Jislaaik, daar is nou baie winkels in my straat met “To Let”-bordjies in hul vensters. En ’n hele klomp nuwe gesigte onder die plaaslike haweloses.

Ek sit nou die laaste vier maande sonder my gebruiklike inkomste, maar ek worry nie pynlik baie nie, want ek het darem spaargeld om van te lewe. En as iemand wat al ’n keer of wat van loopbaan verwissel het en baie ander mense dopgehou wat (dikwels nie uit eie keuse nie) van loopbaan moes verander, het ek ’n paar wenke wat ek graag deel.

1. Die eerste wenk is sielkundig. Herinner jouself: Daar is lewe buite jou huidige maatskappy/instansie.

As mens vir ’n groot maatskappy of instelling soos ’n universiteit of die staat iets werk, is dit maklik om te dink daar is geen lewe buite daardie maatskappy nie. Veral as jy lank daar gewerk het en die meeste van jou vriende ook. Jy begin glo as jy die maatskappy (moet) verlaat, gaan jy uit ’n vuilgoedblik eet.

Die eerste ding wat jy moet doen is om jouself ’n reality check te gee. Miljoene mense werk buite jou maatskappy en oorleef. Dit is dalk ’n harde aanpassing, maar derduisende mense wat dommer, luier en minder opgevoed as jy is, het dit al reg gekry.

In my ervaring, die oomblik as jy jou maatskappy verlaat met al jou lessenaargoedjies in ’n kartondoos, is dit soos ’n lig wat aangaan, jy besef meteens daar is baie geleenthede wat jy voorheen nooit eens raak gesien het nie. Dis ’n kopskuif.

2. Tweedens: Sny onmiddellik jou begroting.

Jou lidmaatskap van die oefengimnasium en jou Audible Gold-lidmaatskap sal ongelukkig moet vries. As jy gewoond is om by Woolies te koop, begin koop by Pick n Pay. As jy gewoond is aan Pick n Pay, skuif na Shoprite. Koop jou toiletpapier en seep by die USave. Hou op uiteet. Maak jou ou klere reg eerder as om elke seisoen nuwe klere te koop.

Dit klink morbied, maar eintlik is daar ook vreugde aan ’n eenvoudiger leefstyl. Daar is moerse baie gratis dinge wat ewe lekker is as dinge waarvoor jy voorheen betaal het. Bergklim is selfs lekkerder as die gim. Gratis podcasts op iTunes is net so interessants as duur luisterboeke. Sluit aan by die munisipale biblioteek.

Toegegee, om jou eie kar te was is nie lekker nie, maar dis wat jy nou moet doen.

3. Derdens: Gun jouself ’n maand of twee om te rou.

Party mense voel sleg omdat hulle aanvanklik nie die energie het om iets nuut aan te pak nie. Dis nie omdat daar iets met jou verkeerd is nie, dis net omdat jy nog in rou is. Dis heeltemal normaal as die lewe jou geskop het dat jy nie dadelik kreatief en entrepreneuries gaan voel nie. Jy moet eers bietjie jou wonde lek.

Moet net nie die routyd in ’n kamer met toe gordyne of op sosiale media deurbring nie. Sien vriende, kom in die buitelug, lees die boeke waarvoor jy nie voorheen tyd gekry het nie.

4. DAN: Neem bestekopname van jou vaardighede en begin hulle in geld om te sit.

Selfs al lewer nie een van hulle ’n volledige inkomste op nie, vir ’n tyd gaan jy jou net wyd moet gooi. As jy hou van konfytmaak, maak konfyt en verkoop dit op die plaaslike boeremark. As jy Duits kan praat, bied aan om via Zoom vir kinders klasse aan te bied. As jy kan spel, proeflees tesisse. Stap teen betaling met ander mense se honde. Was mense se motors. Leer hoe om Zumba-klasse te gee. DIVERSIFISEER JOU INKOMSTE.

Aanvanklik gaan nie een van hierdie goed soos ’n loopbaan voel nie. Maar niks begin ready made en klaar nie. Gestel jy maak byvoorbeeld konfyt vir die boeremark. Die een vrou wat verbykom het ’n deli. Sy vra of jy nie vir haar ’n paar wil aflewer nie. Kort voor lank vra haar kliënte of jy in groot maat kan aflewer. Jou etiket word bekend. Jy begin aan gesondheidswinkels en plaasstalle te lewer. Via TV vra jou om aan ‘n realiteitskosreeks deel te neem. Oprah Winfrey kon doen ’n onderhoud. Jy kry ’n Nobelprys vir vrede. Maar dit alles begin ’n stalletjie op die boeremark en ’n paar flessies.

Hierdie kan ’n heerlike avontuur wees. Nou is die tyd om kreatief te wees en iets nuut te skep. Daar is geen groter vreugde nie.

By the way: Ek gee tans Franse lesse op Zoom. As jy belangstel, laat my weet en ons reël iets, merci beaucoup.

5. Moenie jou van mense afsonder nie. Ek het net verlede week gesels met ’n vrou wat haar werk verloor het en wat op die rand van depressie was. “Kom ons gaan doen buitelugjoga om jou op te cheer,” sê ek. Toevallig gaan nog ’n vrou ook saam. Die twee gaan aan die gesels. Dit blyk die tweede vrou se maatskappy soek tans iemand met die eerste vrou se vaardighede. Probleem opgelos, sommer so tydens downward dog.

NETWERK NETWERK NETWERK NETWERK.

Deel nog wenke in die comments as jy aan iets kan dink. Maar die belangrikste is om jouself te herinner jy is oukei. Jy is nie die eerste persoon om hier deur te kom nie, jy is sterk, jy stam af van magtige oerkrygers, verkenners en vryheidsvegters, my donder, jy is sterker as jou probleme!

***

Deel met vriende: