kans die gewigsverlies kon een of ander, moontlik latente, depressie by die mense laat inskop het. 

Dalk het al die selderystokkies ’n rol gespeel.

Daar is ook ’n ander studie aan die McMaster-universiteit in Kanada gepubliseer wat jy kan google as jy tyd het en wat die verband tussen depressie en maerword bestudeer het. Dié studie het bevind daar is ’n nie-oorsaaklike korrelasie tussen depressie en maerword, oftewel, die twee verskynsels het soms ’n gedeelde oorsprong. Eenvoudiger gestel: Mense wat baie, baie oorgewig is, het soms ’n geen genaamd FTO, wat toevallig ook help om mense teen depressie te beskerm. So maer mense het statisties effens meer gereeld depressie.

Kortom: Daar is nie veel navorsing wat wys dat maerword jou gelukkig gaan maak nie, maar wel effense, tentatiewe, baie versigtige aanduidings dat maerword dalkies-dalkies miskien jou risiko van depressie kan verhoog.

Nou wat doen mens met dié inligting? Nie veel nie. Die kans bestaan dat maerword jou depressie gaan gee, maar dis baie … uhm … skraal. Ek sou sê drink maar jou Slimsy en laat staan die slaaisous.

***

Iets wat my egter wel regop laat sit het, is ’n studie wat ene Sharon Robertson van die Universiteit van Adelaide in 2015 gepubliseer het. Sy het bevind daar is inderdaad ’n verband tussen maerword en geluk, maar … wag hiervoor … die verband loop in die teenoorgestelde rigting as wat die meeste mense dink:

Om maer te word gaan jou nie gelukkiger maak nie.

Maar om gelukkiger te word, gaan wel die kans verhoog dat jy maer gaan word.

Laat dit insink.

Sy het ’n klomp klinies vetsugtige mense (wat die Engelse noem obese) op ’n gewigverliesprogram gesit. Almal se geesteswelsyn is deurgaans gemeet. Toe leer sy vir hulle die blydskaptegnieke van positiewe sielkunde – dankbaarheid, mindfulness, positiwiteit, omgee. Ná drie maande het ’n volle driekwart van die deelnemers merkbare gewig verloor. 

Dis vrek indrukwekkend. Jy gaan sukkel om ’n ander gewigsverliesprogram te vind waar driekwart van die deelnemers beduidende gewig afskud. En wat was die verskil? Pleks daarvan om die kalorieë te tel, het hulle hul seëninge getel.

Dalk is dit nie vir jou nuus nie. Dalk was jy al ’n paar keer op die dieetwipplank en weet jy daai laatnag plundertogte in die yskas gebeur net as jy sleg oor jouself voel – jy eet meer, jy voel slegter, jy eet nog meer, jy voel nog slegter, jy eet selfs meer, jy voel selfs nog slegter, om en om gaan die siklus soos ’n vaatjie wat teen ’n bult afrol. 

So wat lei mens nou af uit al hierdie dinge?

Kom ons smous nie maklike antwoorde nie. As jy baie erg oorgewig is, moet jy gewig verloor, dis nou maar so. Gewigsverlies waarborg nie dat jy gelukkiger gaan wees nie, maar dit gaan jou risiko van diabetes en hartkwale verlaag. Jy hoef nie soos Kate Moss te lyk nie (wil jy?) maar jy moet gesond wees.

Om egter die doel van gewigverlies te bereik, is die eerste wapen in jou arsenaal nie soetpatatskyfies of eetlusdempers nie. Dis ’n positiewe gesindheid oor jou lewe. 

Dis seker bietjie kommin om oor jou eie lyf te praat, maar ek sal vinnig noem ek het oor jare elke truuk probeer om my pensie plat te kry, en niks het gewerk nie. Dit was eers toe ek die dag voor die spieël gestaan en eerlik, regtig eerlik, vrede gemaak het daarmee dat ek myself met pens en al sal moet aanvaar, dat dit binne ’n paar weke verdwyn het en my maag so plat soos ’n strykplank was. Moet my nie vra hoekom nie, dis ’n tipe magic, maar dit werk.

En hoe werk mens aan daai positiewe gesindheid? Skryf elke aand voor bedtyd ’n lysie neer van dinge waarop jy trots is en waarvoor jy dankbaar is. Sit elke dag vyf minute in stilte. Maak soms ’n draai in die natuur en laat dit toe om jou te verwonder. Omring jouself met positiewe mense wat jou opbou eerder as om jou energie te steel.

Doen ook die gewone maerwordgoed. Kry oefening – maar doen ’n soort oefening waarvan jy hou sodat jou goedvoelhormone kan toeneem en jy gemotiveerd kan voel. Gaan op ’n dieet as jy moet – maar maak seker jou kos proe darem nog na iets.

En bowenal: Voordat jy probeer om kilo’s af te skud, skud eers die negatiewe selfspraak af. 

Ek herhaal: Voordat jy probeer om kilo’s af te skud, skud eers die negatiewe selfspraak af.

Anders mors jy jou tyd.

***

Hier is ’n ou storie ter afsluiting:

Dis tweeduisend jaar gelede. Die Tibetaanse wyse man Milarepa sit in sy grot in die Himalajas. ’n Klomp spoke trek ook in sy grot in en maak elke aand ’n vreeslike geraas wat Milarepa uit die slaap hou. Milarepa sê towerspreuke op om hulle te verjaag. Dit werk nie. Hy brand wierook om hulle te verdryf. Dit werk nie. 

Uiteindelik is Milarepa voos gebaklei. Hy maak ’n pot tee en pak die koppies uit. “Kom drink dan maar saam met my tee,” sê hy vir die spoke. 

POEF! Daar verdwyn die spoke.

Behalwe een. Die grillerigste spookmonster van almal het agter gebly. Milarepa weet nie meer wat om te doen nie, so hy loop na die monster, omhels dit, wag tot die monster se mond oopgaan en druk sy eie kop in die monster se mond soos ’n leeutemmer in die sikrus. “Eet,” sê Milarepa.

POEF! Die monster is weg.

Daai dinge aan jou lyf wat jou bang maak – die rolle, die hange, die snaakse kontoere – dis spoke. Baklei gaan hulle nie verdryf nie.

Maak vir jou lyf tee. Omhels jou lyf. Gee dit al die liefde wat jy in jou hart bymekaar kan skraap.

POEF! 

Selfs al is dit nie die rolle wat verdwyn nie, het jy iets afgeskud wat jou in die lewe terug hou.

***

Ek is nogal happy om te kan deel ‘n hele klomp mense het die afgelope week op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.

***

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: