’n Rare ding gebeur so maand gelede met my.
Ek gaan stap ’n entjie in die Sewe Damme-reservaat, net hier noord van Bloemfontein toe ek meteens vanuit die bosse naby die paadjie ’n hartstogtelike geween hoor.
Die owerhede van die Sewe Damme-reservaat maan mens om nie die wandelpaadjies te verlaat nie, maar hoe gemaak as dit klink asof iemand daar tussen die bosse in die moeilikheid is?
Ek stap ’n paar treë die veld in en agter ’n doringbos gewaar ek iets wat ek nooit in my lewe sou kon dink my pad sou kruis nie:
’n Slang wat hartverskeurend lê en snik.
Het jy al ooit ’n slang sien huil? Hy huil oopmond, mens kan maklik dink hy strek sy kake om te byt. Die trane rol by sy slangwangetjies af. Sy hele lang lyf ruk soos ’n Kreepy Krawley se pyp.
“Wat makeer slang?” vra ek besorg voordat ek myself kon keer.
(Die geskiedenis leer ons mens moet nooit met ’n slang ’n gesels aanknoop nie. Ons sit nou nog met die gevolge van die laaste keer dat iemand dit gedoen het. Maar jy kan ook nie iemand ignoreer wat duidelik swaarkry nie.)
“Ag menssssss,” snik die slang deur sy trane. “Iets vreessssssslik het gebeur. My vel het afgeval!”
Dis toe dat my oog val op die stuk vaal slangvel wat ’n ent van hom op die grond lê. Ja wragtag, die slang moes vervel het kort voordat ek by hom aangekom het.
“Ag kan jy my nie asssssseblieftog help om my vel weer aan te trek nie! Ek het al probeer om daarin terug te klim, maar disssss te knap, dit wil nie meer passssssss nie.”
Die vel wat op ’n hopie eenkant gefrommel lê, lyk inderdaad of dit ’n paar nommers te klein vir die arme reptiel is. Ek wil hom nie in die gesig vat nie, maar dit is boonop ook nie ’n mooi vel nie, vaal soos iets wat dood gegaan het, sigbaar vol vlooie en – as my oë my nie bedrieg het nie – ’n bosluis of twee.
“Slang,” sê ek met deernis in my stem, “daai vel sal jou nie pas nie. Jy het dit waarskynlik soos enige goeie slang ontgroei, toe vervel sodat jy ’n nuwe vel kan kry.”
“Ag nee!” sis die slang terwyl sy hele lyf van skrik op ’n knop trek. “Wat gaan ek sonder my vel doen! Allessss voel sssseeer en ssssensssssitief. Wat sal gebeur as ek nooit ’n nuwe vel groei nie! Wat as ek vir altyd kaal deur die veld moet ssssseil?”
Ai, dit moet vreeslik wees om ’n slang te wees. Jou koppie is so klein dat jy nie die mees basiese biologie kan verstaan nie. Ek buk by die slang en verduidelik mooi:
“Slang, daai vel wat daar eenkant lê, het lankal te knap vir jou geraak, dis waarskynlik hoekom dit jou die laaste ruk so geknyp het. Dis ook al grotendeels dood, dis hoekom dit so vaal is. Jy moes dit afgeskud het. Ek weet jy is bang vir die toekoms, ek weet jy glo jy sal nooit weer ’n vel hê nie. Maar ek is hier om dit namens jou te glo. Ek het al genoeg boeke oor slange gelees om te weet jy sal weer ’n vel kry en dit sal mooier, blinker en gemakliker wees as wat jy jou nou kan indink.”
Die slang wil niks van my stories weet nie. Hy lig meteens sy kop, draai in my rigting met sy kake selfs wyer oopgestrek en begin blaas. Die arme reptiel wil nou net sy frustrasies op iemand uithaal, besluit ek, en maak myself uit die spore.
***
Die navorser en spreker Brené Brown praat van ’n ding waardeur ons almal soms gaan en wat sy die “morsige middel” noem. Ek vermoed hier vroeg in 2022 sit baie van ons in ’n morsige middel.
Dis wat gebeur as die ou normaal verby is, maar die nuwe normaal het nog nie mooi ingeskop. Jy het jou ou lewe agtergelaat, maar die nuwe lewe wat sy plek moet inneem, wil net nie lekker aan die gang kom nie.
Gaan jy weer op kantoor moet werk? Gaan jou kinders by die nuwe leermodel aanpas? Was jou besluit om platteland toe te trek die regte een? Was daai egskeiding die regte besluit? Wanneer gaan jou nuwe onderneming nou ’n wins toon?
Baie mense gebruik hier met die aanvang van 2022 die frase “versigtig optimisties” – hulle dink dis uiteindelik die jaar dat iets nuut kan ontkiem in die woestyn wat die laaste paar jare van baie van ons lewens gemaak het. Wanneer daardie nuwe ding sy opwagting maak, sal ons baie gelukkig wees.
Maar tussen die hartseer van afskeid en die vreugde van nuwe seëninge, is daar ’n lang uitgerekte tyd van onsekerheid. Die morsige middel.
In die beroemde “hero’s journey” waarin die mitologie-kenner Joseph Campbell die proses van geestelike groei beskryf, vertel hy van iets soortgelyk. Die lewe bestaan nie net uit die afskeid van ou dinge en die verwelkoming van nuwes nie, vertel Campbell. Daar is soms lang tye tussen afskeid en verwelkoming. Dis tye van wag, twyfel, vrees.
My slangvriend daar in Sewe Damme was in die morsige middel toe ek hom die eerste keer ontmoet het. Hy het gedink hy sal nooit weer iets kry in die plek van wat hy verloor het nie. Trouens, die onsekerheid het hom so bang gemaak dat hy teruggehunker het na sy knap, vlooi-oortrekte, dooie vel. Enigiets sal beter wees as om nie te weet wat volgende gaan gebeur nie.
Dalk het jy die laaste ruk ook van ’n ou lewe afskeid geneem. En dalk begin jy nou wens jy kan na jou ou lewe terugkeer net sodat jy nie meer so onseker hoef te voel nie.
Jou huwelik is oor. Jy weet nie of jy ooit weer lief gekry sal word nie, die onsekerheid is so ondraaglik dat jy selfs al begin terughunker na jou toksiese ou huwelik.
Jy het dalk jou werk in die korporatiewe wêreld gelos om ’n nuwe lewe as entrepreneur aan te pak. Dié entrepreneurskap lewer nog nie vrugte nie en jy is gevaarlik naby daaraan om hoop te verloor, om terug te wil keer na jou ou lewe.
Dalk het jy ’n gesondheidsknou weg. Jy het nie meer die liggaam wat jy destyds geken het nie en jy twyfel of jy ooit in hierdie nuwe liggaam van jou tuis sal leer voel.
In die donker middel sê mense dinge soos “Ek sal nooit weer gelukkig wees nie” of “Ek wens ek kon net weer terug gaan na hoe dinge was”.
Die geld is min, die aande is eensaam en jy voel – nes ons reptielvriend – nie meer tuis in jou vel nie.
***
So, wat doen jy in die morsige middel?
Hier is ’n driepuntplan:
- Herken dit
Dit help baie as mens ’n fenomeen soos die morsige middel ’n naam gee. Dan besef jy dis net ’n doodnormale reaksie wat baie mense beleef.
Praat gerus met entrepreneurs. Of met mense wat weer liefde gevind het nadat hul huwelik misluk het. Of met mense wat met gestremdhede leer saamleef het. Of enigiemand anders wat ’n nuwe lewe moes bou.
Hulle almal was daar. Daar is niks met jou verkeerd as jy in jouself twyfel en soms naby moedverloor is nie. Dit is nie abnormaal nie en dis beslis nie in alle gevalle ’n aanduiding dat jy moet opgee nie.
2. Hou op om alles te glo wat jou gevoelens jou vertel
Herinner jy jouself dat mens nie jou gevoelens met die werklikheid moet verwar nie.
Kom oor die ding dat jy altyd jou “gut” wil glo. Die vrees en hopeloosheid wat hulself in jou derms kom tuismaak, kan soms lekker lieg.
Sê vir jouself die volgende sin hardop: “Net omdat ek hopeloos vóél, beteken dit nie my situasie ís hopeloos nie.”
Die hopeloosheid of vrees wat jy voel, is nie ’n teken dat jy moet opgee nie, dis bloot net nog een van die uitdagings op jou reis – soos die finansiële of emosionele of gesondheidsuitdagings. Praat met ’n terapeut of coach as jy moet. Maak ’n vyfpuntplan. Benader dit met dieselfde nugtere en praktiese ingesteldheid as waarmee jy enige ander probleem sou takel.
Soos die arme slang sonder ’n vel, is ons almal bietjie dom in die morsige middel. Ons begin dink ons negatiewe gevoelens is die objektiewe werklikheid (dit is nie), dat ons vrees vir ons moet voorskryf hoe ons moet leef (dit hoef nie).
3. Kry iemand om jou hoop te help vashou
Een van die beste dinge wat ek geleer het toe ek al daar was, is die volgende: Wanneer jy nie meer die lig kan sien nie, is daar altyd iemand anders wat dit wel kan sien. Vind daardie mens. Iemand wat jou hoop vir jou kan vashou terwyl jy dit self verloor het. Iemand wat nog die prentjie kan sien van wie jy eendag kan wees.
Nou is die tyd om twyfelaars en siniese mense te vermy. Jy het iemand nodig wat vir jou kan doen wat ek vir die slang probeer doen het. Iemand wat vir jou kan sê: “Ek weet jy voel verlore. Ek weet jy is oorweldig en jy kan nie die lig sien nie. Maar ek weet dis daar. Ek hoop jy kan my glo.”
***
Raai wat!
Die pas afgelope naweek stap ek weer deur die Sewe Damme-reservaat. Ek loop verby dieselfde bos waar my hartseer ou vriend sy slangtrane gestort het.
Ek hoor niks, maar dis ’n goeie teken. ’n Stil slang is ’n gelukkige slang. Hulle sis net as hulle ontevrede is.
En dan sien ek hom. Oftewel ’n stukkie van hom. Die punt van sy stert wat onder die bos in verdwyn, soos wat enige gesonde slang maak as ’n mens nader tree.
En glo my – as die res van sy lyf gelyk het soos daardie puntjie – gedek in ’n skubberige, blink en goue vel – dan was hy een baie gelukkige slang.
***
As jy in die morsige middeljaar van 2022 saam wil gesels oor mindfulness, meditasie en allerlei dinge wat daarmee verband hou, kan jy gerus op die blydskap-nuusbrief inteken deur hier te klik. Daar kom vanjaar werkwinkels (aanlyn en in die vlees) en opwindende nuwe mediaprojekte waarvan ek nou nog nie mag vertel nie.
Kom ons hou mekaar geselskap totdat ons weer almal mooi tuis is in ons nuwe velle.
***
As jy meer oor positiewe sielkunde en bewustelikheid wil lees, kan jy die Blydskap-boek aanskaf. Dis in boekwinkels, maar jy kan dit ook by my bestel – R350 sluit Postnet-to-Postnet-aflewering in. Skryf aan johannes@blydskap.com
Dit is ook as e-boek vir Kindle beskikbaar (klik hier) en by boekwinkels soos Exclusive Books en Bargain Books.