Dankbaarheid is ’n wonderlike, genesende ding. Maar daar is party goed in jou lewe waarvoor jy nooit dankbaar kan of wil wees nie.
Vra maar vir Kerneels.
Kerneels sal jou vertel sy pa se afsterwe was loshande die pynlikste ding wat nog met hom gebeur het. Selfs al was hy self byna middeljarig en sy pa bejaard – die ouderdom wat mens so half verwag jou ouers kan sterf – het dit vir Kerneels gevoel hy het gelyk sy beste vriend en emosionele steunpilaar verloor.
Sy pa het die laaste jare aan demensie gely, maar Kerneels het hom nogtans voor elke groot besluit – werkaanbiedings, huiskoop – vir raad gebel. Toe die oom te swaksinnig begin raak vir gesels, het Kerneels naweekaande langs die vuur in die agterplaas steeds sy pa se stille, gerusstellende teenwoordigheid geniet.
Deesdae sit hy op Saterdagaande alleen langs die vuur. Wanneer hy groot besluite neem, mis hy dit om ’n klankbord te hê. Hy moet naweek ná naweek sy weduwee-moeder met haar finansies help.
’n Vriend wat in positiewe denke glo, vertel Kerneels ’n “emosioneel volwasse” mens leer mettertyd om vir elke ervaring in sy of haar lewe dankbaar te wees – hetsy goed of sleg. Kerneels dink dié vriend is van lotjie getik om voor te stel hy moet vir sy pa se dood dankbaar wees.
Onlangs lees Kerneels ’n artikel oor ’n vrou in Amerika wat as tiener deur ’n psigopaat ontvoer is. Die ontvoerder het haar ses jaar lank aangehou en mishandel.
Dis nou ’n paar jaar sedert sy bevry is; die vrou lewer motiveringspraatjies en staan ander oorlewendes van ontvoering en gyselsituasies by.
Sy vertel sy het geestelike baie gegroei sedert sy uit die monster se kloue ontsnap het. Sy is nou sterker as wat sy sou wees as dit nie met haar gebeur het nie. Sielkundiges noem wat sy deurgemaak het “post-traumatiese groei” en sy is dankbaar daarvoor.
Iets in die artikel het Kerneels opgeval: Die vrou het vertel sy kan nóóit dankbaar wees dat sy ontvoer is nie – sy sou enigiets wou gee dat dit nie gebeur het nie.
Maar sy het geleer om te onderskei tussen die ding wat verkeerd geloop het en die gevolge daarvan. En vir die gevolge kan sy wel dankbaar wees.
Hier is hoe hy dit nou sien, vertel Kerneels, wat deesdae veel meer gemaklik daarmee is om ’n vaderlose man te wees: Iets het gebeur waarvoor hy nooit dankbaar kan of wil wees nie. Maar hy kan onderskei tussen (1) die ramp en (2) die gevolge van die ramp. En vir laasgenoemde kan hy wel soms dankbaar wees.
Hy is veel nader aan sy weduwee-moeder. Hy is ’n meer volwasse en selfstandige man. Hy het empatie geleer en kan vriende bystaan wat deur dieselfde proses gaan. Dit alles is dinge wat nooit oor sy pad sou gekom het as sy pa nie gesterf het nie.
Hy het geleer mens hoef nie vir die ramp dankie te sê om vir die gevolge dankbaar te wees nie.
***
Ek dink die laaste ruk aan Kerneels. Daar is min van ons wat nie die laaste jaar of twee deur ’n ramp van een of ander aard is nie. Dikwels was daardie ramp iets waarvoor ons nooit dankbaar kan wees nie.
Maar dalk kan ons ons fokus verskuif na die dinge wat “danksy” daai ramp gebeur het en wat ons verryk het.
Ek moes einde verlede jaar my sake-onderneming en my klooster sluit. Ek het lank stukkend gevoel en is nog besig om van die stukke aanmekaar te sit. Ek gaan nooit daarvoor dankbaar wees nie.
Maar laat ek vertel wat danksy daardie ramp oor my pad gekom het: Ek het na ’n nuwe stad verhuis waar ek baie gou dierbare vriende gemaak het. Omdat ek nie meer ’n vaste werk het nie, het ek besluit om ’n lewensdroom na te streef en vir ’n verdere kwalifikasie te studeer in ’n vak waarvoor ek lief is. Ek het tyd in ’n terapeut se spreekkamer deurgebring en ’n proses begin om dieper dele van myself te leer ken wat andersins vir my versluier sou bly. Die lewe is meteens nuut en daar is moontlikhede wat ek my ’n jaar en ’n half gelede nooit sou kon voorstel nie.
