Baie mense is bang vir oudword, en vermoedelik nie net omdat hulle vrees om neusgathare en hangboude te kry nie.
Daar is in ons 21ste eeuse kultuur ’n wydverspreide opvatting dat mense bo die ouderdom van 40 dommer raak.
Antieke beskawings het ou mense vir hul wysheid geëer, maar die meer moderne idee is dat ouer mense sukkel om rekenaarprogramme te bemeester, verouderde werkspraktyke het, en te dig is om nuwerwetse musiek te verstaan.
Ek het al in ’n maatskappy gewerk waar ‘n grootbaas na bewering hoor sê is hy sou verkies om niemand ouer as 35 aan te stel nie. Jong mense is rats en skerp, het hy gesê. Oues is stadig en onoorspronklik.
Aangesien ek self ’n ou kêrel van 46 is, wil ek dadelik stry, maar dit blyk tog daar is ’n mate van waarheid in dié vooroordeel. In ’n onlangse boek skryf die navorser Arthur Brooks mense se prestasie in baie loopbane piek rondom hul vroeë dertigerjare. Brooks haal syfers vir uiteenlopende loopbane aan en dis als nogals sleg nuus vir ’n grysaard soos ek.
Almal sal weet professionele sportsterre bereik hul loopbaanpiek in hul vroeë 20’s en moet teen 30 meestal ’n nuwe werk vind of ’n flou weergawe word van wie hulle eens was. Dieselfde geld vir rockmusikante (dink aan die loopbaantrajekte van die Rolling Stones of Paul McCartney).
Omtrent alle groot wiskundige ontdekkings word deur slimkoppe jonger as 30 gemaak. Ná 30 spits wiskundiges hulle meestal toe op klasgee of die oplos van kleiner tegniese probleme.
Entrepreneurs kom in alle vorme en ouderdomme, maar die gemiddelde entrepreneur behaal sy of haar grootste sukses ook hier rondom 30.
Die meeste mense sal ’n uitsondering maak vir mediese dokters – ons voel almal veiliger in die hande van ’n gesoute dokter eerder as ’n groentjie. Maar o wee, as mens na die data kyk (in die VSA ten minste) sien jy eise vir nalatigheid en ander brouwerk teen dokters bo die ouderdom van 60 kom beduidend meer algemeen voor as vir dokters in hul 40’s. Ja, dis ’n veralgemening, maar dokters piek blykbaar ook in hul vroeë middeljare.
Nou wat is die oplossing dan? Moet jy jouself op 35 soos ’n hond laat uitsit – quit while your winning. Daar is hoeka ’n teorie dat die menslike liggaam eintlik gebou is om net so 40 jaar te hou; gaan loer bietjie by ’n ortopeed se wagkamer hoe sit die fortysomethings daar met stukkende skouers en knieë; hulle val uitmekaar.
Dis droewige nuus. Ek is iemand wat nogal in my kop lewe, en ek sou graag wou hê dat my kop ’n helder, produktiewe plek moet bly selfs al kruip ek nader aan my 50ste verjaardag.
Gelukkig is dit nie die volledige storie nie.
***
Meer as ’n halfeeu gelede het ’n ander Amerikaanse navorser, Raymond Cattel, ook opgemerk dat mense se prestasie in baie loopbane in hul laat dertigs of vroeë veertigs piek.
Hy het egter ook iets anders raakgesien: Daar is sekere ander professies wat ’n ander trajek volg: Beroepe waarin mense eers op 50, 55 of selfs 60 hul piek bereik. Dit sluit in historici, onderwysers, predikante, sielkundiges.
Wat was hier aan die gang?
Cattel het verder navorsing gedoen en sy bevindings in ’n boek genaamd Intelligence; Its Structure, Growth, and Action gepubliseer.
Hier is sy goeie nuus vir jonk én oud: Soos wat ’n mens ouer raak, raak jy nie dommer nie, maar jy raak ook nie slimmer nie. Jou brein verruil bloot ’n sekere vorm van intelligensie vir ’n ander een.
Cattel skryf intelligensie kan twee vorms aanneem:
& Vloeibare intelligensie: Dié tipe intelligensie is veral volop onder mense in hul 20’s en 30’s. Dit is rats, aanpasbaar en baie kreatief. Sulke jong mense is baie goed daarmee om buite die boks te dink (soms is hul idees laf, maar soms ook geniaal slim), om praktiese doelwitte na te streef en dinge in die eksterne wêreld te laat gebeur.
& Gekristaliseerde intelligense: Dié tipe intelligense kom later – hier vanaf 45 – en piek wanneer jy diep in jou 50’s of selfs 60’s is. Dis nie so rats nie, dit help jou nie om vars idees uit te dink nie, maar dit is baie goed daarmee om die groter prentjie te sien en om bestaande idees te rangskik op maniere wat sin maak.
Wat dit in effek beteken is dat ’n ideale arbeidsmark jong mense meestal sal benut in die poste waar jy moet wikkel en werskaf – entrepreneurs, ontdekkers, verkenners, werkermiere. Dit sal insluit joernaliste, chirurge, verkoopsmense, bemarkers, kunstenaars en polisiebeamptes in. Wanneer jy egter die ouderdom bereik waar daardie vaardighede vervaag, sal so ’n ideale wêreld mense nie bloot afskryf nie, maar hulle skuif na ’n ander stel poste waar hulle hul wyer perspektief en dieper insig kan gebruik om die jonges se skeppings te orden en in die regte rigting te stuur. Slim maatskappye sal hul direksie vul met sulke ouer mense wat kan help om dinge te kontekstualiseer en realistiese beleid te formuleer. Die akademie sal sulke ouer mense se navorsingspligte verminder en hulle meer laat klasgee sodat hulle die jonges kan lei. Allerlei poste wat meer wysheid en insig vereis, soos terapeute, onnies, menslike hulpbronbestuurders, konsultante, sal met gryskoppe volgemaak word eerder as nat ore.
Nou ja, dis als ’n veralgemening, maar ek vind dit persoonlik bemagtigend. Want hierdie insig vertel ons ook hoe ons ons eie lewensreis beter kan bestuur. Dalk vind jy deesdae die besige, skeppende, doelgerigte dinge wat jy in jou jongdae gedoen het, pas nie meer so lekker by jou bioritmes en jou veranderende waardestelsel nie. Die antwoord is nie om moed te verloor nie, maar om te gaan sit en jouself te vra hoe kan ek my werk, my loopbaan en die res van my lewe kan inrig sodat ek as ’n wyse gryse kan funksioneer, selfs al is ek nie meer die mover and shaker wat ek eens was nie.
Hoe sal dit prakties lyk? Ek kan net ’n voorbeeld van my eie beroep gee. In my 20’s en 30’s was ek ’n koerantjoernalis, en ek dink ek was heel oukei daarmee. Dit beteken ek was energiek en woelig, ek het elke dag slim planne beraam om dinge uit te snuffel, laatnagte agter leidrade aan rondgejag. Noudat ek 46 jaar oud is, dink ek nie ek sal dit meer kan doen nie. In elkgeval nie so goed nie. Ek werk nou by Huisgenoot in ’n meer raadgewende posisie, ek versorg en herskryf ander mense se artikels, mentor jonger joernaliste, gebruik my ervaring om ander se skeppings persklaar te kry en sekere tydskrifafdelings te bestuur.
Jy sal seker self weet hoe so ’n aanpassing in jou loopbaan kan lyk. Een waardevolle sleutel is om jouself te vra hoe jou werk sou lyk as “wysheid” eerder as “matelose energie” die sterkpunt was waarom jy jou dinge organiseer.
Een van die dinge wat mens help om die oorgang van die middeljare sinvol te bestuur, is om te besef daar is dinge wat eens lekker was, maar wat jy nou maar kan laat gaan. Jy bereik ’n ouderdom dat jy eerder nie meer kaalbolyf in die straat af moet draf nie. Jy raak te oud om mense op partytjies te beïndruk met hoeveel jy kan drink. En jy bereik (hopenlik) ’n ouderdom wat jy besef jy is reg vir ’n tweede beroepsfase, waar jy diep introspeksie doen oor watter vaardighede jou vorentoe beter gaan dien, en waar jy begin om jou lewe gaandeweg in daardie rigting te stuur.
***
Soos jy kan aflei as jy tot hier gelees het, dink ek tans nogal diep na oor ouer word. Breinkenners weet al lankal soos jy verouder (en dit begin reeds op 30) verswak jou brein se prefrontale korteks. Dit beteken jou geheue vervaag en jy sukkel al meer om aanpasbaar by jou omstandighede te bly. Dis op die oog af treurig.
Maar ons begin die laaste ruk ook besef daardie verandering in jou prefrontale korteks hou sekere voordele in. Soos wat jy een stel vaardighede verloor, kom nuwes na vore. Jou brein se vermoë om skerp op een ding te fokus vervaag, maar dit word vervang deur ’n vermoë om terug te tree en die groter prentjie te sien. Jy het miskien nie so baie nuwe idees soos jong mense nie, maar jou vermoë om ’n slim idee van ’n domme te onderskei, neem mateloos toe. Jy vind nie meer jou vreugde in piekoomblikke en eksterne suksesse nie, maar jy het meer behae in die alledaagse wonder van ’n ryk, gebalanseerde lewe.
Ek gaan in die toekoms bietjie hieroor skryf en daar kom ’n paar slypskole oor die onderwerp vir my medemiddeljariges. Ek sal julle op hoogte hou. Hou ’n oog op www.blydskap.com en my sosiale media.
***
Ek weet hierdie boodskap kom nou op die laaste minuut, maar indien jy binne ry-afstand van Bloemfontein woon en hierdie artikel betyds lees, onthou asseblief dat ek as deel van die Vrystaatse Kunstefees op Donderdag 6 Oktober ’n slypskool oor blydskap aanbied. Dit gebeur by die pragtige Coffee Talks/Mizpah Lodge in Rayton. Ons gaan tussen die eende en plaasdiere koffie drink en gesels oor hoe jy jou brein kan oefen om met meer danbaarheid in jou lewe teenwoordig te wees. Besoek die webwerf van die Kunstefees https://vrystaatkunstefees.co.za/ om te bespreek.