Onlangs het ek probeer bereken hoeveel ure lank ek al kruisbeen gesit en mediteer het sedert ek 22 jaar gelede begin het. My baie rowwe berekening, wat daaglikse meditasies, slypskole en retreats insluit, het op sowat 3 500 ure te staan gekom, die ekwivalent van byna vyf maande se onderbroke meditasie. Dit sou meer gewees het as ek nie langs die pad een of twee keer lui geraak en en geloaf het nie.

In vyf maande sou mens ’n hele paar boeke kon lees en selfs een skryf. Ek reken 3 500 ure in die gym sou meer as genoeg wees om jou ’n sixpack te gee en in 3 500 ure kan jy ’n vreemde taal vlot leer praat.

So wat het ek om vir al dié stilsittery te wys? Ek het nie vlerkies nie en ek vloek ongelukkig nog.

Toe ek 22 jaar gelede begin het, het mense gereeld goed gesê soos “Ag wat sit jy net daar, doen iets nuttig!” ’n Ou het my eenkeer ’n “mistic couch potato” genoem.

Deesdae kry mens minder sulke beskuldigings. Almal het al ’n artikel gelees of dokumentêre film gekyk wat vertel meditasie en mindfulness doen jou goed. Daar was dalk al ’n motiveringspreker by jou werk se spanboudag wat vertel het meditasie help mens om beter te slaap, verminder jou stres en inflammasie, laat jou bloeddruk daal, help jou om beter te konsenteer sodat jy nie meer jou karsleutels en sonbril verloor nie.

Die meeste hiervan is waar, hoewel ek steeds nie ’n sonbril langer as ’n maand besit het sonder om dit te verloor nie.

Maar as jy ernstig raak, as jy meditasie ’n kerndeel van jou daaglikse bestaan maak, gebeur daar ook ander dinge, dieper dinge wat amper meer waardevol is. Mens lees nie so dikwels daarvan in populêre tydskrifte nie, en ek het besluit om ’n paar uit my gebrekkige ervaring te lys. Hier is wat ek in 3 500 ure op ’n meditasiekussing begin leer het:

  1. Mens verwar te dikwels jou gedagtes met die werklikheid.

As jy dae aaneen op dieselfde plek in dieselfde posisie sit, is jy soms sielsgelukkig, by ander tye, selfs al is jy nog op dieselfde plek en in dieselfde posisie, diep bedroef. Niks het verander nie, maar dit voel asof alles verander; net omdat jou kop ’n ander draaiboek begin speel. Jy hou later op om daardie draaiboek te glo.

Ons koppe is vol stories. Stories oor wat ander mense van ons dink. Stories oor wat die toekoms gaan inhou. Stories oor hoekom dinge gebeur het. Stories oor wie jy is. Stories oor wie ander mense is. 

Ons het ontsettende sterk menings oor die wêreld, sterker as wat ons gebrekkige kennis regtig regverdig.

Baie van ons is gesond skepties van ander mense se stories, maar sodra ’n storie in ons eie kop begin speel, dink ons nie eens daaraan om dit te bevraagteken nie. 

As jy eers innig na die geraas in jou kop kyk, begin jy jou stories minder glo. Jy is al meer bereid om vir jouself te erken dat jy 95% van die tyd nie regtig weet wat aangaan nie, dat die menings waaroor jy so sterk voel, eintlik net deel van die geraas in jou kop is, en dat jy hulle maar kan laat vaar. En anders as wat mens sou verwag, bemagtig dié besef jou nogal, want jy baseer jou lewe nie meer op vals inligting nie. 

2. Niks is net een ding nie

Ons brein het ’n rare neiging wat mens miskyk as jy in vyfde rat deur die lewe jaag. Ons neig om dinge skraps uit ons beperkte perspektief waar te neem, dit dan ’n etiket te gee, die hele ding aan daardie etiket gelyk te stel, en dan te glo dat ons dit verstaan.

Gestel nou egter jou sit lank roerloos en jy kan nie weghardloop nie. Jy voel iets in jou boud en jy plak die etiket van pyn daarop. Nou dink jy dat jy dit verstaan. Maar omdat jy nie kan weghardloop nie, duik daai ding keer op keer weer in jou gedagtes op. En omdat daar niks anders is om te doen nie, begin jy daai ding dieper en dieper te bekyk, en jy kom agter die sensasie was nooit net een ding nie. Een deel van jou boud krap. ’n Ander deel het ’n pins-and-neadles gevoel. Een deel is warm. ’n Ander deel klop. Die een deel van die sensasie raak sterker, die ander neem af. Hulle skuif rond soos wildehonde wat om mekaar beweeg. Die gevoelens in jou lyf word ’n dans van ’n duisend kleiner dinge. En mettertyd let jy op elkeen van daai kleiner sensasies bestaan ook ’n magdom nog-kleiner bewegende veranderende sensasies.

As jy lank met jou emosies stil sit, kom jy agter hulle is ook so. Jou woede is nie net woede nie. Dit bestaan uit ’n klomp gevoelens in jou lyf, ’n klomp stories wat jy jouself vertel, ’n klomp ander gevoelens soos vernedering en vrees wat agter dit skuil. 

Mettertyd – en ek is nog nie so goed hiermee as wat ek wil wees nie – bly dié vermoë om dieper te kyk by jou selfs as jy mediteer nie. Jy kyk na mense wat jy voorheen met een etiket probeer opsom het sodat jy hulle kon verstaan – misdadiger, leuenaar, vriend, kommunis, regse, wat ook al – en jy kom agter daai persoon is meer as net daai een ding. Die persoon wat die wreedste ding denkbaar gedoen het, is meer as net daardie ding. Die persoon wat die mooiste, heiligste ding gedoen het, is meer as net daai ding. Jy kom agter alle etikette is leuens.

Later begin jy sien dieselfde ding geld vir jouself.

Ons almal is ’n eindelose dans van uiteenlopende mooi en afskuwelike dinge wat elke dag verander en elke dag meer kan wees as die etikette wat ons op ons plak. Mense en dinge is almal meer as wat jy dink.

3. Om nader aan pyn te leun werk beter as om daarvan weg te skram

As jy jou hand op ’n warm stoofplaat sit, is dit ’n goeie idee om dit so gou as moontlik weg te pluk.

Ons begin weldra dink emosionele pyn werk dieselfde. As iets seer maak moet jy “getroos” word. Of jy moet iets lekker gaan doen wat jou aandag van jou pyn afvat. Veral in die aanvanklike fases van ’n seerkry is dié refleksaksies dikwels nuttig om te keer dat jou sisteem oorlaai word. 

Maar dit gaan nie jou pyn genees nie.

So op langtermyn, as jy iewers sit waar jy in ’n veilige nie-bedreigende omgewing is, en jy kan soos ’n skugter diertjie al nader en nader aan jou donker plekke beweeg, die roof rondom dit stadig los wikkel, kom jy mettertyd agter die boublokke van jou heling lê nie in jou fantasieë van ’n lewe waar jy nooit seergekry het nie, maar in jou wonde self. 

Jy begin jouself vra, wat sou gebeur as dié pyn nie iets is wat ek moet uitdoof nie, maar eerder ’n manifestasie van my diepe wysheid wat vir my iets wil kom sê?

Daardie een ding wat maak dat jou lewe anders lyk as die lewe wat jy sou wou gehad het, daardie een ding wat maak dat jy nooit honderd persent dankbaar kan wees vir die lewe wat jy ontvang het nie, is ook die sleutel wat jou eendag gaan wys hoe jy op jou unieke manier (nie op ’n ander mens se manier nie, op jóú manier) die wêreld kan help. Jy hoef dit nie nou al te sien nie, maar die dag gaan aanbreek dat jy iewers gaan sit waar jy nie meer kan weghardloop nie (en hier is meditasie ’n puik geleentheid) en waar jy gaan moet begin om jou gebrokenheid te leer ken sodat julle hande kan vat en aan ’n nuwe lewe kan bou. 

4. Die wêreld is meestal oukei as jy daaruit verdwyn

Dis verstommend hoe vas ons almal oortuig is as jy jou selfoon en e-pos afsit, gaan elke denkbare ramp by jou huis en werkplek losbars en niemand gaan dit in jou afwesigheid kan hanteer nie. Mens sou dink dit sou jou goed laat voel om so onontbeerlik te wees, maar in werklikheid weeg dié verantwoordelikhede soos ’n granietblok op jou en herinner jou daagliks dat jy nooit werklik vry kan wees nie.

As jy jouself dwing om die buitewêreld te groet – selfs al is dit net tydens jou daaglikse halfuur meditasie waartydens jou foon op silent iewers in ’n kas toegesluit is, maar veral op ’n week lange retreat – begin voel jy in jou murg die wêreld kan baie goed sonder jou klaarkom. Aanvanklik is mens so bietjie verontwaardig, maar mettertyd raak dit bevrydend. Jy loop in die straat af, jy sit in vergaderings, jy kyk om jou in ’n koffiewinkel en jy besef: “ek is nie so nodig as wat ek dink nie”. Jy raak lig, soos ’n appel wat melerig raak, maar op ’n lekker manier. Soos ’n wolk wat gaandeweg kwyn sodat die son ongehinderd kan skyn. 

***

Meditasie is dikwels so lynreg in stryd met hoe ons normaalweg oor die lewe dink. Dit wys jou as jy minder word, kan jy gelukkiger wees. Dit wys jou as jy jou seerkry liefkry, kan jy genees. Dit wys jou al jou opvattings oor jouself is ’n meulsteen.

Ek is seker van die dinge wat ek hierbo geskryf het, klink abstrak en maak vir baie mense nie veel sin nie. As mens dit maklik in woorde kon opsom, kon ek net ’n boek gelees het om dit te leer en dan hoef ek nie 3 500 ure lank stil te gesit het nie. 

Maar ek hoop dalk klink iets daarin vir jou bekend of na iets waarvan jy meer sou wou leer. Daar is eenvoudige meditasie-instruksie op my webwerf.

As jy sou belangstel om bietjie ernstiger te mediteer, laat weet my. Ek en Rolyn du Plessis bied elke tweede week meditasiebegeleiding in Bloemfontein aan. Ons beplan ook ’n projek of twee om later vanjaar meer indiepte-opleiding in die Rosestad te gee.

Ek is ook ’n instrukteur by The Robertson Dharma Centre in die Wes-Kaap, waar ons elke paar maande ’n inwonende retreat hou waar ons dae lank saam stil sit. Die webwerf is www.dharmacentre.org.za

En dan het ek twee boeke oor mindfulness/meditasie op die rak – en die derde een verskyn vanjaar in April. Weet vir seker ek sal meer inligting daaroor uitstuur soos wat die publikasiedatum nader kom. 

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: