Want dis 2020. En armoede kan jou blydskap regtig in die wiele ry.
Hier is ‘n paar maniere waarop jy geld kan spaar sonder om lewensgenieting in te boet.
- Moenie als by die goedkoopste supermark koop nie
In jou dorp of voorstad is daar duurder supermarkte en goedkoper supermarkte. Die meeste mense dink dis voor die hand liggend – as jy geld wil spaar, moet jy jou kruideniersware by die goedkoper supermark koop. Dis nie lekker nie, maar dis die verantwoordelike ding om te doen.
Hokaai!
Hier is ’n beter wenk: Koop jou kruideniersware by verskillende supermarkte. Moet byvoorbeeld nie jou vrugte en groente by die stink supermark koop nie – hul vars produkte vrot baie gou en as jy die helfte gaan moet wegkoop, gaan jy eintlik meer betaal. En moenie jou tandepaste by die duur supermark koop nie – duur tandepaste is niks beter vir jou ivories as die goedkoop weergawes nie.
Ons het drie supermarkte op my dorp. ’n Duur een, ’n gewone een en ’n belagliik goedkoop een. (In laasgenoemde hardloop die kokkerotte rond.)
Ek koop my groente en vrugte in die duur supermark. Al my ander kos koop ek in die gewone supermark, wat darem skoon is. Toiletpapier, tandepaste en skoonmaakmiddels koop ek in die sleezy supermark.
2. Dis nie die duur goed wat jou arm maak nie, dis die goedkoop goedjies
Gestel jy koop elke dag twee wegneemkoffies by die werk of tydens vergaderings in koffiewinkels. R40 vir twee flat americanos. Niks ongewoon nie. Maar vermenigvuldig dit met die 22 dae in die maand wat jy werk. Dis sowat R900 se koffie in een maand.
Dalk koop jy so twee keer per week uit verveeldheid ’n smoothie by die Kauai oorkant die pad van die werk. Dis nog sowat R1000 per maand.
Gestel jy koop elke dag ’n KitKat en ’n Coke, soos wat ontsettend baie mense oor hul werksetensuur doen. Dis R25. Nie te baie nie. Maar in ’n maand is dit net onder R550 se KitKats en Coke.
En dan koop jy elke weeksdag ’n koerant om deur te blaai. R15 per dag. R330.
Sien jy hoe vinnig het ons by byna R3000 gekom? Daarvoor sou jy kon opgradeer na ’n huis met ’n ekstra garage of slaapkamer.
Hier is die punt: Moenie jou sjokolade, jou koffie of jou smoothie heeltemal uitskakel nie. Maar skakel die gewoonte uit. Koop dit bewustelik wanneer jy daarvoor lus is. Maak dit ’n spesiale geleentheid.
En vat jou eie donderse koffiepoeier werk toe!
3. Banke werk nie meer soos toe jy ’n kind was nie.
Onthou jy die goeie ou dae toe jy jou geld net in ’n gewone ou spaarrekening kon laat lê en dit sou stadig teen ’n lae opbrengskoers groei?
Daai dae is lankal verby. Veral as jy by ’n sekere Suid-Afrikaanse kommersiële bank sake doen, is die kans goed jou bankkoste is groter as die rente wat jy verdien. Ek het my vorige bank betrap dat hulle my geld begin vra het elke keer as ek my saldo aanlyn gekyk het en vir allerei ander belaglikhede, sonder dat iemand my ooit gewaarsku het hulle gaan dié kostes begin verhaal.
Hul verskoning daarvoor is dat hulle ’n Bisantynse stelsel van verskillende pakkette met verskillende kostes vir verskillende dienste het. Jy moet elke nou en dan gaan kyk dat jou pakket se kostes en voorwaardes nie verander het sonder dat jy dit besef het nie.
Ek herhaal: As jy by ’n groot kommersiële handelsbank in Suid-Afrika banksake doen, moet jy gedurig gaan kyk dat jou bank nie dalk begin het om nuwe, onaangekondigde kostes van jou rekening af te trek nie.
Vra jou bank ’n afspraak met ’n konsultant sodat julle deur jou bankstate kan gaan en kan bereken watter pakket jou die minste geld uit die sak gaan jaag. En as hulle nie vir jou ’n redelike oplossing kan gee nie, verander van bank – dis minder moeite as wat jy dink. Daar is wel banke in Suid-Afrika wat jou nie inloop nie, jy moet net rondvra.
4. Google kan jou deesdae wys hoe om feitlik enigiets reg te maak. Jy hoef nie talentvol met jou hande te wees nie.
Dit geld selfs vir iemand soos ek wat op skool houtwerk deurgeskraap het en nie eens ’n motor se tyre kan omruil nie.
Maak jou yskas nie meer koud nie? Check hier. Moet jy vir ‘n vegan vriend ‘n kaaskoek maak? Check hier. Wil jy jou hare soos ‘n unicorn kleur? Hier.
Eeue lank het mense dit vanselfsprekend aanvaar dat jy jou klere regmaak as dit skeur of verslyt. Maar in ons verbruikersamelewing van die laaste jare het baie mense begin om klere weg te gooi sodra daar ’n gaatjie in verskyn en dan elke jaar nuwe klere te koop. Ons het die regmaakmentaliteit verloor.
Onlangs het ek besluit om te reël om my ou klere met ’n naald en gare reg te maak. Waar ek in die verlede enigiets met ’n gaatjie in by die nagskuiling sou gaan aflaai sodat die armes dit kan dra, het ek vanjaar besluit om dit eerder te probeer red.
Om gate toe te naai (is dit die regte woord?) is eenvoudig, jy kan dit doen terwyl jy TV kyk, dit vat nie regtig lank nadat jy dit onder die knie het nie en dit spaar jou om nuwe klere te moet gaan koop.
En navorsing wys om met skeppend met jou hande besig te wees, maak mens gelukkiger.
5. Jy gaan nie doodgaan as jy ophou gym nie
Vir baie mense is die gym hul sosiale lewe, hul kerk, hul alles. As dit so groot rol in jou lewe speel, moet jy dalk regtig raap en skraap vir geld sodat jy kan aanhou gym toe gaan.
Maar baie mense is net lede van die gym omdat hulle voel dis hul plig. Om onentoesiasties op ’n treadmill te staan en trap, gaan jou nie gesond, fiks of maer maak nie. Laat dit staan.
Bergklim, draf of stap kos niks.
6. Moenie spaar wat oorbly as jy klaar bestee het nie. Bestee wat oorbly as jy klaar gespaar het.
Maak so: Kry vir jou ’n spaarfonds wat redelik veilig is en waar jy jou geld op kort kennisgewing sou kon terugkry ingeval van ’n krisis. Maak dit jou spaarplek. Iets soos Satrix werk goed. Jou huisverband ook, mits jy kan hou by die reël om nooit geld teen jou huisverband te leen nie.
Maak dan vir jouself ’n reël dat jy elke maand op betaaldag ’n bedrag na daardie fonds gaan oordra. Dit hoef niks groot te wees nie. R500 per maand sal aanvanklik nie na veel voel nie, maar ná ’n paar maande net daardie R500’e tot ’n aardige bedraggie groei, jou rente gaan skielik meer word en die spaarfonds gaan styg soos ’n coronakurwe.
Dit gaan egter nooit gebeur as jy wag tot die einde en net spaar wat van jou vorige salaristjek oorgebly het nie. Dan sal jy altyd ’n verskoning hê om eerder die geld uit te gee.
7. Loop supermark toe
(’n Wenk van my vriendin Amelia Burger)
Die meeste supermarkte gaan uit hul pad om jou inkopies gerieflik te maak. Hulle doen dit nie omdat hulle nice is nie (hoewel ek seker is hulle is meestal nice mense). Hulle doen dit omdat jy dan meer gaan koop.
As jy winkel toe stap, gaan jy nie net meer oefening kry nie, jy gaan ook minder koop omdat jy alles terug huis toe moet dra.
8. As jy dink jy het ’n nuwe motor nodig, is die kans groot jy lieg vir jouself
Die meeste moderne motors word gebou om minstens 400 000 kilometers te hou. As jy hom eers afbetaal het, betaal jy net onderhoud, wat ’n massiewe besparing is vergelyking met ’n motorverband.
As jou motor wel net 120 000 km op het en jy begin jouself vertel “dis darem nou regtig tyd om hom vir ’n varser model in te ruil”, wees ten minste eerlik met jouself en erken jy doen dit nie werklik omdat jou huidige motor iets makeer nie. Jy is net verveeld.
9. As daar ’n munisipale biblioteek in jou dorp is, hoef jy eintlik nooit vir vermaak te betaal nie.
Suid-Afrika het een van die wêreld se beste netwerke van munisipale biblioteke. Baie het ook ’n goeie versameling DVD’s.
10. Koop kinders se geskenke by die Crazy Store
Vir ’n kind onder die ouderdom van agt kan jy speelgoed en geskenke uitsluitlik by die Crazy Store koop. ’n Voorskoolse kind het letterlik nie die vermoë om ’n speelding se prys as ’n maatstaf van jou liefde te gebruik nie. ’n Bal van R20 is vir hulle in geen opsig minder waardevol as ’n Lego-stel van R2000 nie. Dis net volwassenes en tieners wat dink ’n duur prys maak ’n ding beter.
Dalk sou mense my daarvan beskuldig dat ek misbruik maak van kinders se onnoselheid deur hulle moet goedkoop geskenke te oorlaai, maar ek dink nie kinders is onnosel nie. Ek dink net hulle weet waarskynlik iets oor die ware waarde van dinge wat die res van ons al vergeet het.
***
Ek is nogal happy om te kan deel ‘n hele klomp mense het die afgelope week op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.
***
Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.
As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.