So paar jaar terug was daar in wêreldwyd ’n groot opgewondenheid oor die boek A Purpose-Driven Life deur pastoor Rick Warren. Kerke het kursusse daaroor aangebied; almal het gesels oor hoe dié boek hulle ’n rede gegee het om soggens uit die bed op te staan. Die boodskap was dat die sleutel tot ’n bevredigende lewe is om ’n oorhoofse lewensdoel (“purpose”) te hê.
Sedertdien is “purpose” oral. As jy ’n lewensafrigter spreek om jou lewe agtermekaar te kry, is die eerste ding wat hulle jou laat doen om ’n “purpose statement” op te trek, ’n bestaansdoel vir jou lewe.
Die kans is goed jou lewensafrigter of sielkundige of pastoor gaan jou herinner aan Victor Frankl se aanhaling nadat hy die Nazi-uitwissingskampte oorleef het: “Die een wat ’n ‘hoekom’ het om voor te lewe, sal altyd kan uitwerk ‘hoe’ om te lewe.”
Of Robert Byrne se aanhaling: “Die doel van die lewe is om doelgerig te lewe.”
Of Dostojefski: “Die geheim van die menslike bestaan is nie om te oorleef nie, maar om iets te vind om voor te leef.”
Dié purpose kan ’n loopbaan wees, ’n verhouding, ’n saak soos vroueregte in die Derde Wêreld, word mens vertel. Vind iets belangrik om voor te lewe anders gaan jou lewe vaal, depressief en vervelig wees.
Ek het lank dié siening help verkondig. As mense my sou vra wat hulle moet doen om gelukkiger te wees, het ek gesê (1) probeer om so twee of drie sinvolle menseverhoudings in jou lewe te hê, (2) doen ’n werk waarvan jy minstens effens hou, en (3) bowenal, sorg dat jy ’n doel, ’n projek, ’n purpose het om soggens voor op te staan.
Self het ek ’n suksesvolle onderneming bedryf waarrondom ’n hegte gemeenskap ontstaan het. Elke oggend het ek geweet ek gaan deur die loop van my dag mense help om gelukkkiger en meer deernisvol te lewe. Rick Warren, Victor Frankl en Dostojefski sou toustaan om my op my skouer te klop.
En toe, soos seker vir baie mense in 2020, stort dié huisie ineen.
Ek moes my onderneming toemaak om redes wat ek nie kon beheer nie. Ek moes die gemeenskap wat ek help onderhou het op ’n traumatiese wyse ontbind. Ek moes my huis waarvoor ek lief was, laat staan en na ’n ander stad verhuis.
So drie weke gelede raak ek een oggend wakker. Daar is niks betekenisvol om vandag te doen nie, besef ek. Niemand wag vir my om hulle te help nie. Dit sal geen groot verskil aan die wêreld maak as ek die res van die dag (dalk die res van die week of die maand of die jaar) in die bed bly nie.
Kortom, my lewe het geen meer purpose.
Hoe lewe mens sonder purpose? Niemand het nog ’n boek daaroor geskryf nie.
Die oorhoofse boodskap wat jy uit alle oorde kry, is as jy nie purpose het nie, sal jy vrede daarmee moet maak dat jy ongelukkig gaan wees totdat jy weer purpose gevind of geskep het. Die laaste paar weke het ek dit dus oorweeg om ’n lewensafrigter te sien, my dosis psigiatriese medikasie te verhoog, by ’n dating website aan te sluit, enigiets in die hoop dat ek weer purpose kan vind en gelukkig kan wees.
Maar wat is die gevolg van so lewe? Jy raak verslaaf aan kritiese introspeksie. Jy vra jouself dag in en dag uit: waar is my purpose, het ek al ’n purpose, is my purpose dalk daar oorkant die volgende heuwel? Die afwesigheid van purpose definieer jou.
So paar dae gelede is ek in Checkers. Nugter weet hoekom dit daar gebeur het, maar halfpad tussen die waspoeier en die pastasous wonder ek uit die bloute: “Wat as dit moontlik was om ook sonder ’n purpose gelukkig te wees?”
In ons era is dié vraag nogal revolusionêr, selfs ondermynend. Wie is jy om met Victor Frankl te stry?
Maar dit was nie altyd so nie.
In die antieke tye het mense hulself gedwing om soms lang tye doelloos te lewe. Vandag nog in Asië is dit die gebruik vir jong mans en vroue om ’n paar jaar as monnike en nonne in kloosters te lewe. In dié tyd werk hulle nie aan hul loopbaan nie, hulle soek nie ’n huweliksmaat of leer loopbaanvaardighede nie. Hulle sit lank in meditasie (per definisie ’n doellose oefening), doen herhalende dreunsang, maak pragtige kunswerke wat hulle vernietig sodra dit klaar is.
Party Westerlinge wantrou die kloosterlewe. Hoe kan jy so doelloos lewe? Nee man, doen iets meer nuttig en ambisieus.
Maar die monnike en nonne weet iets wat ons vergeet het: Niemand op aarde gaan altyd voel hulle het ’n purpose nie. Die lewe het seisoene. Soms gaan jy voel jou lewe is betekenisvol, en soms – vir lang tye op ’n slag – gaan jy soos die diertjies in die veld maar net voortdryf en doen wat ook al jy moet doen om deur die dag te kom.
Ons moet ’n manier vind om onsself en mekaar te herinner dat die doellose seisoene ook waarde het.
Dikwels is ons “purpose”-taal onbedoeld boelierig. Dis asof ons mense wil wysmaak hulle kan of mag nie gelukkig wees as hulle nie produktief en doelgerig lewe nie. Ons herinner onsself pal met memes en ander dinge dat ons òf ’n purpose moet vind òf chroniese depressie is ons voorland.
So hier is my voorstel en dalk het jy nodig om dit te hoor:
Kom ons kyk of dit moontlik is om ook in die doellose tye gelukkig te wees. Wat sal dit behels?
- Erken dat purpose net een element van ’n gelukkige lewe is. As purpose tans in jou lewe skraal is, oorweeg dit om in die ander elemente van blydskap te belê. Verhoudings byvoorbeeld: Bring meer tyd deur saam met mense wie se geselskap jy geniet. Nooi vriende vir ete. Gaan op uitstappies met iemand. Stap meer gereeld met jou hond.
- Stilte: Noudat daar vir ’n wyle niks is om jou te jaag nie, is dit die ideale tyd om die dissipline van meditasie (of stiltegebed as jy dit so wil noem) te ontwikkel. Meditasie is by uitstek ’n doellose oefening. Jy sit daar en beteken nie veel vir enigiemand nie, jy is nêrens heen op pad nie. Oefen om elke asemhaling, elke fisieke sensasie tydens jou meditasie as waardevol insigself te sien eerder as om jouself konstant af te vra hoe dit tot een of ander groter doel bydra. Indien nodig, mediteer op die mantra: “Hierdie is genoeg. Hierdie is genoeg. Hierdie is genoeg.”
- Verken. As mens een oorhoofse purpose het, maak dit jou lewe vaartbelyn. Jy sny onnodige dinge uit en fokus op dit wat tot jou purpose bydra. Maar as jy ’n jaar of twee sonder purpose sit, kan dit ’n wonderlike geleentheid wees om minder vaartbelyn te lewe. Mors sorgeloos tyd. Woon ’n dansklas by. Gaan help skep in die sopkombuis. Gaan Saterdae op uitstappies op die platteland. Leer ’n vreemde taal. Een van daardie aktiwiteite kan dalk die saadjie van jou volgende purpose bevat. Maar vir nou kan jy net ’n rukkie die spel van ’n minder ernstige lewe geniet.
- Waardeer die skoonheid van die huidige oomblik. Purpose kan vreeslik toekomsgerig wees. Daar in die supermark sou ek gewoonlik van die wasgoedseep na die pastasousrak geskarrel het om my inkopies so gou moontlik af te handel en met my purpose aan te gaan. Maar ’n doellose lewe het ’n ander ritme. Jy loop stadig van een rak na die volgende. Jy is teenwoordig vir elke tree. Jy steek soms sommer halfpad verby ’n rak vas om vir ’n vreemde kind gesig te trek of die voorblaaie van tydskrifte te lees. Soms steek jy net vas sonder om enigiets te doen. Jy maak jou oë toe, jy luister na die stemme op die luidspreker en die gedruis rondom jou. Jy is net waar jy is, en dis genoeg.
Purpose is ’n wonderlike ding. Die kans is redelik goed as jy jou hart oop hou en sensitief is, sal iets van tyd tot tyd opduik wat jou lewe betekenisvol laat voel en jou motiveer om soggens uit die bed uit op te staan.
Maar as jy hoegenaamd normaal is, sal jy ook tye deurgaan dat jou lewe doelloos voel. Moenie dat die wêreld van popsielkundie jou oortuig dié tye is armoede of ’n onvermydelik depressie nie. Staan nader aan die bron van jou ongemak. Leer om die stiller lewe te omarm.
Jy het nie waarde omdat jy purpose het nie. Jy het waarde omdat jy lewe.
***
Ek is nogal bly om te kan deel ‘n hele klomp mense het die laaste weke op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.
***
As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.