Indien jy al lank genoeg lewe om in 1992 verstand te gehad het, sal die jaar om verskeie redes dalk in jou geheue vasgehak het. Dit was die jaar dat Prins Charles en Lady Di amptelik besluit het om hul aparte weë te gaan. In Amerika is die bronstige Bill Clinton tot president verkies, en in Rusland was Boris Yeltsin besig om elke dag dieper in die bottel te kyk. Suid-Afrika het in daardie jaar een van sy mees tragiese dae – die Boipatong-menseslagting — beleef.
Een ding wat egter nie in 1992 gebeur het nie, was dat die wêreld tot ‘n einde gekom het.
Dít ondanks die feit dat ’n Amerikaanse politieke wetenskaplike, Francis Fukuyama, in daardie jaar ‘n blitsverkoper gepubliseer het met die naam The End of History and the Last Man.
In die negentigerjare is Fukuyama se boek gereeld in politieke wetenskap-lesings en in koerantrubrieke bespreek; party mense het sterk daarmee saamgestem, en ander het gedink dis ‘n klomp tjol.
Ondanks hoe die titel klink, het die boek nie oor die wederkoms gegaan nie. Fukuyama se argument was meer wêrelds – hy het gemeen die “geskiedenis’ (wat nog altyd gekenmerk is deur botsende ideologieë en supermoondhede, vol woelings en onvoorspelbare wendings) het in daardie jare tot ’n einde gekom. In die Tweede Wereldoorlog is fascisme finaal verslaan, in die einde van die Koue Oorlog het kommunisme onomkeerbaar sy gat gesien, en die enigste pad vorentoe vir die wêreld sou liberale demokrasie was. Reg oor Afrika, Asië, Oos-Europa en Suid-Amerika heen het lande wat voorheen diktatorskappe was demokraties en kapitalisties geswaai. Amerika sou voortaan die enigste supermoondheid wees. Daar was niks meer oor om oor te baklei nie en die toekoms sou saai en voorspelbaar wees.
Nou ja, as mense deesdae na Fukuyama se boek verwys, is dit meestal om so bietjie vir hom te lag. Ná 1992 het die geskiedenis allermins opgehou – daar het ‘n volskaalse beskawingsoorlog tussen die Weste en die Arabiese wêreld uitgebreek, in talle voorheen stabiele moondhede soos die VSA en Frankryk is daar sterk antidemokratiese bewegings, ’n globale pandemie het die wêreld laat steier, en soos wat ek hier sit, heers daar in Europa die grootste landoorlog sedert Hitler se tyd.
Vir Fukuyama ken ek van g’n kant af nie, maar ek is seker hy moet ’n baie slim man wees. Hy is egter ook ‘n mens en het ’n dood menslike denkfout gemaak – hy kon hom nie indink dat die toekoms ewe woelig as die verlede sou kon wees nie. Hy het gedink die huidige situasie waarin hy hom bevind, is maar hoe die toekoms gaan voortkarring.
Ek en jy maak ook gereeld daardie denkfout.
***
Waar val ek vandag uit met Fukuyama en die einde van die geskiedenis? wonder jy seker.
Wel, onlangs gesels ek met my vriend Ruan toe hy my vertel hoe hy teen sy toekoms opsien. Tien jaar gelede was hy in ’n vervullende huwelik, sy loopbaan was vol belofte, hy het nog klubrugby gespeel. Maar nou is hy 47 jaar oud. Sy huwelik is oor, sy loopbaan het in middel management vasgeval en sy skouers is moertoe van jare se tackles op harde gras. Al wat hy nou het om na uit te sien, is ’n saai lewe sonder die dinge wat hom eens gelukkig gemaak het. Hoe het sy lewe so uitgedraai? wou hy weet.
En omdat ek soms bietjiie van ’n wise-ass kan wees, was dit vir my nogal lekker om my slim hoedjie op te sit en vir hom te sê: “Vriend, hou op om in die verlede tyd oor jou lewe te praat. Jou lewe het nie ‘uitgedraai’ nie. Dis nog besig om uit te draai. Laat ek jou vertel van die Einde van die Wêreld-illusie.”
In 2013 het ’n groep sielkundige navorsers die titel van Fukuyama se boek gesteel as naam van ’n sielkundige verskynsel wat voorheen nie naam gehad het nie. Die End of History Illusion, het hulle in die vaktydskrif Science geskryf, is mense se neiging om te wil dink die geskiedenis was vol woelinge, groei en omwentelings terwyl die toekoms maar gaan voortkarring op dieselfde noot as die hede.
Hulle het derduisende onderhoude met mense gedoen en gevind oor die algemeen berig mense dat die voorafgaande tien jaar van hul lewe vol verandering (positief en negatief) was, maar dat hulle nie verwag het hul situasie gaan in die komende tien jaar veel verander nie.
Die interessantste deel van die navorsing is vir my dat mense nie net die verandering in hul toekomstige omstandighede onderskat het nie, maar ook die persoonlike groei wat vir hulle voorlê.
Wanneer die navorsers dertigjariges gevra het hoeveel hulle dink hulle in hul dertigs gaan verander, het hulle meestal voorspel dat hul persoonlikheid reeds gevorm is en dat hulle nie veel gaan verander nie.
Mense wat op die ouderdom van veertig na hul dertigs teruggekyk het, het egter gerapporteer dat hulle in die dekade heelwat gegroei het.
Veertigjariges het op hul beurt gedink hul persoonlikheid is nou klaar gevorm en dat hulle in hul veertigs min gaan groei. Maar mense wat op die ouderdom van vyftig na hul veertigs teruggekyk het, het gerappporteer dat hulle in die voorafgaande dekade heelwat gegroei het.
Vyftigjariges het op hul beurt gedink hul persoonlikheid is nou klaar gevorm en dat hulle in hul vyftigs min gaan groei.
En so gaan dit van geslag tot geslag.
Almal het heelwat stories gehad oor hoe hul verlede hulle gevorm het en hoe hulle gegroei het. Maar gelyktydig was hulle skepties of die toekoms vir hulle veel groei inhou.
Dis asof almal dink hierdie dag en datum waarop ons ons nou bevind, is op ’n bisare manier die punt waarop die lewe afgestuur het, dat alles in jou verlede jou gevorm het, maar dat die toekoms jou weinig gaan kan leer. Dat jy die einde van jou persoonlike geskiedenis bereik het.
***
Nou ja, dis alles interessant, maar wat maak mens met die inligting?
Ek weet nie van jou nie, maar vang my soms dat ek so bietjie mismoedig voel oor aspekte van hoe my lewe uitgedraai het. Ek kyk soos enige mens soms na my lewe en dink hoewel dit heel oukei lyk, is dit ook nie 100% soos ek gehoop het dit sou opeindig nie. Daar was sekere dinge wat ek wou hê en ek is spyt dit het nie gebeur nie.
As ek myself dan herinner dat ek in die Einde van die Geskiedenis-slaggat getrap het, kan ek stappe neem om myself weer daar uit te kry. Ek kan vir myself in die spieël kyk en met myself praat soos met Ruan. ‘Hou op om in die verlede tyd oor jou lewe te praat. Jou lewe het nie ‘uitgedraai’ nie. Dis nog besig om te ontvou.”
Hier is ’n oefening: Gaan sit een of ander tyd en maak ’n lys van al die goeie dinge wat aan jou verander het oor die afgelope tien jaar. (Nie die nare goed nie, daaraan kan ons op ‘n ander dag dink.) Selfs al was dit ’n dekade vol uitdagings, is daar ‘n goeie kans jy het geestelik of intellektuele gegroei. Jy het dalk ’n beter perspektief en verstaan van hoe die lewe werk. Jy verstaan jouself beter en het dalk een of twee talente of belangstellings ontdek waarvan jy voorheen nie eens sou kon droom nie. Jy het meer deernis of nederigheid of ‘n magdom ander deugde geleer.
Maak dan jou oë dan ’n oomblik toe en verbeel jou jy is weer die ou jy van 2012. Hoeveel van daardie dinge sou jy toe kon voorspel het? Hoeveel van jou inisigte en jou groei en jou wysheid het jy toe al sien kom?
My vermoede is jy het in 2012 gedink jy is klaar deur die lewe gevorm en jy gaan maar op dieselfde noot voortkarring.
Kyk dan of jy jouself vooruit kan dink na 2032. Wie gaan jy dan wees? Wat gaan jy dan oor jouself weet wat jy in 2022 nie eens kon droom nie? Watter ontdekkings gaan jy oor jousself en die wêreld gemaak het?
’n Magdom vol.
En dis net die innerlike groei. Daar wag ook ’n magdom ontdekkings oor jou eksterne wêreld wat jy jou nou nog nie nie eens kan indink nie. Die kans is redelik goed dat jy in die volgende dekade die stokperdjie gaan ontdek wat jou meer vreugde as enigiets vantevore gaan besorg. Dalk gaan jy oor vyf jaar die beste soen kry wat jy ooit gekry het. Dalk moet jy nog die mooiste liedjie hoor wat jy nog ooit gehoor het. Daar is geen enkele logiese rede hoekom al jou hoogtepunte in jou verlede eerder as jou toekoms sal lê nie.
Die enigste ding wat ons met sekerheid van ons toekoms weet, is dat dit anders gaan uitdraai as wat ons verwag. Anders, trouens, as wat ons ons kan indink.
So hou oop jou hart.
Gee die toekoms ’n kans.
Jou storie is nog nie klaar nie.