Het jy al een van die volgende dinge beleef?

  • Jou motor breek en jy besef meteens daar is niemand in jou lewe wat jy vir ’n rygeleentheid werk toe kan bel nie.
  • Jy lê in die hospitaal ná ’n operasie en niemand kom kuier nie.
  • Jy is Oukersaand alleen by die huis.

Onlangs luister ek na ’n praatjie deur ’n dokter wat sê hy het oor die jare tientalle mense in die hospitaal sien sterf. Die ding wat hom bybly, is hoeveel van daardie mense stoksielalleen was toe hulle hul laaste asem uitgeblaas het. 

Wanneer ’n pasiënt op sy laaste is, vra die personeel of daar iemand is wat hulle kan bel om die persoon in sy laaste ure by te staan. Jy sal dit nie glo nie, vertel die dokter, maar minstens ’n derde van alle mense sê nee, daar is niemand nie.

Dikwels word dié mense uit die hospitaal na hul graf gestuur, sonder dat enigiemand vir hulle ’n begrafnis reël.

Dalk het jy wel mense wat na jou begrafnis sal kom. Maar tog het jy al (dalk redelik onlangs) laatnag ’n depressiewe episode gehad en diep-diep-diep nodig gehad om met iemand te praat … maar jy kon aan niemand dink om te bel nie. 

Ek vermoed vrek baie van ons ken dié ervaring.

’n Voormalige Amerikaanse minster van gesondheid, Vivek Murthy, het onlangs ’n boek oor eensaamheid geskryf waarin hy sê eensaamheid is een van die wêreld se mees onderskatte gesondheidsbedreigings. Eensaamheid korreleer sterker met ’n vroeë dood as vetsugtigheid. Eensaamheid het statisties ’n groter kans om jou voor jou tyd te laat sterf as tabakrook. 

***

Hoekom is dit so seer om eensaam te wees?

In st.5 wou niemand met my vriende wees nie en ek onthou dit as een van die pynlikste ervarings van my lewe. As ek aan my destydse eensaamheid terugdink, maak dit veel seerder as ’n operasie wat ek dieselfde jaar ondergaan het. Die operasie se pyn het heeltemal uit my geheue verdwyn. Maar die herinnering daaraan om pouse eenkant op die skoolgrond te sit en skaam te kry dat niemand anders by my wil sit nie, dit voel ek nog aan my bas.

Alleenheid insigself is nie die probleem nie. Jy het al heerlike tye op jou eie gehad – die dag toe jy alleen ’n berg uitgeklim het, die keer toe jy alleen by die huis witwyn in die bad gedrink het.

Wat maak eensaamheid anders?

Dink aan ’n keer toe jy regtig eensaam wees? Die keer toe jy ’n Vrydagaand by die huis gesit het omdat jy al een was wat nie na ’n partytjie genooi is nie. Of die keer toe jy by jou leë huis ingestap het pas nadat jou lewensmaat jou gelos het.

Onthou jy die tekstuur van daardie oomblik? Waar in jou lyf het die gevoel gesit? Wat was die vrese en stories wat oor en oor deur jou gedagtes gedwaal het?

Hier is wat ek vermoed: As jy daardie herinnering eerlik ondersoek, gaan jy agterkom wat jou seergemaak het, was nie die sodanig dat jy alleen was nie, maar eerder ’n diepe skaamte.

As jy my vra, is die pynlikste deel van eensaamheid die skaamte dat jy nie goed genoeg is vir ander se liefde of aandag nie.

Ander kinders het gekies om jou nie na hul partytjie te nooi nie. Wat is verkeerd met jou?

Jou maat was nie meer lus om hul lewe met jou te deel nie. Wat is verkeerd met jou?

Almal het van jou vergeet en het gekies om hul tyd eerder met interessanter, mooier en liefdevoller mense deur te bring. Hoe pateties.

***

Nou ja. As dit so erg is, kom ons doen iets daaromtrent.

Eerstens, as jy mense in jou lewe wil hê, help dit nie jy wag vir hulle nie, jy moet hulle gaan haal:

  • Nooi mense oor eerder as om te wag dat hulle jou nooi.
  • Sluit aan by organisasies (die plaaslike veerpyltjieklub, volwasse ballet, die sterrekykersklub, die Bybelstudie, Crossfit, die opsies is eindeloos).
  • Word iemand wat energie uitdeel eerder as energie opeis. Hoe kan jy ander verryk? Is daar kinders wat jy kan tutor? Is daar ’n sopkombuis waar jy kan help skep? Kan jy in die bejaardetehuis gaan kuier? Studie op studie wys die mees vervullende vorm van sosiale interaksie is die soort waar jy ander help. 

Dan maak jy hopelik meer vriende. 

Maar dit los net een deel van die probleem op. Soos ons gesien het, is die rede vir jou pyn nie sodanig die feit dat jy alleen is nie. Die eintlike bron van jou pyn is skaamte.

So, kom ons doen ’n denkeksperiment om ons anders daaroor te help dink:

Dis die oertyd. Die veld wemel van diere. Leeus is sterk want hulle het groot kloue. Renosters is sterk want hulle is dik. Ape is oukei want hulle kan hoog bo in bome skuil. Springbokke is oukei want hulle kan baie vinnig van roofdiere wegkruip.

Waar pas die mens in? Mense kan nie boomklim nie. Hulle is te stadig om vir roofdiere weg te hardloop of om prooidiere in te hardloop. Hul tande is te stomp en hul naels te kort om met ander diere te kan meeding. Daar was nog selde ’n meer useless dier in die natuur as die mens.

Oermense het egter een voordeel wat hulle help oorleef: Hulle vorm hegte, koöperatiewe groepe. Anders as bokke wat net saam-saam wei maar steeds op hulself aangewese is, help mense mekaar. Hulle pas mekaar se kleintjies op, stig jaggroepe, help mekaar skuilings bou.

Wat word van die enkele oermense wat nie in die groep aanpas nie en alleen opeindig? Hy kan nie alleen jag nie, hy kan nie alleen baklei nie en hy word baie vinnig deur ’n krokodil of ’n pak wildehonde opgevreet. 

Dis natuurlike seleksie. Die oermens wat oukei is om op sy eie te wees, gaan nie moeite doen om vriende te maak nie, gaan nie ’n trop kry nie en gaan deur ’n krokodil gevang word. Die oermense daarenteen wat irrasioneel bang is om alleen te wees en moeite doen om in die groep te bly, leef langer, kry meer kinders en plant sy gene voort. En so word vrees vir alleenheid elke geslag sterker en sterker in ons ingeteel totdat mense ’n doodsvrees het om op hul eie te wees – ’n fobie wat ewe sterk is as ’n kat se vrees vir water of ’n bobbejaan se vrees vir ’n slang. Alleenheid is iets wat jy moet vermy as jy wil oorleef.

Vir my help dit om so iets te weet. As ek alleen is en ek kry skaam daaroor, dan maak ek myself rustig sit, skink vir my ’n koppie tee en ek sê vir myself, “Ou, moet nou nie op hol gaan met hierdie skaamwees-gedagtes nie. Jy is veilig, niks gaan jou verskeur as jy alleen is nie, dis net jou gene wat so bedraad is om jou bang te maak.”

En as dit enige troos is: Almal, selfs die mense met tienduisend volgelinge op Instagram, het dieselfde fobie vir alleenwees in hul gene. Selfs die gewilde kinders in jou skool lê saans en wonder hoekom hulle nie meer vriende het nie. Is dit rasioneel? Natuurlik nie. Maar jou gene is nie rasioneel nie. Hulle wil net in die wildernis kan oorleef.

***

Die volgende punt is belangrik: Eensaamheid is nie jou vyand nie. Dis net ’n wollerige, primitiewe diertjie in jou gemoed wat jou teen leeus en wilde honde wil beskerm.

Dié diertjie het bloot nog nie besef ons leef in ’n era dat jy op jou eie veilig kan wees nie.

Moenie eensaamheid verwyt nie. Sê dankie vir wat dit wil kom doen. Selfs al is dit ’n paar millennia te laat. 

So as jy op ’n Vrydagaand die stekie van eensaamheid voel, moet jou nie verhard en dit wegwens nie. Oefen om sag met jouself te wees en dankbaar te voel vir die stemmetjie wat oor jou veiligheid besorg is. Ons weet teen dié tyd enigiets maak minder seer as jy ophou om daarteen te baklei.

Hiervoor moet jy baie oplettend wees. Jy moet fyn aandag gee en die eensaamheid raaksien die oomblik as dit in jou hart opduik – voordat dit in skaamgedagtes oorgaan.

Wat doen mens dan?

Maak die deur van jou hart oop. Daar staan Eensaamheid en klop, ’n lelike ou wollerige diertjie. Moet hom nie wegjaag nie en moenie skaam voel dat hy gekies het om aan jou deur te kom klop nie. Nooi hom in en maak vir hom tee.

Sê: “Hallo Eensaamheid, van watter soort tee hou jy?” 

En voeg by: “Dankie dat jy vir my omgee. Dankie dat jy my wil beskerm. Jou sorg is eintlik ’n bietjie misplaas, ek loop nie regtig tans gevaar van wilde diere nie. Maar ek is nogtans bly daar is iemand soos jy wat vir my omgee, selfs al is dit ’n oerdiertjie.”

Dis so bietjie laf. Dalk laat dit jou glimlag. Maar as daar wel iemand is wat regtig vir jou omgee, iemand wat wil hê jy moet veilig wees, selfs al is daai iemand eintlik net ’n deel van jouself, dan weet jy mos jy word lief gekry.

***

Teken in vir die gereelde Blydskap-nuusbrief deur hier te klik.

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad “Blydskap”, waar ons 3 September 2020 om 6nm oor een van die hoofstukke uit Blydskap, deur Johannes de Villiers, gesels.

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: