In die 1500’s het die Franse filosoof Michel de Montaigne sy tydgenote regop laat sit deur ’n opstel te skryf waarin hy gesê het kannibalisme is nie so erg soos almal dink nie.

Ek dink vandag, hier in die vroeë dae van 2021, kan ons baie by daardie opstel van Montaigne leer.

In die 1500’s was Frankryk soos baie van Europa ’n plek waar geleerde mense met mekaar Latyn gepraat, vrouens ongemaklike formele rokke gedra het, en mense daarop gesteld was om beskaaf oor te kom. Die koning en sy vriende het gereeld spoggerige partytjies in hul klipkastele gehou en breedsprakige filosowe het graag oor die groot denkers van die antieke tyd gesels.

In dié tyd was Montaigne erg aweregs. Hy was ’n politikus, maar het nooit baie senior poste gekry nie omdat hy nie sy tyd se norme goed kon nakom nie. Op politieke byeenkomste byvoorbeeld, kon hy nooit by die gespreksonderwerp hou nie – sy gedagtes het gedwaal en hy het stories begin vertel wat – hoewel interessant – mense se tyd gemors het. Uit destydse beskrywings van hom klink hy so bietjie soos een van daai omies wat laataand in ’n kroeg sit, met een dop te veel agter die blad, en wie se geselsies van die een onderwerp tot die ander dwaal sonder dat hy ooit regtig tot die punt kom.

Hoewel dié dwaalgedagtes van Montaigne ’n swak politikus gemaak het, het dit hom ’n goeie skrywer gemaak. Hy sou soms oor totaal irrelevante onderwerpe begin dink en dan lang opstelle daaroor skryf, vol staaltjies, afdraaie, onderbrekings, en uiteindelik allerlei ongewone gevolgtrekkings. Hy het byvoorbeeld een hele opstel geskryf oor hoe wonderlik duime is. ’n Ander opstel het gegaan oor menslike liggaamsreuke, en oor hoe die ideale menslike reuk is om na niks te ruik. (As iemand soos die Franse hofdames na parfuum ruik, dan weet jy hulle probeer ’n onderliggende stankie wegsteek, het hy geskryf.)

Baie van Montaigne se opstelle is vandag nog lekker om te lees.

In die middel 1500’s het Montaigne met belangstelling kennis geneem van die ontdekkings in Amerika (destyds genoem die “Nuwe Wêreld”. Nie net is allerlei nuwe kosse (soos aartappels en sjokolade) en allerlei siektes (soos sifilis) uit die Amerikas ingevoer nie, maar die Europeërs het ook te hore gekom van allerlei vreemde kulture met rare gewoontes.

In ’n sekere sin was dié era baie soos 2021. ’n Nuwe wêreld het oop gegaan, dit was vreemd en onvoorspelbaar, mense was bang.

Die mees afgryslike ding aan die Nuwe Wêreld was volgens talle Europeërs die feit dat daar mensvreters was.

In die gebied van wat vandag Rio de Janeiro is, het hulle afgekom op ’n stam genaamd die Tupinambá wat hul vyande afgeslag, gebraai en geëet het. Europa in daai tyd was self ’n wrede plek, maar wragtag, het die mense gesê, minstens eet ons mekaar nie.

Montaigne het op ’n stadium drie lede van die Tupinambá ontmoet wat deur seevaarders na Frankryk gebring is om die koning te ontmoet. Een aand het hy by kerslig in sy klipfort ’n opstel oor die Tupinambá geskryf. Dié opstel, Oor Mensvreters, is vandag een van die bekendste filosofiese tekste uit die vroeg moderne era.

Doen jouself ’n guns en lees Oor Mensvreters. Vir ’n filosofiese teks is dit baie toeganklik. Ek het dit onlangs in Afrikaans vertaal en indien jy vir my ’n e-pos stuur na my adres (onderaan hierdie artikel) sal ek jou die Pdf aanstuur.

Die interessante ding van die mensvreters, het Montaigne geskryf, is dat hulle hul gevangenes nie opeet omdat hulle honger is nie. Daar is meer as genoeg ander kos in die woud. Hulle doen dit as ’n vorm van straf.As hulle jou in ’n oorlog gevang het, honger hulle jou eers ’n rukkie uit, praat jou goed bang, slaan jou dan dood, slag jou en eet jou op ’n groot partytjie.

Dit klink rof, maar hoe vergelyk dit met die strawwe in “beskaafde” Europa? het Montaigne gevra. Hier in Frankryk word mense gemartel. Hulle word geradbraak. Hulle word jare lank in vuil tronke vol rotte opgesluit totdat hulle tuberkulose kry en dan gehang word. Hul oorskot word by die stadspoorte uitgestal om ander misdadigers af te skrik.

Boonop het die Franse baie arm mense, boemelaars en haweloses wat geen straf verdien nie, maar wat nogtans op straat lewendig wegkwyn, nes vandag in 2021.

“Ek dink dit is wreder om ’n mens lewendig te laat wegteer as om ’n mens te eet wat reeds gesterf het,” het Montaigne geskryf.

Dis indrukwekkend om vandag sy artikel te lees en te sien hoe krities hy oor sy eie samelewing was.

“Dit pla my nie as mense sê die vreemde stamme se optrede is afgryslik en barbaars nie. Wat my egter wel hinder is wanneer ons ander so gretig veroordeel terwyl ons vir ons eie wreedhede blind is.”

Montaigne gaan dan voort en beskryf ander “barbaarse” eienskappe van die mensvreters. Elke keer vra hy of sy eie kultuur regtig kan bekostig om hulle hoogheilig te hou.