Ek sit soms en kyk oor die Vrystaatse winterlandskap uit en voel ’n irrasionele dankbaarheid in my bors opwel wat my soos ’n nar laat glimlag.
Hier is nog voorbeelde:
Laurika is as kind op skool geboelie en sosiaal verwerp. Sy sal nooit dankbaar kan wees vir die vernedering en eensaamheid wat sy toe beleef het nie – die aanmerkings wat ander kinders oor haar voorkoms gemaak het, die aande wat sy haarself aan die slaap gehuil het. Maar sy weet ook danksy die verwerping het sy baie vroeg geleer om individualisties te dink – sy het nooit ’n trop gehad om agterna te loop nie. Sy het haar eie smake en waardes ontwikkel, iets wat haar nou ’n meer selfstandige en tevrede volwassene maak. Sy het in skooltyd haar eensame middae in die dorpsbiblioteek deurgebring en is nou ’n kranige leser met ’n wêreldkennis wat nie een van haar ou skoolmaats het nie.
Quinton het as jongman daarvan gedroom om ’n professionele gholfspeler te word, maar verloor toe sy arm in ’n motorongeluk. Dit sal waansin wees om te dink hy moet dankbaar daarvoor wees dat hy net een arm het of dat hy nou nog gereeld met spookpyne en lompheid moet sukkel. En tog het daar dinge uit die ongeluk gevolg waarvoor hy nou wel dankbaar kan wees. Sy maande in die hospitaal en rehabilitasie het hom geïnspireer om fisioterapie te studeer. Hy versorg deesdae sy pasiënte met ’n empatie wat hy nooit sou kon hê as hy nie self ’n ledemaat verloor het nie, en sy pasiënte is mal oor hom.
Kortom, hier is die wenk:
1. Moenie jouself probeer dwing om dankbaar te wees vir die pynlike dinge in jou lewe nie. Soms moet jy die feit eer dat party dinge wreed was en jou gekwes het en dat jy dit nie verdien het nie.
2. Maar dit beteken ook nie jy hoef jou lewensverhaal te verwens nie.
3. Maak ’n lys van dinge wat in jou lewe gebeur het en wat jy nie sou gehad het as dit nie vir daardie ramp was nie. Is enige van hulle iets positief? Is daar enigiets waarvoor jy dankbaar kan wees?
4. En sê dan met oorgawe dankie vir daardie goeie dinge. Nie vir die ramp self nie. Vir die positiewe gevolge.
Moenie net vlugtig in gedagtes ’n dankie mompel nie. Maak ’n scene sodat die dankbaarheid kan insink.
Sit regop terwyl jy dankie sê.
Doen dit in ’n harde stem.
Maak ’n lys en plak dit iewers op as jy wil.
Vertel mense daarvan. Spog op sosiale media.
Gaan vier dit oor ’n drankie.
Gaan vier die nuwe jy wat jy besig is om te word.
Jy het oorleef en selfs al voel jy nog broos, is jy besig om elke dag sterker te word.
***
Jy loop soms mense raak wat jou vertel van rampe in hul verlede – egskeidings, motorongelukke, verlies – en wat jou sal vertel as hulle hul lewe kon oor hê, sou hulle dit nie anders wou hê nie. Dit het my ’n ruk geneem om te besef dié mense is nie dankbaar vir hul rampe nie; hulle het bloot geleer om die ramp te onderskei van sy gevolge, en om vir laasgenoemde dankie te sê.
Daar is baie genesende krag daarin om jou perspektief te verander. Probeer dit bietjie en laat weet my of dit werk.
***
NS: Ek vermoed dit sal dalk nie moontlik wees om dié tegniek toe te pas terwyl jy nog in die middel van ’n ramp staan, of kort daarná nie. En sommige tipes teenspoed is dalk so erg dat jou verpletter en jy nooit weer iets uit die rampterrein kan red nie. Erken vir jouself dinge is nou moeilik. Oor ’n paar weke of maande of jare kan jy weer probeer.
NNS: As jy voel dis ’n terrein van die lewe waaraan jy wil werk, kan jy gerus meer oor “post-traumatiese groei” oplees. Dis ’n groeiende veld in die sielkunde, ’n basiese boublok van veerkragtigheid, en iets wat ons vermoedelik in die volgende paar jare baie nodig gaan hê.
***
As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.
***
In September hou ons weer ‘n meditasie-slypskool in Bloemfontein. Jy is baie welkom.