Etlike jare gelede het ek die Israelse dorpie Kapernaüm op die oewer van die See van Galilea besoek. Kapernaüm is ’n dorpie wat in Kinderbybels altyd uitgebeeld word as ’n klomp wit blokhuisies met plat dakke. Deesdae is dit grotendeels ’n argeologiese terrein.

Buite die dorpie is daar ’n heuwel wat by besoekers baie aftrek kry, omdat dit op die hange van dié bult is dat Jesus volgens oorlewering die Bergpredikasie en ander preke gelewer het. Veral een hoek was vir my baie oulik, want dis waar die plaaslike mense vertel Jesus die wonderwerk van die vermeerdering van die broodjies en die vissies gedoen het. 

Vir diegene onder julle wat jul Kinderbybel vergeet het: Daar word vertel Jesus het die dag so lank gepreek dat die mense honger begin raak het. Niemand het eetgoed saamgebring nie, met die gevolg dat mae begin knor en iesegrimmigheid waarskynlik kop uitgesteek het. Uiteindelik is rondgevra en daar is vasgestel een seuntjie het vyf broodjies en twee vissies saamgebring. Jesus sê toe vir sy dissiples om die brood en vissies onder die reuse-skare uit te deel, en hoe meer hy uitgedeel het, hoe meer het dit geword, totdat hulle uiteindelik ’n hele klomp mandjies volgemaak het met die krummels wat van die broodjies oorgebly het. ’n Wonderwerk.

Elkgeval, die bult was op die dag van my besoek redelik verlate, daar was ’n leë basilisk met ’n plek waar die pous op ’n besoek sy hand in sement gedruk het, omring van bougainvilleas. Een kant onder ’n koelteboom het ’n ou man gesit by ’n tafel waar hy soeweniers verkoop het. Een van die soeweniers wat ek daar gekoop het, het ek vandag nog.

Dit was ’n T-hemp met die volgende woorde: “Love is like bread and fish. The more you give away, the more it becomes.”

Oor die jare het ek baie aan daardie leuse gedink. Hoe meer jy liefde uitdeel, hoe meer word dit. 

Baie mense dink liefde, omgee of deernis is iets waarvan jy ’n beperkte hoeveelheid het, so jy moet dit nie mors nie. As hulle hoor jy gee om vir diereregte, sal hulle jou byvoorbeeld vra hoekom gee jy nie eerder om vir arm mense nie. Of as hulle hoor jy het simpatie met die slagoffers van plaasaanvalle, sal hulle jou vra hoekom het jy nie eerder simpatie met die honger mense in plakkerskampe nie. So asof mens al jou liefde op een groep kan bestee en daar dan niks vir die res kan oorbly nie. 

Die waarheid, soos ons toenemend uit navorsing sien, is dat liefde en deernis ’n spier is wat sterker raak soos jy dit oefen. As jy byvoorbeeld vir diere omgee, sal omgee vir jou toenemend makliker raak, later selfs spontaan, en dit sal oorspoel na liefde vir ander groepe. Mense wat gaaf is met die mense by die huis, vind dat hulle dikwels spontaan vriendeliker en meer deernisvol met mense by die werk is. Ensovoorts. 

(Die teendeel is ook waar. Mens kan sinisme, apatie en woede ook inoefen.)

Ek dink die laaste ruk baie aan hoe ons, hier in die middel van 2021, toenemend met ’n skaarsheidsmentaliteit na ons emosies kyk. Een frase wat ek in die middel van ’n Julie-lockdown oor en oor hoor, is mense wat sê “my bekertjie is leeg, ek het nie meer om te gee nie”. Ek self sê dit selfs van tyd tot tyd, en ek bedoel dit opreg.

Hoe voel dit as jou beker leeg is? Jy is tam. Jy wil nie meer probeer nie, want jy glo nie meer in jouself nie. Jy wil nie iets aanpak nie, want jou energie is pap. Jy wag en wag vir inspirasie, maar niks daag op. 

Wanneer ek so voel, probeer ek my aan daai T-hemp oor die broodjies en vissies herinner. En ek sê vir myself die dinge waaraan ek nou arm voel, is juis die dinge waarmee ek nou moet begin woeker as ek dit wil aanvul.

Dink byvoorbeeld aan iets soos selfvertroue. Dalk was jy ook op ’n stadium bang om voor mense te praat. Hoe het jy oor dit gekom? Nie om te wag dat jou selfvertrouebekertjie vanself vol raak nie. Jy het met bewende kniekoppe opgestaan en begin praat, en hoe meer jy van jouself gegee het, hoe meer het jou vertroue gegroei. 

Of dalk het jy al gesukkel met kreatiwiteit. Die muse was doodstil. Wat het jy toe gedoen? As jy slim was, het jy net ’n pen of ’n kwas opgetel en geskep en geskep en geskep, soms die grootste klomp nonsens, net om jou kreatiwiteit soos ’n ou motorbattery aan die gang te kry totdat dit weer vanself kon loop. 

Mens is selde van die begin af ryk aan positiewe emosies. Jy moet dit aanleer deur dit uit te deel.

Dalk is dié gedagte vir jou van waarde, hier in ’n tyd wat feitlik almal rondom ons – waarskynlik ek en jy inkluis – pap moeg, teleurgesteld, futloos en moedeloos voel. Dit is 100% verstaanbaar dat baie van ons nie meer kans sien om aan te hou probeer nie. 

Júís daarom moet ons nou aan die werk spring en iets doen sodat ons tenk vol kan raak. Jy kan nie wag dat dit vanself gebeur nie. 

As jy voel jy het jou selfbeeld verloor, is nou dalk die tyd om na mense uit te reik, veral wanneer jy nie lus het nie. Kom iewers waar mense vir jou gaan glimlag en jou gaan help om weer in jouself te glo.

As jy bang is om weer te werk omdat jou vorige loopbaan misluk het, is dit nou juis die tyd dat jy iets, enigiets moet doen, sodat die geleenthede in jou lewe weer kan begin sneeubal. Selfs al is dit aanvanklik net vir drie kliënte en ’n kwart van jou vorige inkomste.

Dankbaarheid. Entoesiasme. Bewustelikheid. Wat ook al tans in jou lewe kort – begin woeker met die bietjie wat jy nog oor het.

Ons kan nie nou gaan lê nie.

Daar is tye wanneer ons dit kan geniet om deur oorvloed omring te wees, tye wanneer ons floreer. Julie 2021 is nie een van daardie tyd nie. Ons is nou in ’n lang winter. In tye soos dié moet mens winter-emosies inoefen: Selfsorg, veerkragtigheid, moed. 

Ek hoop iets hiervan help. Dis die sake waaroor ek tans baie nadink.

Laat weet hoe gaan dit met jou.

***

Ons sou nou in Julie ‘n inleidingskursus tot meditasie in Bloemfontein gehou het, maar die regering het ander planne gehad. Tans beplan ons dit vir Augustus. Hou saam duim vas dit kan gebeur, en hou die sosiale media dop vir nuus.

***

Ons sou nou in Julie ‘n inleidingskursus tot meditasie in Bloemfontein gehou het, maar die regering het ander planne gehad. Tans beplan ons dit vir Augustus. Hou saam duim vas dit kan gebeur, en hou die sosiale media dop vir nuus.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: