Ek is aan sjokolade verslaaf. Dis seker nie na die ergste probleem in die wêreld nie en dis beslis nie die onaangenaamste probleem in die wêreld nie, maar dit is desnieteenstaande soms ‘n probleem.

Dit klink vir my altyd simpel as iemand ’n vrouetydskrif of so plek hulself as ’n “chocoholic” beskryf omdat hulle elke naweek ’n chocolate mousse eet. Dis nie hoe verslawing lyk nie. Verslawing lyk so:

  • Jy koop vir ’n vriend ’n boks sjokolade vir sy verjaarsdag, maar op pad na sy huis, in die kar, skeur jy die geskenkpapier oop om dit self op te vreet. (Ja, ek het.)
  • ’n Dieetkundige ontleed jou eetpatrone en vertel jou jy eet elke dag jou hele daaglikse kalorietoelae in suikervrye donker sjokolade. 
  • As jy op jou oorsese vakansie vir jou familie sjokolade koop, is dit als opgeëet teen die tyd dat die vliegtuig in Suid-Afrika land.

Dis beslis een van die lekkerder probleme om te hê. Sjokolade is romerig. Dit bevat chemikalieë wat mens gelukkig maak. Dit gaan goed saam met rooiwyn en koffie. Dit kom net allerlei fraaie geure soos karamelsout en okkerneut. En die kakao-boon is tegnies ’n groente, so donker sjokolade is vegan.

Maar ek is ook ’n tipe A-persoonlikheid wat regtig graag in beheer van my lewe wil wees en dit pla my as daar iets is wat ek weet ek nie kan beheer nie. As ek klaar aandete geëet het en daar is nie ’n sjokolade in die huis om my maaltyd af te rond nie, vaar ek soos ’n verslaafde die donker strate in totdat ek ’n oop kafee gevind het om een te koop.

Sjokolade is my baas. En ek wil nie ’n baas hê nie.

Party mense het soortgelyke probleme met anders dinge. Hulle is verslaaf aan videospeletjies, skinder of iets anders wat hulle weet vir hulle lekkerder sou wees as hulle net ’n bietjie minder daarvan kon doen. Maar hulle weet nie hoe nie.

Ek sit met die vraag: Hoe kan jy iets met oorgawe geniet, sonder dat jy beheer verloor?

***

Ek ken ’n wonderlike meditasie-instrukteur genaamd Jennifer Woodhull. Jennifer is ’n Wyse Vrou (met hoofletters geskryf) wat deesdae in ’n berg in die middel van Noord-Amerika bly, maar wat lank in ’n woonstel langs Valsbaai gewoon het, vol Tibetaanse klokke, prente van Oosterse wysgere en meditasiematte. As jy by haar gaan kuier het, het sy vir jou tee gemaak en lewensraad gegee.

Eendag gesels ons in haar sitkamer. Die see by Muizenberg is onstuimig, die wierook in haar woonstel hang dik en die goue Boeddhas beloer ons uit die hoeke. Oor ’n koppie tee vra ek haar of sy raad het vir sjokoladeverslawing. Want al my pogings om dit hok te slaan misluk.

Aandagtig, soos ’n Wyse Vrou praat, vra Jennifer my ’n teenvraag: “As jy sjokolade eet, eet jy net die sjokolade? Of doen jy dit saam met iets anders, soos TV-kyk, gesels of motor ry?”

My sjokolade-tyd is meestal saans voor TV terwyl ek The Walking Dead kyk, antwoord ek.

“Nou dan, hier is iets om te probeer,” sê sy. “Hou op probeer om minder sjokolade te eet. Gee jouself toestemming om soveel sjokolade te eet as wat jy wil. Maar doen hierdie een ding: As jy sjokolade eet, moet niks anders doen nie. Staak alle ander dinge terwyl jy sjokolade eet. Eet net die sjokolade. En kyk wat gebeur.”

Ek gaan julle nie verveel met wat alles gebeur het nie, buiten om te sê ek geniet deesdae my sjokolade soos ’n beskaafde mens.

Wat gebeur as jy sjokolade eet met die TV afgeskakel en die geraas uitgedoof? Wat gebeur as jy van sjokolade-eet ’n ritueel maak eerder as om dit net met jou halwe aandag te doen?

  • Die eerste blokke proe intens. Jy let dinge op wat jy nie sou opgelet het as jou aandag op die TV was nie. 
  • Jy raak bewus van ’n nasmaak. Voorheen het jy gedink jy moet dadelik ’n tweede blokkie eet om die smaakervaring uit te rek, maar omdat jy nou meer stip op die ervaring fokus, kom jy agter die nasmaak is net so lekker soos die sjokolade self. Jy kan ’n rukkie sit en die nasmaak van die eerste blokkie geniet sonder om die volgende een te verorber.
  • Jy ontwikkel ’n waardering vir die subtekste van smaak. Jy let nuanses op wat jou sou ontglip as jou aandag elders is. Elke sjokolade is uniek. Jy proe die sjokolade met jou hele lyf, nie net met die binnekant van jou mond nie.
  • Die tweede blokkie, wanneer jy dit eet, is beslis nog lekker, maar nie meer so veel soos die eerste nie.
  • Jy kan ná drie blokkies die papier toedraai en die sjokolade vir later wegbêre want jy word nie deur kompulsie aangevuur nie.

Later eet jy ’n sjokolade soos ’n connoisseur. Jy trek die papiertjie stadig los. Jy frommel dit nie net langs jou op nie – jy gaan gooi dit mooi weg voordat jy in ’n netjiese ruimte aansit om te eet. Jy sit dalk selfs die sjokolade op ’n bordjie. Jy kan ’n blommetjie in die tuin gaan pluk en langs dit sit. Kyk nou net! Dit lyk ’n prentjie op Sarie se resepteblaaie. Mooi. 

Voel hoe jou mond water terwyl jy kyk. Tel dit op en voel die sjokolade se tekstuur onder jou vingers. As die sjokolade romerig is, kan jy dit nie te lank vashou nie want dit begin smelt. Laat die smeltproses in jou mond gebeur. Moet dit nie net afsluk nie, dan mis jy die beste ding. As dit ’n goeie sjokolade is, sal dit stadig in jou mond meegee en ’n sjokoladesous word wat in jou keel af loop. Hou jou oë ’n rukkie toe en voel hoe die smaak in jou mond draal.

***

Mens dink soms jy verryk ’n ervaring deur ’n klomp ander lekker dinge gelyktydig te doen. Maar al wat jy eintlik doen as jy so multitask, is om jou aandag weg te steel van die ding wat jy probeer geniet, en dan verarm jy jou belewenis. Die gevolg is dat jy keer op keer, kompulsief moet terugkeer om die ding te gaan soek wat jy misgeloop het.

Ek noem dit maar net vandag want dalk is daar iemand wat ’n soortgelyke ervaring het. Dalk is jou verslawing om solitaire op jou rekenaar te speel. Of om nuus te kyk. Of om in jou neus te krap. Hoe meer jy dit probeer hokslaan, hoe meer suig dit jou in. Probeer ’n ander strategie. Gee jouself toestemming om jou plesiertjie te geniet, maar skakel die radio af, doen niks anders as net dié een ding nie. As jy aandag gee, sal jy weet wanneer om op te hou.

Dis hoekom mense wat wyn regtig aandagtig drink nie dronk raak nie. Hulle weet wanneer hulle die wyn geproe en gevoel het, en hoef nie ’n ontwykende ervaring na te jaag nie.

Hier is ons kopskuif van die week: Die meeste van die tyd as ons iets kompulsief najaag, is dit nie omdat ons die ding regtig geniet nie. Dis eerder omdat ons te afgestomp geraak het en nou vergeefs met kwantiteit wil opmaak vir die kwaliteit wat ons misloop.

Leer eerder om jou volledige aandag aan die mikrodosisse van dinge (hety kos of TV of oefening) te gee en dit sal nie nodig wees om makrodosisse na te jaag nie. Maak die ervaring volledig sodat jy nie keer op keer gaan moet terugkeer op soek na iets wat jy gemis het toe jy nie aandag gegee het nie.

Eet jou sjokolade soos ’n connoisseur. 

Leef soos ’n connoisseur.

***

Mens lees soms in populêre publikasies dit is wetenskaplik bewys dat donker sjokolade jou gelukkiger maak. Die rede is glo dat daar ’n stof genaamd flavanol in kakao is wat mens se gemoed kan verhelder.

Dis nie ’n onomstrede gedagte nie. Flavanol is inderdaad goed, maar die dosisse daarvan in sjokolade is so laag dat jy omtrent ’n boks sjokolade per dag sal moet eet om die dosisse te proe.

Maar een goeie ding van die flavanols in donker sjokolade is egter besliste goeie nuus: Dit is gesond vir jou hart. Kyk net hierdie interessante studie. ’n Stam Indiane in die Karribiese See wat kompulsief sjokolade verorber het (gemiddeld vyf hot chocolates per dag) het blykbaar baie min hipertensie as ander mense gehad. (Die studie sê egter nie hoe hulle in ’n swembroek gelyk het nie.) Toe hulle oortuig is om minder sjokolade te eet, het hulle begin om dieselfde hartkwale as die res van die wêreld te kry. 

En dan was daar minstens een studie wat bewys het sjokolade is baie goed vir jou breinfunksie en geheue. Blykbaar het hulle vasgestel hoe meer sjokolade mense in ’n land eet, hoe meer Nobelpryswenners lewer daardie land op. Nou ja toe.

Wenke vir gesonde sjokoladeverbruik:

  • Koop donker sjokolade – enigiets met meer as 65% kakao-inhoud, dis veel gesonder as melksjokolade.
  • Suikervrye sjokolade is ook beter. Vir wat sal jy sjokolade (wat ’n great smaak het) wil eet as jy net ’n klomp suiker gaan proe.
  • Maak seker met watter soort vet of room jou sjokolade gemaak is. Party soorte olies het meer gesatureerde vette as ander. 

***

Ek is nogal happy om te kan deel ‘n hele klomp mense het die laaste ruk op die Blydskap-nuusbrief ingeteken. Jy kan dit ook doen deur hier te klik. Dan kry jy van tyd tot tyd gedagtes soos die bostaande oor die menswees en al die gepaardgaande drama.

***

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blokkie-1-copy.png

Wil jy saam kuier? Volg die Facebook-blad Blydskap, waar ons Donderdae om 6nm in ‘n Facebook Live-geleentheid oor blydskap gesels. Ons takel my boek Blydskap een hoofstuk op ‘n slag, maar jy sal dit kan volg selfs al het jy die vorige aflewerings gemis.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is Blydskap-final-copy-1.jpg

As jy die boek wil aanskaf om saam te gesels, kan jy dit by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com

Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.

Deel met vriende: