Het jy al ooit ’n prentjie van ’n mediterende Oosterse monnik gesien? Gewoonlik dra hy ’n rooi rok en sy kop is geskeer. Hy mediteer langs ’n dam vol lotusblomme. Hy glimlag sielig asof hy die geheim van ware geluk ken.

Toe ek 25 jaar oud was, het ek besluit ek soos een van daai ouens wees. Dus het ek ’n vliegtuigkaartjie na die Suidoos-Asiese oerwoudland Mianmar gekoop en met ’n sakkie op my rug soontoe verkas om in ’n klooster te gaan mediteer.

Wat ek daar aangetref het, was een van die grootste skokke van my lewe.

In 2002, toe ek daar opgedaag het, was Mianmar naas Bangladesj die armste land in Asië. Op ’n wêreldkaart vind jy dit tussen Indië en Thailand ingesqueeze. 

Eintlik was Mianmar destyds ’n groot plakkerskamp in ’n modderige reënwoud. Gestremdes het op straat gesit en rou viskoppe geëet. Mense het in krotte sonder vloere gewoon waar eksotiese akkedisse en slange ingeloer het.

Ek het vooraf te hore gekom van ’n plek genaamd Chanmyay Yeikhta, berug as die strengste meditasieklooster op aarde, waar monnike op planke slaap, daagliks van 3vm tot 8nm mediteer, nooit praat nie, en slegs in die oggende eet. 

As jy 25 is, is jy vir niks bang nie en ek het gedink as ek saam met sulke intense ouens kan mediteer, sal dit my help om die geheim van die lewe uit te vind.

Nadat my rukkende vliegtuigie in die hoofstad Jangon geland het, is ek agterop ’n bakkie na Chanmyay Yeikhta, ’n ent buite die stad vervoer. ‘n Afrikaanse outjie op pad om in ‘n Asiese oerwoudklooster te gaan mediteer.

“Wat het ek aangevang?” het ek by myself gedink terwyl ek na die armoedige mense langs die paaie, skokkend baie van hulle sonder tande, gekyk het wat in ’n vreemde taal skree of rondom winkels saamkoek waarvan die name in ’n vreemde skrif geadverteer is. Die woude het soos iets uit ’n fliek oor die Amerikaanse oorlog in Viëtnam gelyk. Stukkende geboue wat plek-plek deur ’n digte blaregordyn loer. Dit was te laat vir omkeer, maar ek het meteens diep in my maag geweet ek het ’n fout gemaak.

Ons het in ’n diepgroen woud voor ’n gebouekompleks stilgehou waar mans in rooi rokke in doodse stilte op en af geloop het, hul oë stip op die grond. Iemand het my beduie na ’n hut waar ek snags op ’n plank kon slaap en soggens koue storte kon neem. 

En so het dit begin. ’n Rare tyd. Snags het ek op my plank gelê en gekyk hoe akkedissies op my plafon heen en weer hardloop. Soms het die reptiele hard vir mekaar geknor en aan die baklei gegaan.

Bedags het ek saam met die ander monnike in ’n lang ry in ’n saal gesit, ons hande gekruis en ons asem getel. Dit was die moesonseisoen en die oerwoud waarop die meditasiesaal uitgekyk het, het gereeld gestoom nadat warm reën daarop neergesak het. Soms het diere in die woud voor ons kom vrek en dan het mens so sit en mediteer terwyl jy kyk hoe hulle binne ’n kwessie van ure ontbind. 

Mens mag net een keer per dag gepraat het, wanneer jy by ’n ou meditasiemeester gaan inloer het om raad te vra. Sy Engels was swak en ek het min van sy raad verstaan, so meestal was ek op myself aangewese. 

Eensaam, ver van die huis, verward. Mediteer, eet, mediteer, slaap, koue stort, mediteer, eet, mediteer, slaap, koue stort, dag ná dag. 

Een van die monnike wat ook ’n buitelander was, het agtergekom ek sukkel. Ons het in fluisterstemme gesels. Hy het my vertel om nie bekommerd te wees oor die muskiete wat so byt nie, dit hou mens uit die slaap sodat jy langer kan mediteer. Hy het gesê mens moenie sleg voel as ’n wurm iewers in die klooster se kos opduik nie – ’n wurm wat deur ’n monnik geëet word, sal in sy volgende lewe beloon word deur as ’n slimmer dier gebore te word.

Ek was in die klooster die aand van my 26ste verjaardag. Ver van enigiemand wat ek ken of enige kommunikasiemiddele, vreemde diere wat in die woud om my hut raas, my rug vol knoppe van die plank waarop ek slaap, toe die vriendelike monnik aan my deur klop. Hy het nie eens geweet ek verjaar nie, maar iets het hom besiel om vir my ’n geskenk te bring. Dit was drie eksemplare van ’n tydskrif.

En so het ek ’n stoute monnik geword wat, terwyl die ander slaap, skelm tydskrif gelees het. Daar is artikels uit daai tydskrifte wat ek vandag nog, 18 jaar later, byna in geheel onthou.

Die tydskrif was ’n Amerikaanse publikasie, Inquiring Mind. 

Een artikel was oor die Amerikaanse komponis John Cage. En as jy my vandag vra wie my die meeste in my tydjie in Mianmar geleer het, was dit die komponis John Cage, wie se woorde ek by flitslig in my hut gelees het terwyl die ander monnike slaap.

***

Verlede week het ek weer verlore gevoel. 2020 het die mat onder my voete uit geruk. Dalk kan jy daarmee indentifiseer. Werk, geld, familie. ‘n Nuwe normaal. Ek voel weer ek is in ’n vreemde land, ’n plek wat ek nie herken nie en waar ek nie weet hoe dinge werk nie.

En so soek ek toe Inquiring Mind aanlyn. Wraggies, al hul ou uitgawes is digitaal beskikbaar. En daar, onder hulle, is die uitgawe van 2001 wat ek by ’n monnik doer in Suidoos-Asië geleen het. Met John Cage se artikel.

Dalk het jy al van John Cage gehoor? Hy is die eksentrieke komponis wat ’n stuk genaamd 4’33’’ gekomponeer het. Dié stuk behels dat ’n pianis in ’n konsertsaal op die verhoog stap, vier minute en 33 sekondes doodstil voor ’n klavier sit, en dan die verhoog verlaat.

’n Ander komposisie van Cage behels dat ’n klomp radios op ’n verhoog gedra word, elkeen op ’n ander stasie ingestel, en gelyk blêr.

Wat gaan hier aan?

In die artikel in Inquiring Mind vertel Cage hy wil mense laat nadink oor hoekom hulle klanke in twee kategorieë opdeel. Party klanke noem ons musiek. Ander noem ons geraas. Maar musiek in Duitsland, klink vir Japanese soos geraas. En klassieke musiek uit Japan klink vir Suid-Afrikaners soos geraas. En Afrikaanse sokkiemusiek sou vir antieke Egiptenare soos geraas klink.

Wat sou gebeur as ons ons voorkeure laat staan en na alles luister asof dit musiek is? vra John Cage. Wat sou gebeur as jy nou jou oë toemaak en alle klanke onbevooroordeeld oor jou laat stroom, die huis se krake, die lugreëling, die boor oorkant die pad, die hond se geblaf. Het dit note? Het dit ’n ritme? Wat is die sagste ding wat jy kan hoor? Wat is die hardste ding? Kan jy kyk hoe dinge wat jou andersins sou pla, ophou om lastig te klink as jy dit met ’n oop gemoed luister. 

“Ek probeer myself leer om na alle klank soos musiek te luister,” sê hy een plek in die onderhoud.

En elders: “Daar is Zen-teks genaamd die Huang-Po Leringe van Universele Gewaarwording, wat vir my baie beteken. Dit bevat ’n wonderlike frase: ‘Wees soos die sand van die Ganges-rivier wat nie deur parfuum aangetrek word of deur vullis afgestoot word nie.’”

En dan my heel gunsteling aanhaling: “Die filosoof Wittgenstein het ’n wonderlike stelling gemaak. Hy het gesê dit beteken eintlik niks as ons sê ’n ding is ‘mooi’ nie. Al wat dit beteken as ons sê iets is ‘mooi’, is dat daardie ding iets in ons laat ‘klik’ het. En dan sê hy mens moet ’n ‘klikker’ in jou sak dra sodat wanneer jy ’n ding sien wat nie vir jou mooi is nie, jy dit kan uithaal en ‘klik’ kan druk. As jy ’n oor ontwikkel vir klanke wat musikaal is, is dit soos om ’n ego te ontwikkel. Jy begin om klanke te weier wat nie musikaal is nie, en so sny jy jouself van ’n groot deel van die werklikheid af.

“Teater gebeur altyd, waar ook al jy is. Kuns se taak is om mense te help besef dat dit die geval is.”

Ek het regop op my plank gesit en myself gevra of Mianmar regtig ’n vreemde plek is, en of die vreemdheid nie maar net die gevolg van my eng perspektief is nie. Sou ek anders na my omstandighede kon kyk?

Klik.

Nou ja, dalk spreek dit tot jou, dalk nie. Maar tot vandag toe wanneer dinge regtig vreemd en deurmekaar is, soos vir baie van ons in 2020 die geval is, probeer ek myself vra of die probleem nie dalk daarby lê dat ek so verknog aan ’n sekere soort lewe geword het dat ek sukkel om die skoonheid te sien in die nuwe tipe lewe wat hom vir my voordoen nie. 

En dan haal ek my masjientjie uit my sak. 

Klik.

***

Een dag het ’n vrou in ’n krotbuurt naby Chanmyay Yeikhta gehoor daar is ’n Amerikaner in die klooster. Die mense in die gemeenskap het blykbaar besluit met my wit vel en Westerse klere moes ek ’n Amerikaner wees.

Die vrou was ’n onderwyseres, so sy was belangrik in die gemeenskap, selfs al het sy ook in ’n huis van sinkplaat gewoon. Sy het ’n boodskap gestuur dat die monnike by haar aan huis moet kom eet, en die Amerikaner kan saam kom. Dit sou vir haar ’n groot eer wees.

En so is ek saam met ’n groepie monnike na haar huis. Toe ons daar aankom, was daar ’n hele skare wat sy genooi het. ’n Groot, groot eer.

Sy het my by ’n plat tafeltjie op die grondvloer laat sit terwyl ’n klomp mense rondom die tafeltjie kom staan het om te kyk hoe die Amerikaner haar kos eet. Baie van die mense wat my staan en aankyk het, se tande was pers gevlek van ’n tipe neut wat hulle heeldag kou – en hoewel ek nooit vir ’n ander mense sal gril nie, was dit nie juis aptytwekkend nie.

Die bakkies op die tafel het kos bevat wat ek nog nooit gesien het nie. Wit vleis wat in ’n tipe visolie dryf. Noedels met gelerige goed wat teen die rante koek. Reuke wat ek nog nooit teëgekom het nie.

Ek het besef ek sal nie die kos kan eet sonder om naar te raak nie. Ek moes vlug. Maar die vrou het trots staan en wag. Die hele gemeenskap het hul asem ingehou dat ek moet begin eet. Haar eer was op die spel.

So toe tel ek ’n lepel op, skep stadig ’n groentemengensel, bring dit na my oop mond, sit dit op my tong neer, maak my mond weer toe en …

… net voordat ek sluk …

Drie jong meisies giggel blosend agter hul hande wanneer ek met hulle oogkontak maak. Eenkant staan ’n huisaltaar met frangipani-bloeisels versier. ’n Eksotiese vink gaan buite aan die sing. 

Klik!

***

Ek is nogal bly om te kan deel ‘n hele klomp mense het die laaste weke op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blokkie-1-copy.png

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: