Vandag is my hart vol haat.

Ek is nie trots om dit te sê nie. Ek het dit ook nie beplan nie. Dit het my lewe skelm binnegeglip.

Voordat dit ’n vuur was, was dit net ’n kooltjie. Iemand het my vertel van iemand anders wat my lelik ingeloop en te na gekom het. Baie lelik. Dit het my seergemaak. 

“Rustig nou, De Villiers,” het ek vir myself gesê. “Onthou jy is die Kalm Man. Moenie dat die woede met jou weghol nie. What would Deepak Chopra do?”

Maar haat is soos ’n rot wat jou huis deur die geringste skrefie binne kan glip. 

Eers het ek begin om in my motor die radio af te skakel sodat ek met meer konsentrasie kon tob oor hoe bebliksem ek was. Kort voor lank het ek twee-uur in die oggend wakker gelê en dink aan die persoon wat my bekonkel het. Ek het gedroom daarvan dat slegte dinge met hulle gebeur. 

En toe besef het: Dis haat. En haat het hom in my hart tuis gemaak.

Dalk haat jy iemand. Dis anders as woede. Dis anders selfs as bitterheid of enige ander negatiewe emosie. Haat is as jy so vyandig teenoor iemand anders voel dat jy weet jy sal bly wees as dit met hulle sleg gaan. Jy sal spyt wees as dit met hulle goed gaan.

Niemand is trots daarop as hulle haat nie. Jy kan nog spog dat jy kwaad is. Jy kan nog bely dat jy hartseer is. Maar haat? Dis lelik, dis grillerig. En tog voel ek dit vandag. 

Hoe gebeur so iets?

***

Ek het lank terug besluit om elke emosie met respek te behandel. As iets in jou hart kom aanklop het, dan is dit daar om jou iets te leer. 

Moet dit nie net wegstoot nie.

Luister. 

Leer.

Vandag doen ek dit die eerste keer met haat. Van kleins af is ons geleer jy mag nie haat nie. Dis ‘n sonde. Jy moet dit uit jou hart wegjaag. Maar wat sou gebeur as jy haat – die haat wat jy teen jou eks, jou sakemededinger, jou geweldenaar voel – vir ’n oomblik sou toelaat? Wat sou jy sien as jy na die haat kyk en dit probeer verstaan?

Een interessante ding wat ek oor haat oplet (en jy weet dit waarskynlik ook) is dat haat nie lekker is nie. Dit sit in jou bors en maak dit moeilik om asem te kry. Dit laat jou jou gesig lelik trek. Dit dryf jou na drank. 

En tog, gelyktydig is dit iets waaraan mens klou. Jy wil nie hoor jy moet dit laat vaar nie.

Ek het my ma vertel ek haat iemand. Die volgende dag het sy my ’n skakel na ’n potgooi gestuur waarin ’n dominee vertel hoe lekker dit is om te vergewe en hoe dit jou vry laat voel.

Nee dankie, ma. Nee dankie, dominee. Ek wil nog so bietjie daaraan klou.

Hoe verklaar jy ’n emosie wat sleg voel, maar wat mens nie wil laat vaar nie?

***

Volgende het ek gaan hoor wat sê die kenners 

Vergeet maar van enigiets nuttig op Google. As jy haat opsoek, kom jy by Nazi’s, plaasmoorde, geslagsgeweld, al die lelikste dinge op aarde. Dit laat voel jou net erger en leer jou niks.

So toe gaan hoor ek wat sê my wyse vriend Jan.

Jan ken die sielkundige literatuur oor moeilike emosies. En Jan vertel my toe iets wat my kop heeltemal swaai. 

Hier is wat Jan gesê het: Haat is omtrent altyd ’n masker waaragter ’n ander, seerder emosie skuil. 

Laat dit ’n oomblik insink.

Check hier en sê of jy daarmee kan identifiseer: As mens aan ’n seer emosie soos haat vasklou, is dit waarskynlik omdat jy glo die haat is al wat tussen jou en ’n selfs seerder emosie staan. Waarskynlik skaamte of vrees. 

Iemand het jou in ’n verhouding verneuk. Jy haat hulle. Nie omdat haat lekker is nie – maar omdat die alternatief is om skaam te voel dat jy nie goed genoeg was om hul liefde te behou nie.

Iemand het jou fisiek seergemaak. Jy haat hulle. Nie omdat haat doeltreffend is en enigiets uitrig nie – maar omdat die alternatief is om die weerloosheid en skending te voel. 

Iemand het jou soos ’n loser laat lyk en voel. Maar ten minste het jy dit nie gelate aanvaar nie. Jy kan hulle darem nog haat.

So ek vra myself die vraag – en dalk, as jy vandag iemand haat, kan jy jouself dieselfde ding vra – watter ander emosie probeer ek met die haat verbloem? Wat is dit wat ek te skaam of te bang is om te voel?

***

Daar is interessant studies oor die verskil tussen mans en vroue se emosionele uitdrukking. Party mense dink vrouens praat makliker oor hul emosies, maar eintlik praat die twee geslagte rofweg ewe veel oor hul emosies. Die verskil is dat vroue en mans oor verskillende emosies praat.

Vrouens vertel graag hulle is bly, lief en dankbaar.

Mans vertel graag hulle is kwaad. Of hulle haat.

Daar is ’n uitdrukking vir mans se emosionele lewe: “It’s better to be mad than sad.” Van jongs af word seuns geleer hulle moet “hul man staan” en “leer om te baklei”, om “op te staan vir hulself”. Baie mans glo dit. Hulle weet die een emosie wat vir hulle aanvaarbaar is, is om kwaad en selfs hatig te wees. 

Sien jy ’n man wat sy vrou afknou? Dis waarskynlik iemand wat met skaamte, vrees en ‘n swak selfbeeld sit en te bang is om dit te erken, so hy tree eerder gewelddadig woedend op. Sien jy ’n man met ’n wrok en verbittering – dan sien jy waarskynlik iemand wat skaam voel omdat hy iewers ingeloop is of misluk het en nou die haat as sy enigste geldige emosionele respons sien.

Dit werk op groot skaal ook so. Die Boere is deur die Engelse verneder, en al wat hulle dekades lank oor gehad het om aan vas te klou, was hul haat. Een groep word deur ’n ander verdruk, en al wat hulle oor het om hulle te troos, is hul vermoë om te haat. Die haat is ’n bewys aan jouself dat jy ten minste nie net omgerol het toe jy verdruk is nie, jy glo darem nog genoeg aan jouself om iemand te kan verwyt.

En op ’n persoonlike vlak werk dit dieselfde. Jy is verneuk. Jy is seergemaak. Jy is bedrieg. Maar jy is nie net ’n slagoffer nie. Jy kan darem nog haat.

(En dis seker nie net mans nie. Ek was nog nooit ’n vrou nie, maar ek vermoed baie vroue kan ook hiermee identifiseer.)

So, hier is my huiswerk aan myself vandag: As ek my haat wegkrap soos nuwe verf op ’n ou muur, dan sien ek daaronder ’n ander, teerder, en selfs seerder emosie. Ek voel pateties omdat iemand my ingeloop het. Ek voel skaam omdat ek te swak was om myself te beskerm.

Wat gaan ek met daai skaamte doen? Gaan ek dit met haat toeverf en soos ’n beneukte “ware man” hatig optree totdat ek seker is genoeg ander mense kry ewe seer as ek?

Of gaan ek iets veel dapperder doen: Gaan ek die moed hê om weerloos en swak te voel en te kyk wat daarvan kom? Kan ek stil sit – dalk selfs in ’n meditasieposisie – en na die skaamte, die weerloosheid, my patetiese mislukking van ’n lewe te kyk en dit toelaat sonder om dit met haat te probeer toepleister? Kan ek erken dat dit seer en embarrassing is om vandag in my lewe te wees? En kan ek myself herinner dat almal, elke liewe mens, selfs die persoon wat my seergemaak het, ook dikwels in hul lewe seerkry? Dis ’n onvermydelike deel van menswees.

Hier is wat ek vermoed: Skaamte kan genees. Teleurstelling kan genees. Broosheid kan genees. Maar haat kan nie. Dis eers as jy die hatige pleister afgetrek het dat dinge daaroonder kan begin herstel.

Maar daarvoor moet jy regtig dapper wees. Daarvoor moet jy bereid wees om jou seerste emosies te omarm.

Beteken dit ek gaan nie probeer keer dat dieselfde persoon my weer te na kom nie? Nee. Ek gaan vir my regte moet opstaan. Maar hopelik gaan ek nie ’n woedende dier wees nie. Ek gaan hopelik uit deernis en wysheid kan reageer. Dalk kan ons eendag weer met mekaar praat. Dalk selfs op ’n manier dat hulle ook iets daaruit kan leer.

Dalk kan ons albei genees. 

Dit sal tog sekerlik die beste uitkoms wees. 

***

Vandag se stukkie was bietjie meer abstrak en dalk meer persoonlik as gewoonlik. Dalk is daar iets daarin wat jy kan gebruik. Dalk nie. Maar iewers in jou lewe gaan iemand jou seermaak. Dis nie regverdig nie, jy verdien dit nie, maar dit gaan gebeur. Ek hoop jy kan dan dapper wees. En ek hoop jy sal besef “dapper” beteken nie om jouself met haat te vergif nie, maar om jouself en almal rondom jou eerder ruimte vir genesing te gun.

***

Ek is nogal happy om te kan deel ‘n hele klomp mense het die afgelope week op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blokkie-1-copy.png

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: