Die vraag “hoe gaan dit?” word omtrent altyd op so manier gevra en geantwoord dat dit nie klink of enigiemand nagedink het oor dit waarvan hulle praat nie.
Mens benodig eintlik ’n alternatief vir dié vraag.
So paar jaar gelede moes ek ’n kursus lei waarvoor die lede elke week vir ’n gesamentlike dinksessie byeengekom het. Dit was ’n klomp mense wat in positiewe denke en emosionele groei belang gestel het, en ek wou graag ’n kreatiewe manier kry waarop ons ons weeklikse byeenkomste kon afskop.
Toe besluit ek om die “hoe gaan dit”-vraag op te dollie.
Elke week, nes ons ons sit in ’n kring gekry het, ek het ek na iemand gedraai en gevra: “Vertel ons van iets wat vandag in jou lewe gebeur het waarvoor jy dankbaar is?” En dan het ons met die kring langs vir elkeen ’n beurt gegee om dieselfde ding te doen.
Die eerste keer was dit maar ongemaklik. Niemand het ’n voorbereide antwoord gehad nie, en mense het soms oninteressante antwoorde gegee. “Ek het kos gehad om te eet.” “Die weer was mooi.” Sulke dinge.
Maar die volgende week het ek met dieselfde vraag begin. “Vertel ons van iets wat vandag in jou lewe gebeur het waarvoor jy dankbaar is?” En toe die deelnemers besef ons gaan voortaan elke week op dieselfde noot afskop, het iets oulik gebeur. Mense het die dag voor die byeenkoms hul oë bietjie wyer oop gehou en hul ore gespits. Hulle was in hul alledaagse lewe op uitkyk vir positiewe dinge in hul lewe wat hulle by ons vergadering kon oorvertel. “Ek het lekkers in die kas gekry waarvan ek al vergeet het.” “My hond het my in die bed kom wakker maak.” “Ek het met ’n vriendelike bergie begin gesels en dit het my opgekikker.” “Toe ek die yskas se deur oopmaak, het die koue lug so lekker in my gesig gespoel dat ek eers ’n oomblik stil gestaan en dit geniet het.”
Die inhoud van dié mense se lewens het nie oornag verander nie. Maar hul perspektief het geswaai. Hulle het begin om die positiewe dinge meer bewustelik op te let en dit in hul geheue te bêre.
Daar is iets geweldig kragtig aan die vraag: “Vertel my van iets wat vandag met jou gebeur het en waarvoor jy dankbaar is?”
As jy ’n vergadering daarmee open, skep jy van die begin af ’n atmosfeer van kreatiewe positiwiteit.
As jy dit vir kinders smiddae ná skool vra, bemagtig jy hulle om meer positief oor hul lewens te dink.
As jy en jou vriende jul kuiers (dalk by die leeskring of die Bybelstudie of die manne-aand, of waar ook al) so begin, sien julle in die proses iets van mekaar se vreugde en mekaar se siel wat julle andersins nie sou geken het nie.
***
Dis November 2020. Mens voel amper bang om die jaartal hardop te sê – dit klink al soos die naam van ’n monster. As iets verkeerd gaan, rol mense deesdae hul oë en fluister “2020”, so asof dit alle teenspoed verklaar, asof die jaar bonatuurlike vermoëns het om slegte dinge te laat gebeur.
In die volgende twee maande, soos wat mense bestekopname van die jaar doen en nuusmedia hul jaarlikse terugskouings begin doen, kan jy maar weet jy gaan baie swartgallige lyste van virusse, ekonomiese depressie, rassegeweld, geslaggeweld, magmisbruik, ensvoorts hoor.
Vir die belang van jou eie geestesgesondheid wil ek jou nou al aanmoedig om te kyk of jy iets in jou lewe en jou gesprekke kan inbou wat daardie swartgalligheid kan teenwerk of minstens kan balanseer. Een nuttige instrument is die vraag: “Wat het vanjaar in jou lewe gebeur waarvoor jy dankbaar is?”
Dalk gaan mense aanvanklik hard moet dink om met iets vorendag te kom. Maar vra dit oor en oor. Maak dit ’n dissipline. Oefen om op ’n nuwe manier na die jaar te kyk.
Ek gaan probeer om my werk se jaareindfunksie met so ritueel te begin. En die kuiertjie wat ek en my vriende vir vroeg Desember beplan. En Kersete.
Dalk dink mense aanvanklik dis mal om in ’n jaar soos 2020 iets te probeer vind waarvoor mens dankbaar kan wees. Maar dalk skuif ’n paar perspektiewe ook.
“In 2020 het ek meer oor myself en my emosies geleer, en dit bemagtig my vir die lewe vorentoe.” “In 2020 het ek post-traumatiese groei belewe wat my vir altyd sterker sal maak.” “In 2020 het die lewe my gedwing om tot stilstand te kom en die tyd met my geliefdes by die huis deur te bring wat ek altyd vermy het.” “Ek was weer kreatief.” “In 2020 het ek iets nuut besef oor hoe interafhanklik ons wêreld is en het ek ’n nuwe waardering vir almal in ons land en wêreld wat meewerk om mekaar te voed en te onderhou.” “In 2020 het die lewe my gedwing om veranderinge aan my pad te maak wat ek nie uit eie beweging sou maak nie.”
As jy kans sien, lewer sommer hier kommentaar en vertel ons waarvoor jy in 2020 dankbaar is. Of stuur ’n boodskap. Ek sal graag oor die volgende paar weke van ’n paar mense wil hoor en sal graag (sonder om name te noem) oor ’n paar weke iets wil skryf oor hoeveel stof tot dankbaarheid die laaste maande ons gegee het.
Hoeveel ryke stof.
Ek het dit al vroeër genoem en ek herhaal dit graag: Jy gaan eendag op 2020 terug kyk as een van die jare waarin jy emosioneel en geestelik ongekende groei beleef het. Ek hoop jy begin al by die punt uitkom waar jy dit kan raaksien.
So ja.
Tel jou seëinge. En deel hulle met ons.
***
Ek is nogal bly om te kan deel ‘n hele klomp mense het die laaste weke op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.
***
Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.
As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.