Toe Amerika Japan aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog verslaan het, moes die Japanse weermag al die lande ontruim wat hulle tydens die oorlog beset het: Birma, Indonesië, ’n magdom eilande en die Filippyne.
Net in een hoek van die Filippyne het iemand vasgeskop. Vier baie lojale Japanse soldate het geweier om te glo hul land het oorgegee. En selfs al het die sonkeiser oorgegee, sou hulle nie, het hulle besluit. Hulle sou as die laaste uithoekie van die Japanse keiserryk aanhou veg.
En so het een van die merkwaardigste verhale van die Tweede Wêreldoorlog begin. Die vier soldate het teruggeval in die Filippynse oerwoud en vir die daaropvolgende drie dekades die oorlog voortgesit. Die Filippynse regering was bewus van hulle, maar die vier Japanese was so goed opgelei in guerilla-oorlogvoering dat hulle enige soldate platgeskiet het wat hulle in hegtenis wou neem.
In die middel 50’s het een van die vier moed verloor en aan die Filippyne oorgegee. ’n Ander een is rondom dieselfde tyd aan natuurlike oorsake dood. ’n Derde een is in 1972 tydens ’n vuurgeveg met die Filippyne doogeskiet.
Die heel laaste een – Hiroo Onada – het egter tot in 1974 vasgebyt voordat hy uiteindelik sy wapens neergelê het. Toe hy die oerwoud verlaat (byna 30 jaar ouer as wat hy daar ingestap het), was sy vuurwapen nog in ’n uitstekende toestand en hy was geklee in sy skoon imperiale krygsuniform.
Wat toe gebeur het, is die mooiste deel van die storie: Baie mense sou rede hê om Hiroo Onada te haat. Hy het geveg namens ’n fascistiese regering (bondgenoot van Hitler) wat niemand in 1974 meer bewonder het nie. Hy het baie ander mense in sy 28-jarige guerilla-oorlog geskiet.
En tog is hy in sowel die Filippyne as Japan met baie respek behandel. Die Filippynse president het hom van vervolging kwytgeskeld en in Japan is hy beskou as ’n wyse gryse wat vir kinders kampe aangebied het. Eerder as om hom te verwyt, het mense hom geloof vir sy getrouheid en vasberadenheid.
Die Japanese het ’n spesiale titel gehad vir Hiroo Onada – en ’n paar ander soldate wat oor die jare in oerwoude op Stille Oseaan-eilande die oorlog eiehandig voortgesit het: “Lojale krygers” .
***
Nou waar val ek vandag uit met dié storie?
Ek dink baie van ons het lojale krygers in ons gemoed wat oorloë veg wat lankal verby is. Ons moet soos die Japanese en die Filippyne leer om hulle te eer eerder as om hulle te verwyt.
So ruk terug gesels ek met ’n vrou wat deur ’n hartverskeurende wrede ervaring is. Sy was ’n jong meisie, nog skaars ’n tiener, toe sy verkrag is. In daardie jare – die 1980’s – was mense nie so slim soos vandag met traumaberading nie, niemand het haar vir terapie geneem nie. Sy moes alleen aan ’n geestelike wond dra wat baie volwasse mense sou knak.
Op die ouderdom van 14 het sy ’n plan beraam om die ondraaglike pyn te stil: Sy het begin drink. Eers was dit wyn uit haar pa se drankkabinet. Later het sy snags uit die huis geglip en na kroeë gegaan waar ouer mense vir haar drank gekoop het. Teen matriek het sy maklik ’n bottel wyn soggens voor skool weggeslaan.
Haar storie het ’n gelukkige einde: In haar dertigerjare, ná twee dekades se volslae alkoholisme, het sy professionele hulp gekry, drank laat staan, en deesdae inspireer sy baie mense deur haar verhaal van heling te deel.
Terwyl ek en sy oor haar reis gesels het, het ’n liggie by my aangegaan. Alkohol was haar lojale kryger!
Het sy ooit al daaraan gedink om vir haar verslawing te buig en dit te bedank vir wat dit vir haar gedoen het? het ek hardop gewonder. In ’n tyd toe sy geen ander hulp kon kry nie, toe sy besef het sy sal breek as sy langer haar pynlike emosies moet voel, het sy die baie wyse ding gedoen om ’n verdowingsmiddel uit haar pa se drankkabinet te grawe en die gevoelens stil te maak voordat dit haar verwoes. Sy was ’n wyse jong 14-jarige wat self die hulp gaan vind het wat niemand anders haar kon gee nie.
Die probleem is dat die alkohol soos ’n Japanese soldaat in die Filippynse oerwoud aangebly het lank nadat sy tyd verby was.
Toe sy genoeg tyd tussen haar en haar trauma gesit het om met die emosies te kan begin werk, het haar lojale kryger (drank) ongelukkig te lank vasgebyt en baie destruktief geraak. Maar dit beteken nie dit was op ’n stadium die enigste en beste oplossing tot haar beskikking nie.
Kan sy dus vir haar drankgebruik buig en dit bedank vir die hulp wat dit haar eens op ’n tyd gegee het – en dit dan toelaat om nou rustig die wapen neer te lê en af te tree?
Dit klink seker omstrede en ek verwag baie mense sal met my stry. Maar daar gebeur iets as jy begin om elke ding in jou lewe – selfs die mees negatiewe en destruktiewe gewoontes – te sien as iets wat op ‘n stadium ’n uitdrukking van jou diepste innerlike wysheid was, maar wat net te lank rondgehang het.
’n Ruk terug het ek besef daar is ’n persoon wat ek met my hele hart en siel haat. Dié persoon en ek het op ’n stadium saam besigheid gedoen, maar sy was ’n baie destruktiewe mens wat my ’n klomp geld gekos en my besigheid baie skade gedoen het. Flippit, as ek net aan daai mens dink, staan die hare op my nek orent en vloek ek onder my asem. Ek kan haar nie verdra nie.
My eerste reaksie was om skuldig te voel dat ek ’n ander persoon so haat. Haat is tog die een emosie wat nooit mooi of reg kan wees nie.
Maar toe vra ek myself af: Wat as daai haat iewers lank gelede ook maar net ’n uitdrukking van my diepste wysheid was? Wat as daar iemand was wat my en die mense rondom my baie skade aangedoen het, en my gees het verhard om te keer dat daardie persoon ooit weer naby my kom en soortgelyke skade aanrig. Dit was net my gees se manier om my te probeer verdedig.
Die probleem is dat daardie beskermingsmeganisme ’n lojale kryger geword het. Dit het in my gemoed rondgehang lank nadat daardie persoon al na ’n ander land verhuis het en my geen meer kwaad kan aandoen nie. Trouens, nou doen die haat my self kwaad aan, want dit laat my soms wakker lê en nare gedagtes dink wat my net stres gee – soos ’n verwarde soldaat wat aanhou veg teen ’n vyand wat lankal nie meer bestaan nie.
Dis dalk tyd vir daardie soldaat om sy wapen neer te lê en die oerwoud te verlaat.
***
Maak die beginsel sin? Baie goed wat ons dink boos is, is iets wat op ’n stadium regtig gehelp het, maar net te lank rondgehang het.
Vra jouself vir watter aspek van jou lewe of persoonlikheid jy jouself kastei. En vra dan of jy nie eerder soos die Japanese in Hiroo Onada se geval daardie kryger vir sy harde werk kan bedank en hom mooi kan vra om nou maar die wapen neer te lê nie.
Dalk sukkel jy met chroniese angstigheid. Deesdae weet ons angstigheid ontstaan as jy iewers in jou verlede deur ’n traumatiese tyd gegaan het (dalk in jou ouerhuis, dalk elders) waar jy die heeltyd op die uitkyk moes wees vir gevare wat jou bedreig het. Jou diepste innerlike wysheid het jou destyds geleer dat jy paraat moet wees, dat jy altyd die ergste moet verwag, want dit was ’n realistiese beskermingsmeganisme. Daar is niks met jou verkeerd dat jy so voel nie.
Maar nou is daai bedreiging verby. Jou kwaai pa of die skoolboelies of die geweld in jou grootwordbuurt is nie meer in die omtrek nie. Jou angstigheid is nou ’n lojale kryger wat ’n oorlog veg wat lankal verby is. Bedank dit opreg vir die bedrae wat dit eens gelewer het om jou te beskerm, en stel dit gerus dat dit nou al kan aftree.
Ek steek dalk my nek nou baie ver uit, maar in sommige gevalle kan depressie ook ’n uitdrukking van jou wysheid wees. Baie mense gaan deur tye in hul lewe waar die stres, die hartseer of die teleurstelling so pynlik raak, dat hul gemoed ditself verdoof – hulle gaan deur ’n tyd wat hulle nie meer emosies kan voel nie, afgestomp asof hulle onder emosionele narkose is, want dit is veiliger as die wrede emosies wat op daardie stadium dreig. (Baie soos ’n dier wie se lyf verdowingsmiddele afskei as dit lewendig in die kake van ’n roofdier beland het.)
Dis sekerlik nie maklik nie, maar kan jy jou depressie bedank vir die tyd toe dit jou opreg deur ’n moeilike fase in jou lewe probeer help het, toe dit die ander wrede emosies kom verdoof het wat gedreig het om jou te vernietig? En kan jou ook dié lojale kryger dan toestemming gee om die wapen neer te sit en af te tree?
Uiteraard gaan jy nie alkoholisme, haat, chroniese angstigheid, depressie of enige ander geestelike stryd sommer so met ’n wilsbesluit en ’n “dankie-vir-jou-diens” tot bedaring bring nie. Jy sal dalk ’n lang pad van innerlike werk moet stap en selfs professionele hulp moet inroep.
Maar dit voel tog na ’n goeie begin. Ons kan tog so dikwels skuldig voel oor ons emosies en ons gewoontes. As ons net onsself kan herinner dat al die monstertjies wat ons gemoed teister, elkeen van hulle, eens op ’n tyd ’n uitdrukking van ons wysheid was wat ons wou help, kan ons ten minste die gepaardgaande skuld, selfverwyt en minderwaardigheidsgevoelens neersit – en dan is ons ’n hele ent nader aan heling.
Daar is niks met jou verkeerd omdat jy die gevoelens voel wat jy voel nie! Party van hulle het net te lank vasgehak.
So hier is ’n oefening: Vra jouself watter aspek van jou persoonlikheid gee jou stres en probleme. En eerder as om jouself te kastei, vra of dit nie dalk eens op ’n tyd ’n uitdrukking van jou innerlike wysheid was nie. ’n Oorlewingstrategie wat net ongelukkig te lank aangehou het. Sê dankie vir jou lojale krygers. Laat vaar die skuld en die blaam.
En doen dan die werk om te verander. Gun daai ou Japanees ’n rustige aftrede noudat sy diens nie meer nodig is nie.
***
Die nuwejaar is op ons en hierdie is moontlik die laaste keer dat ek in 2022 vir jou skryf. Onthou om goed uit te rus. Ons almal het 2022 met ’n halwe tenk begin, dis heeltemal verstaanbaar as jou brandstof nou op is. Maak tyd vir selfsorg en rus.
Deur die Feestyd en daarna sal ek Amore Bekker ons weeklikse blydskap-geselsies op RSG voortsit – elke Woensdagoggend om 9:30vm op Alhoebekker, RSG. Klik hier vir ’n argief van ons vorige geselsies.
In 2023 beplan ek ’n reeks blydskapleerskole regoor Suid-Afrika heen waar ons oor mindfulness en positiewe sielkunde gaan gesels, elke keer in ’n koffiewinkel, op ’n Saterdagoggend. Daar sal bietjie teorie wees, maar ook praktiese oefening wat jy kan inoefen om meer bewustelik en deernisvol te lewe.
Daar is reeds planne vir werkwinkels in die Paarl, Hermanus en George. Ek kyk ook na plekke in Gauteng en Noordwes. Die datums sal binnekort op my webwerf en op sosiale media wees.
Hier is solank ’n advertensie vir die Paarl-sessie in Januarie:
As jy ’n blydskap-leerskool in jou omgewing wil help organiseer, skryf asseblief aan my by johannes@blydskap.com en laat ons planne maak!