Ja, die mensvreters is veelwywers, maar hoewel die kerk veelwywery verdoem, is dié praktyk waarskynlik beter as die Franse gebruik om met een vrou te trou en haar dan pal te verneuk.

Ja, die mensvreters maak gedurig oorlog. Maar anders as die Europeërs wat oorlog maak om ander nasies se grondgebied af te vat, het die mensvreters geen materialistiese motiewe nie – hulle baklei net om te bewys hoe dapper en sterk hulle is; nadat hulle hul vyande verslaan en ’n paar van hulle opgevreet het, verlaat hulle die vyand se gebied en laat hulle in vrede voortbestaan.

Ons aanvaar dit so maklik vanselfsprekend dat ons eie leefstyl beskaaf en reg is, skryf Montaigne. Daarom is dit gaaf as ons paaie soms met ’n radikaal anderster wêreld kruis. Dit gee ons ’n nuwe perspektief op ons eie manier van lewe, help ons om te sien waar ons te kort skiet en waar ons nog kan vooruitgaan. Dis ’n kans om oor te begin en beter te lewe.

Dikwels is die monsters wat ons bangmaak, net deel van ‘n nuwe wêreld wat ons nog moet leer verstaan.

Dis nogal interessant dat die ontdekking van die Nuwe Wêreld, so wreed as wat die koloniale oorloë ook al was, Europeërs uiteindelik nuut oor hul samelewing laat dink het en so twee eeue later deur die Verligting en die eerste burgerregtebewegings opgevolg is.

***

Nou ja. Dalk gaan ek te ver as ek die ontdekking van die Nuwe Wêreld met ons huidige situasie wil vergelyk. Maar ek dink tog die laaste weke het dit duidelik geword dat 2020 nie net ’n vreemde afwyking was waarvan ons gaan herstel nie. Ons staan op die drempel van ’n nuwe wêreld. Hierdie wêreld sluit (hopelik) nie mensvreters in nie, maar wel ander vreemde dinge: virusmutasies, maskers en sosiale distansiëring, nuwe maniere van werk, skoolgaan, kuier, vry …

Die laaste dae is dit opvallend hoe baie mense reeds kla oor hoe aaklig 2021 gaan wees. Dis seker verstaanbaar. Die groot sterftesyfers en ekonomiese ontwrigting alleen is iets om by voorbaat te betreur.

Maar ek hoop ook jy kan iewers in die volgende weke soos ou Montaigne in sy toring jouself afvra watter lig die nuwe wêreld op ons oue werp. Ja, dit is dalk afgryslik, maar kan ons dalk ons kop draai en soms die omwentelings as ’n geleentheid sien om beter te word?

Voorbeeld: Ek werk op ’n universiteitsdorp. Die ou model van koshuise, groot lesinglokale en laataand suiperye is poer in sy moer.

Nadeel: Die sosiale sy van studentelewe is daarmee heen. Die mentorskap wat jy kon beleef deur voor en na lesings met jou professore te gesels, is verlore.

Maar: Kyk ons nie te maklik die foute van die ou model mis nie? Baie arm studente kon nooit graad kry nie, omdat dit gewoon vir hulle onmoontlik was om drie jaar na ’n vreemde dorp te verhuis, in ’n koshuis te bly en sonder hul steunnetwerk te oorleef.

Die nuwe wêreld dwing universiteite om vir daardie studente aanlyn leergeleenthede van gehalte te skep wat hulle kan benut terwyl hulle steed by die huis woon en in hul gemeenskap werk.

Ja, jy kan nou nie so baie by jou vriende kuier nie. Maar wat het jy in die plek van jou ou sosiale lewe? ’n Kleiner groep vriende wat meer moeite met mekaar doen. Inniger, hegter vriendekringe wat werk verg, eerder as ’n groot klomp vlak vriendskappe.

Ja, jy kan nie elke Sondag in die kerk sit nie. Maar dalk dwing die tyd by die huis jou tot dieper nadenke, en kan jy tussen die aanlyn opsies opnuut besin oor watter geloofsgemeenskap jou siel voed. Dalk is jy lid van een van die gemeenskappe wat die laaste maande moue opgerol het en besef het daar is in altruïsme en gemeenskapswerk meer geestelike groei as die meeste eredienste.

Ja, jy kan nie meer kantoor toe gaan nie. Maar dalk beteken dit ook oopplankantore is nou iets van die verlede.

Ag, ek weet ook nie. Jy ken jou lewe en jy sal beter kan sê wat op jou van toepassing is en wat nie. Dalk moet jy net Montaigne lees en kyk of dit sin maak wat jy daar sien. En dalk moet jy, soos hy, nie net die algemene mening oor die “nare nuwe wêreld” vir soetkoek opeet nie, maar die toekoms ’n eerlike kans gee om jou positief te verras.

“Dit is hoekom mens versigtig moet wees om sommer netso die openbare mening oor enigiets te glo,” het Montaigne 500 gelede in Oor Mensvreters geskryf. “Dink elke saak rasioneel vir jouself deur, eerder as om jou deur die stem van die meerderheid te laat lei.”

***

Ek het verlede maand as ’n stokperdjie Montaigne se Oor Mensvreters (Des Cannibales) uit Frans na Afrikaans vertaal. Ek is nie die wêreld se vlotste Fransspreker nie en baie kenners sal meen die vertaling is te los en interpreterend. Maar ek sal dit graag met jou deel.

Ek het ’n paar eksemplare gedruk en laat vaskram, so as jy my persoonlik ken, kan jy een of ander tyd een by my kry. Alternatief kan jy vir my ’n e-pos stuur by johannes@blydskap.com en ek sal met graagte die Pdf vir jou stuur.

2021 is ’n Nuwe Wêreld. Maak die beste daarvan.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: